Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Span dokters werk saam om gorilla te opereer

Die ervaring van ’n leeftyd, is hoe ’n mediese span die prosedure beskryf waartydens hulle groeisels uit die neus van Makokou, ’n westelike laaglandgorilla, verwyder het.

Die Johannesburgse dieretuin se enigste gorilla, wat binnekort 35 jaar oud word, het op 6 Junie ’n CT-skandering gekry waar vasgestel is dat poliepe sy neusgange blokkeer.

Makokou weeg ’n allemintige 210 kg en is Saterdagoggend omstreeks 9:00 verdoof. Die operasie het sowat vier ure geduur.

Makokou die gorilla op die operasietafel. Foto: Isabel Venter

Dr. Gerhard Steenkamp, ’n kaak-, gesig- en mondchirurg van die Onderstepoort- veaartsenykundige akademiese hospitaal (OVAH), sê die prosedure is ’n eerste in Suid-Afrika.

“Dit is die eerste keer dat ons dié soort chirurgie op ’n primaat gedoen het en ook beslis die eerste keer dat ons die voorreg gehad het om al dié verskillende instrumente in ’n teater te hê.

“Dit is ’n wonderlike ervaring om te werk saam met soveel mense van die mediese veld – menslik en veeartsenykundig – wat saamgekom en gesê het hulle wil help. Dit is hoe ons vandag dié gorilla kon help.”

Venter en Steenkamp verwyder die groeisels uit Makokou se neus. Foto: Isabel Venter

Die span medici wat Makokou behandel het, sluit in onder andere prof. Sonja Boy (patoloog), dr. Justin Grace (narkotiseur), dr. Kresen Pillay (die dieretuin se veearts) en dr. Kobus Venter (’n oor-neus-en-keel-spesialis).

Venter praktiseer by die Unitas- en Zuid-Afrikaans-hospitale en dit is die eerste keer dat hy op ’n gorilla geopereer het.

“Dit was ongelooflik, dit was regtig ’n voorreg om dit te kon doen en ’n baie goeie ervaring. Deels omdat soveel van die mense en die gorilla se anatomie dieselfde is, maar daar is ook ’n groot deel wat totaal en al verskil.”

Die operasie het sowat vier ure geduur. Foto: Isabel Venter

Die span het ’n gorilla-skedel by die Ditsong National Museum of Natural History (die voormalige Transvaal Museum) geleen en ook skanderings van normale gorilla-sinusse van oorsee af gekry om vir die prosedure voor te berei.

“Ons het die normale anatomie op ’n CT-skandering gehad en dan het ons natuurlik sy skandering gehad wat hoogs abnormaal was. Ons kon die twee bymekaar sit,” sê Venter.

Boy het die weefsel ontleed soos wat die chirurge dit uit Makokou se neusgange verwyder het.

“Dis ook ’n eerste in Suid-Afrika dat die weefsel so ontleed kon word terwyl ons opereer. Sy (Boy) kon op veelvuldige snitte bevestig dat dit net inflammatories is. Ons moet nog probeer kyk wat die oorsaak daarvan is, maar dis baie goeie nuus vir ons,” sê Steenkamp.

Nie-kwaadaardige groeisels is Saterdag uit Makokou se neus verwyder. Foto: Isabel Venter

Die span sê Saterdag se prosedure was suksesvol en Makokou se prognose lyk goed.

“Die eerste keer toe ons na Makokou gekyk het, kon ons glad nie eens in sy neus opkyk nie, want dit was so toe. Ná vandag het hy groot neusgange en sy sinusse is oop. Ons het vreeslike hoeveelhede etter uitgespoel, so ek dink hy gaan beslis baie beter voel,” sê Steenkamp.

Volgens Venter het hy aanvanklik gedink dit is ’n kwaadaardige gewas weens die hoë vaskulariteit en die uitgebreide aard daarvan.

“Die feit dat prof. Boy kon bevestig dit is nie kwaadaardig nie, maak sy prognose soveel beter en hopelik sal hy binne die volgende twee of drie weke ’n lekker oop neus hê en weer sy kos kan ruik. Sy aptyt sal ook verbeter,” sê Venter.

Makokou word fyn gemonitor ná sy operasie van sowat vier ure. Foto: Isabel Venter

Sharon Tshikosi, die opsigter wat al 12 jaar lank na Makokou kyk, het ná die operasie lank by hom gesit totdat hy wakker geword het. Sy sê sy voel baie beter noudat die prosedure afgehandel is en die silwerrug terug in sy kamp is.

Jenny Moodley, woordvoerder vir die Johannesburgse dieretuin, het Saterdagmiddag gesê Makokou word fyn gemonitor en die dieretuin hoop om weer in Julie ’n spesiale verjaarsdagviering vir hom te hou.

Volgens Moodley is die behandeling pro bono deur die OVAH-personeel en personeel van die Lancet-laboratorium behartig.

Makokou is op 9 Julie 1985 in ’n dieretuin in Stuttgart, Duitsland gebore en is einde 2004 na Suid-Afrika gebring.

Makokou se operasie kon van buite die teater deur ’n venster gesien word. Foto: Isabel Venter
Meer oor:  Eerste  |  Gorilla  |  Makokou  |  Operasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.