Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kyk: Guptas se vlerke geknip

Die Guptas se omstrede Bombardier- private straler, ZS-OAK, is terug in die land.

’n Rapport-span was Vrydagaand van die enkele getuies wat gesien het hoe die straler – die onderwerp van ’n hofgeding tussen die Guptas en die Kanadese finansiers daarvan – soos ’n dief in die nag net ná 22:00 op die Lanseria-lughawe, noord van Randburg, land.

Nie een van die berugte Gupta-broers, waarvan sommige deur die Suid-Afrikaanse owerhede gesoek word – het egter saamgevlieg op die vlug van Dubai af nie. Slegs die twee vlieëniers – albei Suid-Afrikaners – was aan boord toe polisie- en doeanebeamptes dadelik aan boord gegaan het.

Dit het ook gelyk asof die omstrede vliegtuig se kenmerkende registrasienommer – ZS-OAK – ligter en minder sigbaar gemaak is sodat dit nie van ver af met die blote oog gelees kan word nie.

Dit was moontlik die laaste vlug van die pragvliegtuig onder dié registrasienommer. Nadat die Bombardier geland het, is dit na ’n nabygeleë loods geneem, waar die brandstof afgetap en die registrasienommer verwyder sou word totdat die toekoms van die vliegtuig in die howe beslis is.

Vlieëniers sukkel om werk te kry.

Die vliegtuig se terugkeer van Dubai volg nadat die hooggeregshof in Johannesburg vroeër beveel het dat die vliegtuig op die laatste op 3 April na Suid-Afrika gebring moet word vir veilige bewaring. Die vliegtuig sal in bewaring bly tot tyd en wyl die geskil oor die eienaarskap van die vliegtuig besleg is.

Die hofstryd woed tussen Export Development Canada (EDC), die Kanadese ontwikkelingsbank wat die geld vir die koop van die straler voorgeskiet het, en StoneRiver in Ierland, ’n Gupta-maatskappy.

Die ingewikkelde hofstryd woed nie net in Suid-Afrika, waar die vliegtuig geregistreer is nie, maar ook in ’n Britse hof, waar dié saak eers oor ’n paar maande aangehoor sal word.

Die Gupta-straler se twee vlieëniers was die enigstes aan boord van die Bombardier toe dit Vrydagaand op Lanseria geland het.

Die EDC het in 2014-’15 die R628 miljoen aan die Gupta-maatskappye Westdawn Investments en Oakbay Investments voorgeskiet. Die Ierse StoneRiver was die amptelike finansieringsmaat­skappy. Atul Gupta en sy vrou, Chetali, is dié maatskappy se direkteurs.

Die EDC en StoneRiver het laas jaar al begin koppe stamp toe die Guptas versuim het om die vliegtuig se paaiement te betaal. Die Guptas het aangevoer dit is omdat Suid-Afrika se vier handelsbanke hul bankrekenings opgeskort en hulle dus nie toegang tot hul geld gehad het nie.

Die EDC het vervolgens in Desember laas jaar kennis gegee dat hulle die kontrak weens wanbetaling kanselleer.

Die Guptas het beswaar gemaak en dit is hoe die saak in die Britse hof beland het.

Die saak in Suid-Afrika is aanhangig gemaak om die vliegtuig se registrasie by die Burgerlugvaartowerheid te laat intrek en die vliegtuig in Suid-Afrika te bewaar omdat die EDC bang was dat dit vir beweerde misdadige aktiwiteite gebruik kon word.

Die Guptas se regspan beweer egter in hul aansoek om verlof tot appèl die bewerings is ongegrond omdat geeneen van die bewerings oor staatskaping nog in die hof getoets is nie.

In hofdokumente beweer die Guptas dat adv. Thuli Madonsela, voormalige openbare beskermer, se staatskapingsondersoek “tot op hede van alle feitelike waarheid ontbloot is” waar dit na Atul, Chetali, Westdawn Investments en Oakbay Investments verwys.

Daarom kan ’n Suid-Afrikaanse hof nie op bewerings en ongetoetsde getuienis staatmaak om die Guptas te dwing om hul straler na Suid-Afrika te bring nie. Die Guptas het verder aangevoer dat geen Suid-Afrikaanse hof in dié stadium die jurisdiksie het om enige gedeelte van die betalingsgeskil aan te hoor nie.

Rapport verneem intussen van ingeligtes in die lugvaartbedryf dat die straler se vlieëniers, wat die laaste paar jaar getrou die familie na elke denkbare uithoek in Indië en tot in Rusland rondgevlieg het, sukkel om elders werk te kry.

Dit is glo juis hul termyn in diens van die Guptas wat teen hulle tel.

Meer oor:  Lanseria  |  Straler  |  Staatskaping  |  Guptas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.