Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kyk: Gesonder Dozi ry nie meer dié perde

‘Ou ryperd” is ’n liedjie wat Dozi op 50 nie sommer weer op ’n kommersiële verhoog sal sing nie.

Hoewel dié treffer vir hom baie roem verwerf het, sê hy dit is nou gedane sake.

Sy laaste kommersiële album, Hande vol genade, het in 2014 verskyn.

Dit was sy 18de CD.

Kort daarna het hy sy eie konsertvenue en restaurant, Dozi’s Back to the Roots, geopen.

Vrydag het hy op dieselfde perseel sy eie konsertsaal, Back to the Blues, oopgemaak.

Sy smaak neig deesdae baie meer in die rigting van ondergrondse musiek.

‘Ek drink vandag darem weer so nou en dan ’n bier.’

“Ek sal nie sommer weer by konserte soos Huisgenoot Skouspel of Afrikaans is Groot optree nie,” sê hy.

“Ek het al lankal balans in my lewe nodig gehad. Ek is al lankal besig met my eie transformasie, veral ten opsigte van my gesondheid.”

Dozi het in 2016 meer as 30 kg afgeskud en weeg nou ’n skrale 90 kg.

Hy vermy drank en is elke oggend in die gimnasium. Hy doen nie banting nie, want volgens sy dieet word stysel toegelaat. Net solank dit gebalanseerd is. “Ek drink vandag darem weer so nou en dan ’n bier,” sê hy. “Maar die rowwe partytjiedae is verby.”

Hy bloos vandag nog wanneer hy herinner word aan die berig wat jare gelede in die poniekoerant Son oor sy wangedrag verskyn het.

’n Hoogs beskonke Dozi het voor sy gehoor van ’n verhoog af geürineer.

Mense het selfs foto’s daarvan geneem.

“Dit was my rowwe rock ’n roll- dae daai,” lag hy.

“Ek was nog altyd ’n rough diamond. Onthou, ek het nie Idols gewen om te kom waar ek is nie.”

Hoewel blues ’n nismark is, is dít waar Dozi deesdae sy balans in sy musieklewe vind.

Hy verkies nog altyd die rou, skoon klank van ’n kitaar se snare.

“Ek is moeg daarvoor dat platemaatskappye moet besluit hoe my musiek moet klink,” sê hy. “Veral die keyboards wat so op die meeste van my albums verskyn het. Ek haat ’n f***en keyboard.”

Hy skud sy kop ernstig voordat hy sê: “As jy net geld in jou kop het, gaan jy nie goeie musiek maak nie. As jy net die musiek waarvan jy hou in jou kop het, gaan jy ook nie geld maak nie. Weer eens, balans . . .

“Sodra jy dinge oordoen, gaan alles oorvloei. Dis die grootste les wat ek al in my lewe geleer het.”

Ou pêlle soos Steve Hofmeyr en Kurt

Darren tree gereeld by Dozi se kuierplek op.

So ook die musikante van wie se liedjies hy die meeste hou: Fokofpolisiekar, Anton Goosen, Koos Kombuis, Karen Zoid, Jack Parow en Dr. Victor.

“My gunsteling-band wat gereeld hier kom speel is Meesh Mash,” sê hy.

“Dis ’n reggaegroep uit KwaZulu-Natal. Niemand onder 25 word toegelaat in my blues bar nie,” sê hy.

“En dit is ’n smart casual plek. Jy kan nie met plakkies hier kom konsert kyk nie.”

En soms, net soms, speel die man nog so bietjie nostalgies sy “Ou ryperd”.

“ ’n Jazz-weergawe,” sê Dozi.

“Dit is amper onherkenbaar teenoor die ou weergawe.”

Meer oor:  Musiek  |  Sanger
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.