Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Groen-en-goud, lof en trane vir Small by begrafnis

Sommige het hom geken as Bushbuck, vir ander het hy leer huil, maar die meeste was dit eens: op en van die baan af was hy ’n legende en het hy geweet hoe om voluit te leef.

Verskeie bekendes, waaronder talle rugbyspelers in hul Springbok-baadjies, het Donderdag by die Wanderers-rugbyklub in Johannesburg van James Small (50) afskeid geneem.

Gary Teichmann, Kobus Wiese, Victor Matfield en Marius Hurter het in die Groen-en-goud opgedaag om hul laaste eer aan Small te betoon. Hy was deel van die Springbokrugbyspan wat in 1995 die Wêreldbekerrugbytoernooi op Ellispark in Johannesburg gewen het.

Small is verlede Dinsdag aan ’n hartaanval in Johannesburg dood.

Vourn Small (voor), James Small se ma, langs die lykswa wat haar seun Donderdag weggeneem het. Agter Vourn staan James se eksverloofde, die model Christina Storm. Foto: Deaan Vivier

Darren Scott, ’n radiopersoonlikheid en ’n boesemvriend van Small, het Donderdag roubeklaers verwelkom en gesê Small, of Bushbuck of Bushy soos hy hom meestal genoem het, het sy op en af tye beleef, maar die belangrikste is om te onthou dat hy voluit gelewe het.

Volgens hom was hy ’n ongelooflike pa vir sy kinders, Ruby en Caleb, en sy gesig het altyd gestraal as hy van hulle praat.

Op Small se kis het ’n reusagtige rugbytrui met Small se naam en nommer daarop gelê. Small het in die nr. 14-trui uitgedraf.

’n Foto van Small, op ’n Harley-Davidson-motorfiets, het op die voorblad van die begrafnisbrief gepryk. Verskeie foto’s van hom saam met vriende, familie en sy kinders is binne-in die begrafnisbrief opgeneem en ook in die diens vertoon.

Rudolf Straeuli, voormalige Springbok-afrigter, sê dit is belangrik om Small te onthou as ’n goeie spanmaat en ook die goeie pa en mens wat hy was. Volgens hom het Small en oudpres. Nelson Mandela ’n belangrike rol in Suid-Afrika se geskiedenis tydens die 1995-rugbywedstryd gespeel.

Kelly, Small se suster, het gesê hy sou nie wou hê mense moet by sy begrafnis huil nie.

“Dit is nie wat my broer sou wou hê nie. Hy sou wou hê ons moet sy lewe vier.”

Volgens haar vat dit nie die leemte weg wat hy in hul lewe laat nie, maar maak dit dinge makliker.

Dit was ’n ware voorreg om saam met hierdie man ’n pad te kon stap.

“Dit was ’n ware voorreg om saam met hierdie man ’n pad te kon stap,” het Kelly gesê, terwyl sy teen die trane geveg het.

Kieran Houlston, James se susterskind, het ook hard teen die trane geveg. Hy sê sy oom was sy held gewees.

“Dankie dat jy vir my liefde betoon het, van die krag van familie geleer het en hoe om te huil,” het Houlston gesê.

“Jy het jou stempel op soveel mense se lewe afgedruk. Ek sal James Small saam met my dra vir die res van my lewe. Dankie dat jy my held is. Ek is lief vir jou.”

Siya Kolisi, huidige Springbok-kaptein, het sy innige simpatie namens die span oorgedra en ook ’n spesiale boodskap vir Small se kinders, Ruby (14) en Caleb (9), gehad.

Volgens hom het hy ook sy ma op ’n jong ouderdom verloor en hy verstaan deur watter pyn hulle gaan. “Partykeer wonder ’n mens waarom, maar God weet. Herinneringe is die belangrikste en julle moet daaraan vasklou,” sê Kolisi.

Aan Small se ma en familie het hy gesê hulle kan trots wees op die seun wat hulle grootgemaak het.

Gavin Houlston, Small se swaer, was ook emosioneel in sy toespraak.

Lede van 1995 se Springbok-rugbyspan staan Donderdag naby die lykswa. Foto: Deaan Vivier

“Maar ek weet dat James sou huil soos hy lag as hy my nou kon sien. Hy weet dat ek ’n vrees het om in die openbaar te praat. Hy sou my sonder genade daaroor spot,” het Houlston gesê.

“James, jy het ’n leemte in ons hart gelos, ’n traan in ons oë, maar ons was waarlik geseënd om hierdie pad saam met jou te stap,” het Gavin ter afsluiting gesê.

Hierna is Small se kis weggeneem, terwyl vriende en familie toegekyk en mekaar ondersteun het.

Christina Storm, Ruby se ma, het gehuil terwyl sy en haar dogter mekaar vasgehou het.

Ruby het ’n bos wit lelies vasgehou en ook haar halfbroer, Caleb, se trane afgevee.

Familie het toe saam met Small se naaste vriende na ’n privaat funksie vertrek om hul held se lewe verder te vier.

James Dalton en Kobus Wiese kom Donderdag aan by die begrafnis van James Small, wat op 50 aan ’n hartaanval dood is. Foto: Deaan Vivier
Christina Storm Donderdag langs die lykswa by die roudiens vir James Small. Sy het ná die diens gehuil en haar en James se dogter, Ruby, omhels. Foto: Deaan Vivier
Victor Matfield en Siya Kolisi, huidige spankaptein van die Springbokke, gesels voor die begrafnisdiens van James Small. Foto: Deaan Vivier
Gary Teichmann (links) en James Dalton groet mekaar langs die kis van James Small, oud-Springbok-speler. Foto: Deaan Vivier
Meer oor:  James Small  |  Johannesburg  |  Huldeblyke  |  Begrafnisdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.