Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Dramatiese reddingspoging in watermassa

Polisieduikers het Maandag, ondanks ’n waterstroom so sterk dat dit ’n lamppaal gebreek het, ses mense – sowel as hul inkopiepakkies – uit ’n voertuig in Bronkhorstspruit gered.

Nóg nege mense is ook deur die dag van verskillende hoewes in dieselfde omgewing gered toe hulle deur water vasgekeer is.

Dit volg nadat onophoudelike reën ook Bronkhorstspruit, oos van Pretoria, in ’n watermassa omskep het.

Teen Maandagmiddag het die Bronkhorstspruitrivier wat verby die dorp se gholfbaan en onderdeur die hoofstraat vloei, bruisend oor die brug begin stroom.

Ooggetuies het vertel dat die rivier “net skielik” Kerkstraat “verswelg” het.

“ ’n Silwerkleurige voertuig het nog probeer oorry, want die watervlak het nie so diep gelyk nie. Toe skielik word dit diep en vrek die kar,” vertel een.

Lede van die gemeenskap het probeer help, maar die watervloed was so geweldig sterk dat die polisie se watervleuel ontbied is.

’n Bondel hiasinte vloei saam met die waterstroom oor die pad en tref ’n lamppaal. Foto: Skermgreep
Die geweld waarmee die hiasinte en water ’n lamppaal in Kerkstraat, Bronkhorstspruit, tref, is so erg, dat die paal breek.Foto: Skermgreep
Polisieduikers en gemeenskapslede help die insittendes van ’n vasgekeerde voertuig al met die reling langs na veiligheid. Foto: Verskaf
Polisieduikers klou aan ’n ankertou vas sodat hulle nie saam met die water meegesleur word nie, terwyl hulle die insittendes in ’n motor in Kerkstraat, Bronkhorstspruit, red. Foto: Verskaf
Een van die insittendes van die motor wat in die vloedwater vasgevang is, word na veiligheid gelei.Foto: Verskaf

Die duikers moes ’n ankertou aan ’n voertuig, wat op “vaste grond” was, bind en met dié se hulp hul weg na die motor vind.

Hulle moes selfs by tye aan die reling langs die pad, wat nou soos ’n rivier gelyk het, vasklou om te keer dat hulle self wegspoel.

’n Bondel hiasinte het met soveel krag en spoed oor die pad gestroom dat dit ’n lamppaal soos ’n vuurhoutjie gebreek het.

Die polisie en gemeenskapslede het toe ’n “menseketting” gevorm waar hulle agter mekaar, teen die reling langs van die voertuig af tot by droë grond gestaan het.

By die voertuig is die beangste insittendes een vir een uitgehelp en “aangegee” na die volgende persoon.

Almal is na veiligheid gelei, die inkopies, waarvoor hulle spesiaal ’n saamrygeleentheid dorp toe geneem het, inkluis.

Meer oor:  Bronkhorstspruit  |  Oorstromings  |  Kitsvloede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.