Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kyk: Gebede vir Bokke in Bloem

Die Springbokke kry vandeesweek ’n daaglikse gebed voor hul toetswedstryd Saterdag teen die Engelse.

Leerlinge het Woensdagoggend in groot getalle by Grey-kollege (primêr) in Bloemfontein opgeruk om ’n handtekening, ’n foto, of vinnige geselsie met die Springbokke te kry. Foto: Mlungisi Louw

Hendrika Stander (82) van Bloemfontein het Woensdagoggend op ’n handtekeningsessie met die Bokke in die afdelingswinkel Kloppers die geleentheid aangegryp om vier Bokke toe te spreek.

“Ek wil net vir julle manne sê, ek bid vir julle dat die Here julle leiding sal gee. Hard speel Saterdag. Hier is mense wat sê julle gaan verloor, bewys hulle verkeerd.

“Druk hulle in die skrum. En daar gaan nie weer ’n agterstand van 3-24 wees nie, want toe was hierdie ouma doooodstil voor die TV,” het sy vir Akker van der Merwe, Sikhumbuzo Notshe, Warrick Gelant en Franco Mostert gesê.

Hennie van Heerden het spesiaal vir sy vriend George Stevenson die vier Bokke se handtekeninge gekry en namens hom ’n foto saam met hulle geneem. Die vier spelers moes op ’n wit vel A4-papier teken waarop daar in groen geskryf staan: “Trots Springbokke. Bloemfontein 2018.”

“George is siek in die bed en wou bitter graag hier gewees het. Hy gaan jaloers wees as ek hom die foto wys. Ek sal dit vir hom op sy foon oorlaai,” het Van Heerden gesê.

Die gr. 2-klas van die Martie du Plessis-skool in Bloemfontein was almal teenwoordig.

Janco van Wyk, een van die leerlinge, was effens afgehaal. “Net vier?” het hy teleurgesteld opgemerk toe hy besef die hele span gaan nie daar wees nie.

Dié vier meisies van die St. Michael-skool het saam met Willie le Roux, Springbok-heelagter, geposeer. Van links is Chiedza Chituku, Boipelo Mateza, Nicole Lockman en Gabrielle Marais. Foto: Mlungisi Louw
Die driejarige Lourenzo van Aswegen van Bloemfontein gaan nog baie moet groei voordat hy by die Bok-slot Franco Mostert se 1,98 m gaan uitkom. Foto: Mlungisi Louw
Hennie van Heerden (middel) van Bloemfontein het namens sy siek vriend, George Stevenson saam met die Bokke Warrick Gelant, Sikhumbuzo Notshe, Akker van der Merwe en Franco Mostert vir ’n foto gestaan. Foto: Mlungisi Louw

Hul juffrou, Jocelyn Holtzhausen, het vooraf vir hulle foto’s van die Springbokke gewys en bladsye met die Springbok-embleem laat uitdruk waarop die spelers moes teken.

“Onthou, julle sit dit nie net voor hulle neer nie. Julle vra of julle asseblief hul handtekening kan kry. En as julle klaar is, sê julle ?”

“Dankie,” antwoord die leerlinge.

Holtzhausen sê sy gaan die groepfoto wat hulle saam met die vier Bokke geneem het, uitdruk en in die klaskamer ophang.

By Grey-kollege (primêr) het massas leerlinge op die Bokke toegesak. Ivan van Zyl (skrumskakel), erken hulle was oorweldig.

“Toe ons hier aangekom het, was dit stil. Ons het nie hierdie hordes verwag nie. Nou is ons armoefeninge darem afgehandel vir die week,” sê hy.

Teen Woensdag 13:00 was 37 027 kaartjies verkoop.

Meer oor:  Hendrika Stander  |  Bloemfontein  |  Gebede  |  Rugby  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.