Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kyk: Glo dit of nie: dié man het dit oorleef

’n Padwerker van Dunoon naby Milnerton het wonderbaarlik aan die dood ontkom toe hy naby Grabouw op die N2 deur ’n roekelose bestuurder raakgery is.

’n Video van die ongeluk toon duidelik hoe ’n metaalgroen Toyota Avanza op onverantwoordelike wyse op die 33-jarige Xolele Phindela afpyl.

Die polisie het egter nog geen poging aangewend om dié video in die hande te kry nie.

Lyndon de Meillon, ’n Noord-Kapenaar wat die ongeluk met sy paneelbordkamera vasgelê het, sê ondanks verskeie oproepe na die polisie op Grabouw toon speurders daar min belangstelling om die kritieke bewyse by hom te kry.

Phindela en medewerkers het op 22 Maart ’n tydelike stippellyn geverf op die nuut geteerde oppervlak van die besige N2 net buite Grabouw in die Wes-Kaap. Daar was oral waarskuwingstekens wat motoriste gemaan het om stadig te ry en versigtig te wees.

De Meillon sê hy, sy vrou, Elri, en kinders was op pad na Pearly Beach naby Gansbaai en het ’n geruime tyd agter ’n swaar vragmotor aangekruie.

Kort duskant Grabouw het ’n konstruksievoertuig in die middel van die pad gestaan en kort daarna kan ’n mens duidelik sien hoe Phindela met graaf in die hand saam met ’n vrouekollega met ’n groot rooi vlag net regs van ’n tydelike stippellyn in die middel van die pad stap.

Die volgende oomblik kom die Avanza van agter gejaag in ’n poging om die De Meillons verby te steek. Phindela sien die motor agter hom en probeer padgee, maar die Toyota tref hom en hy trek soos ’n lappop deur die lug terwyl hy verskeie kere bolmakiesie slaan.

“Ek het onmiddellik in my truspieëltjie teruggekyk. Hy het amper soos in slow motion deur die lug getrek,” het De Meillon die afgelope week aan Rapport gesê.

“Die man het net agter ons motor geval. Ons was seker hy moes dood gewees het. Ons kon ook sien dat die enjinkap van die groen motor ’n lelike stamp weg het.”

Phindela het egter die ongeluk wonderbaarlik oorleef. Hy is in die hospitaal opgeneem vir sy beserings, maar is reeds ontslaan.

Omdat daar geen plek was om veilig af te trek nie, het De Meillon aangery. Hy het die polisie later gebel om te verneem na die voorval, maar dié wis toe nog niks, sê De Meillon . Hy het ook aan die polisie gesê dat hy die voorval op kamera vasgelê het, maar die polisie het nie eens gevra of hulle ’n kopie daarvan kan kry nie. ’n Beampte het later belowe om terug te bel, maar amper twee weke later wag hy steeds vir die oproep.

Lt.kol. Andrè Traut, woordvoerder, het op navraag aan Rapport gesê hul ondersoek na die voorval “is steeds aan die gang”. Hy het nie geantwoord op ’n pertinente vraag waarom ondersoekers nog nie op De Meillon se oproepe en aanbod om te help geantwoord het nie.

Vroeër het ’n woordvoerder van Grabouw se polisie, lt. Raldene Atson, aan die koerant Distrikspos gesê ’n saak van roekelose bestuur word wel teen die bestuurder van die Avanza ondersoek, maar niemand is nog aangekla nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.