Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Emosionele terugkeer vir Megan ná Kaap-Kaïro-reis

In Egipte was haar pa daar om vir haar die styfste en liefdevolste drukkie te gee, maar met haar terugkoms in Suid-Afrika het sy na daardie “beste drukkie in die wêreld verlang”.

Só het die 17-jarige Megan Werner, ’n gr. 12-leerling van die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp, Sondag met haar aankoms op die Lanseria-lughawe in Johannesburg gesê.

Megan het onlangs internasionaal nuus gemaak toe sy en ’n groep tieners hul eie Sling 4-­vliegtuig aanmekaargesit en van 13 Junie tot 8 Julie daarmee van Kaapstad oor Afrika tot in ­Kaïro gevlieg het as deel van die U-Dream Global-projek.

’n Tragedie het egter die span getref.

Cindy Werner (21), Belinda Werner, vrou van wyle Des Werner, Nadia Froneman, vrou van wyle Werner Froneman, hul vier maande oue baba, Kiara, en Megan Werner. Foto: Deaan Vivier

Megan se pa, Des Werner (49), en Werner Froneman (39), direkteure van dié organisasie, is Saterdag 3 Augustus met hul terugkoms na Suid-Afrika dood toe hul vliegtuig naby die Tabora-lughawe in Tanzanië neergestort het.

Belinda Werner en haar twee dogters, Cindy (21) en, Megan (17,) wens mekaar geluk op die Lanseria-lughawe. Foto: Deaan Vivier

Megan het Sondag gesê dat haar pa haar nommer-een-ondersteuner was en dat hy die persoon is saam met wie sy graag sou wou feesvier, “maar nou is hy nie hier nie”.

Sy en haar medevlieëniers, Driaan van den Heever (18), Calvin Bishop (21), Abel Dlamini (21), Hendrik Coetzer (18) en Agnes Seemela (16), het Sondag ’n heldeontvangs op die lughawe gekry.

Megan het die hartseer nuus oor haar pa se dood op die Likoma-eiland in Malawi ontvang.

“Almal was bekommerd behalwe ek omdat niemand van my pa en Werner gehoor het nie. Ek het gesê my pa het al die ondervinding en het 10 000 vliegure agter sy naam. Later het ek ’n vreemde gevoel gekry dat iets nie reg was nie. Driaan het na my toe gekom en gesê my ma wil met my praat. Ek het toe geweet . . .” sê Megan.

Werner Froneman (links) en Des Werner, direkteure van U-Dream Global, is Saterdag 3 Augustus dood toe hul vliegtuig naby die Tabora-lughawe in Tanzanië neergestort het. Foto: U-Dream Global/Facebook-blad

Megan en Driaan het hul vliegtuig in Malawi gelos en met ’n kommersiële vlug teruggevlieg Suid-Afrika toe vir die begrafnis van twee staatmakers vir wie baie mense lief was.

Megan se ma, Belinda, sê haar man het altyd volhard in dit wat hy gedoen het.

“Hy sou wou hê dat ons die reis moet voltooi. Die jongspan het baie uitdagings gehad, maar nooit tou opgegooi nie,” het Belinda gesê terwyl sy geveg het teen die trane.

Megan, Driaan en Hendrik het Donderdag die vliegtuig in Malawi gaan haal en teruggevlieg om hul reis te voltooi. Die span het Saterdag in Kaapstad geland en Sondag op die Lanseria-lughawe.

Die jong mense het staaltjies oor hul avontuur vertel.

Driaan van den Heever (18) en Megan Werner (17) klim uit die vliegtuig nadat hulle op die Lanseria-lughawe geland het. Foto: Deaan Vivier

Megan en Driaan sê hulle moes alleen oor die oorloggeteisterde Soedan vlieg sonder die ondersteuningsvliegtuig.

“Dit was ’n storie. Met ons aankoms in Egipte is ons vier uur lank aangehou en byna opgesluit deur die militêre polisie omdat die owerhede gedink het ons het nie ons papiere en permitte nie. Dit was nogal skrikkerig. Hulle het ons later laat gaan.”

’n Hartseer Belinda Werner (regs) en haar dogter Cindy (21) omhels mekaar op die lughawe. Foto: Deaan Vivier

Die jongste, Agnes Seemela, sê die duine in Namibië het haar uithouvermoë geleer. “Die lewe is soms moeilik, maar jy moet steeds aangaan, want aan die einde wag daar vir jou ’n pragtige uitsig.”

Sy sê dit voel asof sy twee pa’s verloor het.

Driaan sê wat vir hom uitgestaan het, was toe hulle met jong mense van oor die hele vasteland gepraat het om hulle te inspireer.

Simon Manda, woordvoerder van U-Dream Global, sê hulle is almal trots op Megan en haar span.

“Dit was ’n avontuur. Tussendeur was daar ’n tragedie. Nogtans vier ons dit ter nagedagtenis aan Des en Werner. Dankie ook aan die jong mense wat hoop gegee het aan die kinders van Afrika. Vennootskappe is gebou en ons gaan hierop voortbou.”

Gavin Kiggen, hoof van ExecuJet, sê hulle is trots om ’n borg van die projek te wees. “Dit is fenomenaal wat julle as jong mense vermag het,” was Kiggen se boodskap aan die jongmense.

James Pitman, voorsitter van The Airplane Factory, sê dié jong mense het hom weer nuwe moed gegee.

Megan sê wil sy jong mense met die projek inspireer en die boodskap oordra dat alles moontlik is.

“Daar sal struikelblokke wees, maar alles is moontlik. Ek sal nooit weer saam met hom (haar pa) vlieg nie. Dit is moeilik.”

Vir nou gaan vier van die jong vlieëniers eers hul aandag op hul eksamens toespits. Hulle is ook besig om ’n boek te skryf oor hul avontuur, en daar word ’n dokumentêre prent beplan.

Die vliegtuig is met ’n erewag op die Lanseria-lughawe ingewag. Foto: Deaan Vivier
Meer oor:  Megan Werner  |  Johannesburg  |  Lanseria-Lughawe  |  Vliegtuig  |  Vliegreis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.