Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Foto van kollegas ure voor raaisel-dood
Theo Kleynhans (60), Mario Pretorius (23) en Chari
Theo Kleynhans (60), Mario Pretorius (23) en Chariska Kloppers (30) Vrydagaand in ‘n kuierplek in Pretoria. Die foto is kort na 19:30 geneem. Al drie is Saterdagoggend dood in ‘n huis in Menlo Park gekry. Die vrou wat by die tafel langs Kleynhans sit, se naam word op regsadvies weerhou. Sy is tans in ‘n hospitaal. Foto: Verskaf

Die familie van die enkelma van drie klein kinders van Pretoria wat Saterdagoggend saam met twee kollegas dood in ’n dubbelverdiepinghuis in Menlo Park gekry is, soek antwoorde oor wat tot haar dood gelei het.

Chariska Kloppers (30) se man, Nollie Kloppers, sê hy is baie geskok oor haar raaiselagtige dood.

Die egpaar sou Maandag (vandag) ses jaar getroud gewees het. Hulle is egter besig om te skei.

Kloppers woon en werk in Polokwane in Limpopo, maar het hom Saterdag na Pretoria gehaas toe hy van Chariska se dood uitgevind het.

"Ek het haar Vrydagaand net ná agtuur gebel, maar sy het nie geantwoord nie. Die polisie het my elfuur Saterdagoggend gebel en gesê sy is dood."

Hy moes Maandag haar lyk gaan uitken.

Werner Koekemoer, oudpolisielid en ondersoeker van Mike Bolhuis, private ondersoeker van Pretoria, beweer daar is dwelms in die huis in Menlo Park gekry.

Kol. Nxolo Kweza, polisiewoordvoerder in Gauteng, het gesê sy kan nie sê of daar dwelms in die huis gekry is nie, "want dit sal die polisie se ondersoek beïnvloed".

Chariska Kloppers (30) Foto: Facebook/ChariskaKloppers
Nollie en Chariska Kloppers. Foto: Facebook/Nollie Kloppers
Theo Kleynhans (60) is dood in sy huis in Pretoria gekry.

Kloppers het aan Netwerk24 gesê die ma van sy kinders sou nie by dwelms betrokke gewees het nie.

"Daar is geensins ’n manier dat sy ooit in haar lewe dwelms sou gebruik nie. Sy was nie so ’n tipe mens nie," sê hy.

Chariska is Saterdagoggend dood op ’n stoel van die stoep van die huis in Menlo Park gekry.

’n Kollega van haar het bewusteloos op die vloer van die stoep gelê. Die 32-jarige vrou se naam word op regsadvies weerhou. Sy word in ’n hospitaal in Pretoria behandel.

Kloppers sê hy weet dié vrou is ’n kollega van Chariska.

Chariska en Kloppers het ’n driejarige dogtertjie en twee seuns van onderskeidelik sewe en nege jaar oud. Hulle woon saam met Chariska en haar ma in Pretoria-Tuine.

Die twee vroue wat in die huis in Menlo Park gevind is, was kollegas van die twee mans wat in die huis dood aangetref is.

Mario Pretorius (23) is Saterdag dood in 'n huis in Menlo Park in Pretoria gekry. Foto: Facebook/Mario Pretorius

Theo Kleynhans (60), besturende direkteur van PropMan, oftewel The Property Management Authority of South Africa-eiendomsagentskap, wat veral in deeltitels spesialiseer, is in die gang aan die voet van ’n stel trappe gevind. Hy was reeds dood toe ’n werknemer van hom Saterdagoggend op hom afgekom het.

Mario Pretorius (23), portefeuljebestuurder by PropMan, is ook dood in die gang van die huis gekry. Hy het ook in Pretoria-Tuine gewoon en was ’n oudleerling van die Hoër Tegniese Skool Pretoria-Tuine.

Michael Pretorius, sy oom, sê ook hulle wil weet wat tot sy dood gelei het.

"Hy was ’n voorbeeld van ’n goeie mens vir almal. Ek is stukkend oor sy dood."

’n Werknemer van die PropMan-eiendomsagentskap wat nie sy naam genoem wil hê nie, het Maandag gesê al die personeel is baie geskok.

Chariska Kloppers (30) Foto: Facebook/Chariska Kloppers

’n Groep van die personeellede het Vrydag ná werk drankies gaan drink en iets gaan eet by ’n kuierplek in Pretoria.

"Almal is huis toe behalwe die vier mense wat na Kleynhans se huis toe is om verder te kuier."

Thys du Plessis, ’n vriend van Kleynhans, het op Facebook geskryf: "Theo, jy het so baie mense se lewens aangeraak en ’n impak gemaak. Die is ’n groot verlies en nie die tipe verlies wat ooit vervang sal kan word nie.(sic)"

Colin Forbes, Mario Pretorius se stiefpa, het Bolhuis Saterdag gebel om namens die familie die voorval te ondersoek.

Kweza sê die polisie sal lykskouings laat doen om die oorsaak van Kleynhans, Pretorius en Kloppers se dood te bepaal.

Kloppers sê hul familie gaan ook ’n onafhanklike ondersoek na die dood van Chariska begin.

* Met Netwerk24 se besoek Sondag en Maandag aan die huis het ’n vrou gesê sy wil nie kommentaar lewer oor die voorval nie. Sy wou ook nie haar naam gee of sê wat haar moontlike verbintenis met die slagoffers is nie.

Dit was Maandagmiddag, nes Sondag, rustig by die huis en daar was geen polisie of ander owerhede nie, berig Dennis Delport.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.