Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Dragtige kobra ‘ontdooi’ in warm bad

Yskoud, met ’n lyf vol swangerskaphormone en met jillende mans wat haar uit haar semi-winterslapie wakker maak, was genoeg rede vir enige “meisie” om haar stert in ’n krul te trek.

Die dragtige en koulike Kaapse kobra het egter weens die snerpende koue in Worcester nie baie sonkrag-energie gehad om spore te maak nie. Toe lig sy maar haar bakkop om almal te maan: Sy is nie in die beste bui nie.

Ná ’n lekker warm bad pronk die Kaapse kobra op die Du Preez-egpaar se Cobra-krane voor die spieël. Foto: Silverfox Snake Rescues

Die feit dat sy daarna – in die winterkoue – agterop ’n motorfiets moes ry om haar lewe te red was ook nie bevorderlik vir haar gemoedstoestand nie. Net ’n warm bad in die “Du Preezs se eie badkamer” kon haar hart en koue lyf ontdooi. En, voeg André du Preez van Silverfox Snake Rescues by, hy sou badskuim ook bygesit het as dit sou help troos.

Die sowat 1,8 m lange slang het vermoedelik in ’n pyp op ’n bouterrein skuiling teen die sneeu en reën probeer vind toe die werkers en laaigrawe haar Woensdag ’n skrik op die lyf gejaag het.

“Suid-Afrikaanse slange gaan in die winter in semi-hibernasie. Hulle is hipotermies en as die son uitkom, kom hul gou uit om te bak om hul liggaamstemperatuur weer te lig en met hul kos se vertering te help. Hulle hou niks van koue nie en hier by ons het die sneeu wit op die berge gelê.”

Woensdag kry hy ’n oproep van Ace Mohlaotsana, die terreinvoorman: Daar is ’n slang “wat sy kop optel” op die terrein.

Du Preez se motor is in vir herstelwerk en hy moes met sy motorfiets ry, wat beteken het dat hy nie sy toerusting om die slang te vang kon saamneem neem nie.

“Die groter probleem was dat dié slang onbeskerm in die verskriklike koue is met die moontlikheid dat iemand haar gaan doodmaak. Die nood het gedruk en die slang was in ’n krisis,” sê hy.

Gewapen met ’n sterk rugsak en ’n PVC-pyp van 40 cm is hy op die motorfiets na die bouterrein.

“Die plek het soos ’n moeras gelyk. Sy was in modder en water. Dit moes vrek koud vir haar gewees het. Sy was verdedigend aggressief, maar nie baie aktief nie. Shame.”

Hy het die kobra sover gekry om in die pyp te klim, wat heeltemal te kort was. Sy het haar soos “spaghetti daarin opgekrul".

Die pyp moes in Du Preez se rugsak vervoer word. Hy het die rit huis toe – vermoedelik met ’n effense hol rug, al glo hy slangtande kan nie deur ’n rugsak slaan nie – “dalk” so effens vinniger as gewoonlik aangepak, erken hy.

Die 40 cm lange pyp waarmee André du Preez die 1,8 m lange slang moes vang. Foto: Silverfox Snake Rescues

Tuis het hy die slang ondersoek en vermoedelik eiers in haar gevoel.

“Toe tap ek maar vir haar ’n lekker louwarm bad om in te ontdooi, want alle slange kan swem,” sê Du Preez vertederend.

Tien minute later het hy saggies die badkamerdeur oopgestoot. Die kobra het uitgestrek gelê, met die lyf wat net soms kronkel-kronkel in ’n toonbeeld van saligheid. Toe sy bewus word van Du Preez, is sy met oordrewe esse teen die bad se rand uit en het haarself voor die toegewasemde spieël oor die Cobra-krane gedrapeer. Die warm bad het duidelik gehelp om die koue uit haar lyf te weer.

Donderdag het sy nog op ’n warmwatersak ontspan, in afwagting op aandete.

Meer oor:  Worcester  |  Kaapse Kobra
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.