Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kyk: Ek wil kansel toe soos jy, Dad

Sewe jaar ná haar eerste besoek aan ’n NG gemeente is Char­lotte Sibanyoni (24) self ’n dominee en goed op dreef om ’n doktorsgraad in die teologie te verwerf.

“Toe ek in 2011 die eerste keer by ’n NG kerk instap, het die hele gemeente omgedraai en na my en my vriendin, Marilie (Lily) Boshof, gestaar.

“Later tydens dieselfde diens, toe die dominee vra of daar iemand is wat sy of haar hart vir die Here wil gee, het die gemeente wéér omgedraai en na my gestaar.”

Sibanyoni, geklee in ’n helderkleurige Ndebele-rokkie wat haar straatverkoper-ma gemaak het, lag uit haar maag: “My professors sê ek is die eerste swart proponent in die geskiedenis van die NG kerk”.

Sy het vanjaar begin met haar doktorsgraad in die teologie en is op 8 November in die NG gemeente Universiteitsoord gelegitimiseer en toegelaat tot die bediening.

‘ ’n Ongelooflike jong vrou.’

“Sewe jaar nadat daardie gemeentelede so na my gestaar het.”

’n Vasberade Sibanyoni het die struikelblokke op haar lewenspad oorkom. “Ek het beurse gehad van Jacaranda FM se Goodmorning Angels, die NG kerk se kuratorium en die J&W-opvoedkundestigting, maar ek moes steeds los werkies doen om te oorleef,” vertel sy.

“Dan vra een van my meer bevoorregte klasmaats my hoekom ek nooit by die klas is nie en ek sê, want ek moet werk, jou nar!”

Dié slimkop kom oorspronklik van Mamelodi en woon deesdae in Moreletapark in Pretoria. Sy wil by Tuks klasgee wanneer sy haar studies voltooi het.

Charlotte en haar oorlede “dominee-pa”, ds. Johan van Niekerk.

“Ek sal die kerk nooit heeltemal los nie. Ek sal graag nog op ’n vryskutbasis wil preek as daar gemeentes is wat my nooi.”

As kind het sy geen drome van dominee-word gekoester nie. Dit was eers in haar gr. 11-jaar wat dié deur in haar kop oopgegaan het.

“Ek wou netbal speel. Ek was mal oor die sport en het vir myself ’n toekoms daarin gesien.”

Dit was voor haar en Marilie se besoek aan die NG gemeente Concordia waar sy haar toekomstige “dominee-pa”, Johan van Niekerk, sou ontmoet.

“Hy het my so ’n week later gebel en vir koffie genooi. Toe ons so sit en koffie drink, wou hy weet wat ek vir die Here vra as ek bid,” sê sy.

“Ek sê toe ek kan vir hom ’n hele lys maak: Hoekom moes ek vir ’n tyd in ’n kinderhuis bly, of in ’n shack in Mamelodi? Ek soek nuwe hoëhakskoene of ’n ordentlike huis vir my, my ma en my twee sussies. Daar is só baie dinge.”

Sy en die dominee het goeie vriende geword.

“Hy bel my toe eendag en sê hy het sy kantoor na die motorhuis geskuif. Daar is nou ’n kamer oop in hulle huis en ek moet asseblief by hom en sy vrou, Rina, intrek,” sê Sibanyoni.

Sy was in gr. 11 en ds. Johan en Rina het vir haar soos nog ’n stel ouers geword. “Hy vra my toe uit die bloute wat ek wil word, toe sê ek ’n dominee soos Dad. En toe was dit maar so.”

Vandag is Sibanyoni by die Lux Mundi-gemeente in Pretoria betrokke.

“Een van die gemeentelede het vir my en my ma hierdie meenthuis (in Moreletapark) beskikbaar gestel,” sê Sibanyoni.

Vir ’n oomblik raak sy stil en haar oë water. “My dominee-dad is in 2014 aan ’n hartaanval oorlede. Die aand toe ek tot die bediening toegelaat is, het iemand by die geleentheid gesê, ‘dominee Johan sou baie bly gewees het as hy nou hier kon staan’, en toe vloei die trane.”

Sibanyoni het in 2016 haar BTh-graad en in 2017 haar MDiv-graad (met die fokus op die Ou Testament) behaal. Vanjaar het sy ingeskryf vir haar doktorsgraad (met haar fokus op die boek Prediker).

“Ek is mal oor Prediker. Veral Prediker 3:12 en 13. Dit het my laat dink oor die lewe en die mens se beheptheid met rykdom versamel,” sê Sibanyoni.

Later, ná die onderhoud, vat sy Rapport na haar ma, Maria Mahlangu (47), se stalletjie op die hoek van Windsorstraat en Atterburyrylaan in Pretoria.

Dr. André Bartlett, moderator van die NG kerk se Hoëveld-sinode, is vol lof vir die nuwe dominee.

“Sy is die eerste swart Afrikaan om ooit by die NG kerk tot die bediening toegelaat te word. ’n Ongelooflike jong vrou en beslis iemand met ’n boodskap en ’n storie om te vertel,” sê Bartlett.

Meer oor:  Char­Lotte Sibanyoni  |  André Bartlett  |  Predikant  |  Lux Mundi  |  Ng Kerk  |  Vroue
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.