Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Gert van Rooyen-meisies met blommemuur herdenk

Ses blomme, een vir elke slagoffer van Gert van Rooyen, en ’n sewende vir die slagoffer wat kon ontsnap, vorm deel van ’n spesiale gedenkmuur om hulle vir altyd te onthou.

’n Spesiale gedenkmuur met afdrukke van blomskilderye is Woensdag by Van Rooyen se ou huis in Malherbestraat onthul. Die huis is jare gelede al gesloop en net ’n dorre, leë erf met ’n sementmuur aan die straat se kant het oorgebly.

George Boucher, Odette se pa, Woensdag voor die spesiale gedenkmuur wat vir die slagoffers van Gert van Rooyen en Joey Haarhoff opgerig is.Foto: Deaan Vivier

George Boucher, pa van Odette Boucher (11), en Ansie Horn, ma van Joan Horn (12), was aangedaan oor hul kinders se skilderye: ’n rooi papawerblom vir Joan en ’n sagpienk roos vir Odette.

“Odette was lief vir pienk en rose, soos ek. Ek dink sy sou van die prentjie gehou het,” het George gesê.

Ansie was baie emosioneel en het nie kans gesien om met die media te praat nie.

“Dit is moeilik om weer hier te wees . . . by die huis. ’n Mens begin dan weer oor als wonder,” het George gesê.

Hul dogters het tussen 1 Augustus 1988 en 2 November 1989 saam met Tracy-Lee Scott-Crossley (14), Fiona Harvey (11), Anne-Marie Wapenaar (12) en Yolanda Wessels (13) verdwyn.

Ansie Horn (links) saam met Lizette de Beer wat die rooi papawer (derde skildery van links) geverf het. Die muur van herinnering is Woensdag opgerig by die ou huis van Gert van Rooyen, wat verbind is met Ansie se dogter, Joan, en nog vyf ander jong meisietjies se verdwyning in die laat 1980’s. Foto: Deaan Vivier

Gert van Rooyen en sy lewensmaat, Joey Haarhoff, is destyds met die verdwyning van die meisies verbind, maar is nooit in hegtenis geneem nie.

Joan Booysen het uit Van Rooyen se huis ontsnap en die polisie laat weet.

In Januarie 1990 het die polisie Van Rooyen agtervolg toe hy en Haarhoff probeer vlug het. Van Rooyen het toe eers Haarhoff en daarna homself doodgeskiet.

“Die helder-oranje blom, die een wat soos ’n sonnetjie lyk, is vir Booysen. Sy was die een wat die hele spul oopgevlek het en daarom het ons vir haar ook ’n blom laat skilder,” het Lizette Stoltz, voorsitter van die plaaslike DAWN Constituency (DA-vrouenetwerk) gesê.

Sy het saam met Mike Bird, voorsitter van die Capital Park-belastingbetalersvereniging, gewerk om die gedenkmuur te maak.

George Boucher (links) en Ansie Horn, ouers van twee van die vermiste meisies, is hier saam met die skilders wat die blomme vir die muur van herinnering geverf het. Die skilders is van links, voor: Petros Shabangu, Tsepiso Shai, Sarah Masemene, Jerome Hannam, Lizette de Beer en Themba Olifant.Foto: Deaan Vivier

Van Rooyen se eiendom behoort nou aan die Tshwane-stadsraad, maar het vervalle geraak.

Die Vereniging vir Voet- en Mondskilders is toe gevra of hulle iets moois sal skilder. Afdrukke is van die skilderye gemaak, omdat dit nie vir die skilders prakties was om die skilderye op die muur te maak nie.

Dié afdruk is op ’n spesiale banier gedruk wat onder ’n afdakkie bo-op die muur vasgemaak is sodat die son dit nie kan verbrand nie.

Onder op die muur het die gemeenskap self die woorde “Ons onthou ons kinders” in rooi letters geverf.

Volgens Bird is dit nie net om Van Rooyen se slagoffers te onthou nie, maar ook ander kinders wat daagliks nog wegraak.

Hy en Stoltz het ook ’n beroep gedoen op die publiek om die versoekskrif te teken sodat ’n nuwe ondersoekspan aangestel kan word om dieper in die verdwyning van die meisies te delf. Die versoekskrif is aan Bheki Cele, minister van polisie, gerig en vra dat saak met nuwe ywer aangepak word.

“Dit is onaanvaarbaar dat daar soveel nuwe leidrade is wat net nie ondersoek word nie. Die families kort dringend antwoorde,” het Stoltz en Bird gesê.

“Ons onthou ons kinders”. Dié woorde is in Engels op die enkele muur geverf wat oorgebly het op die eiendom van Gert van Rooyen. ’n Blom vir elke meisie is op ’n muur van herinnering aangebring om hulde aan hulle te bring. Die sewende blom is vir die meisie wat uit Van Rooyen se aanhouding kon ontsnap. Foto: Deaan Vivier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.