Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Helde-ontvangs vir SA se goue swemmer

Toe die skuifdeure oopgaan en ondersteuners Suid-Afrika se goue meisie sien instap, het hulle byna die dak gelig met hul uitbundige geskreeu.

Van die mense het die Suid-Afrikaanse vlag in die lug geswaai, ander het gefluit en die naam Tatjana het deur die lughawegebou weergalm.

En daar was oral ballonne, blomme en plakkate.

Dit was die helde-ontvangs wat Tatjana Schoenmaker, Olimpiese gouemedaljewenner en wêreldrekordhouer, Maandag op die OR Tambo-lughawe ná haar triomf op die Olimpiese Spele in Tokio ontvang het.

Schoenmaker het goud in die 200 m-borsslag losgeswem en boonop die wêreldrekord in dié nommer verbeter, terwyl sy in die 100 m-borsslag silwer gewen het.

Sy het onmiddellik haar ouers, pa René en ma Renske, styf omhels toe sy by die skuifdeure uitstap.

Uiteraard is albei ouers ongelooflik trots op hul dogter.

“Ons is baie trots, maar dit verg ’n hele gemeenskap om ’n kind groot te maak. Daar is soveel mense agter hierdie atlete – van die mediese personeel, afrigters, spanmaats, vriende, familie.

“Ons wil net dankie sê aan almal wat by Tatjana se sukses betrokke was,” het Renske gesê.

Tatjana Schoenmaker word met haar aankoms op die OR Tambo-lughawe deur haar pa, René, omhels. Foto: Deaan Vivier

René sê dit is ongelooflik dat sy dogter twee medaljes losgeswem én die rekord verbeter het. “Wie sou dit kon dink? Dit is iets waarna sy gestreef het. Absoluut fantasties.”

Op die vraag oor hoe hulle haar sukses gaan vier, het hulle geantwoord: “Skaaptjoppies op die braai.”

LEES OOK: Gee so 'n swemmer 'n tjoppie – nee, sommer 'n hele skaap! 

Fabienne, Schoenmaker se kleinsus, het met ’n bondel ballonne met die syfers 2:18.95, wat vir die swemmer se nuwe wêreldrekordtyd in die 200 m-borsslag staan, vir haar gestaan en wag. Sy sê die gesin het nie net die slapies tot haar ousus se tuiskoms afgetel nie, maar “die sekondes, die minute en die ure”.

“Ons was bang sy kom nie vandag hier aan nie, want die volgende vlug sou eers vanaand twaalfuur daai kant gewees het. Dan sou sy eers môreoggend hier aangekom het. Ons wou nog ’n rukkie saam met haar deurbring voordat my ouers weer vlieg,” het sy gesê.

“Ons huil nou nog, dis unbelievable. Haar vlug (van Addis Abeba in Ethiopië tot in Johannesburg) is met meer as twee uur vertraag, en ons was in ’n stadium bang ons sou haar eers môre sien,” het Fabienne gesê.

“Gelukkig is sy nou hier sodat ons darem almal saam tyd kan deurbring voordat my ouers vlieg.”

Tatjana se ouers vertrek weer Donderdag na Nederland.

Hulle verdeel hul tyd tussen Nederland (waar René gebore is en verskeie sakebelange het) en Suid-Afrika.

“Ons het spesifiek die laaste drie weke in Suid-Afrika deurgebring ter wille van Tatjana,” het René gesê.

“Ons wou hier wees om haar te help met die laaste voorbereidings voordat sy Japan toe gevlieg het.”

Ruan Ras, Schoenmaker se kêrel, was ook deel van die helde-ontvangs. Hy het met goue en silwer ballonne en blomme gewag.

Dit maak die oomblik ekstra spesiaal. Dit het nog nie ingesink nie. Dankie vir al die ondersteuning. Ek moes net uitgaan en my beste lewer. Ek hoop deur my prestasie kon ek iemand anders hoop gegee het.

“Ek is so, so trots op haar en die hele Suid-Afrikaanse span met alles wat hulle bereik het. Dit was so ’n opwindende week vir almal. Om te sien wat hulle daar ingesit het, was spesiaal en ons is so dankbaar dat hulle die vrugte daarvan gepluk het.”

Nathi Mthethwa, minister van sport, het op ’n nuuskonferensie gesê Schoenmaker het ’n standaard en rekord vir die wêreld gestel.

“In dié moeilike tye en uitdagings waarmee ons land te kampe het, was alle hoop op jou skouers en jy het jou goed van jou taak gekwyt. Dankie daarvoor.”

Tatjana Schoenmaker word met haar aankoms op die OR Tambo-lughawe deur ’n ondersteuner omhels. Foto: Deaan Vivier
Ruan Ras (Tatjana se kêrel), pa René Schoenmaker, Tatjana, sus Fabienne en ma Renske op ’n nuuskonferensie ná haar aankoms op die OR Tambo-lughawe. Foto: Deaan Vivier
Tatjana Schoenmaker met haar aankoms op die OR Tambo-lughawe. Foto: Deaan Vivier

Daarna het hy geskerts en gesê hy wil nie baie van haar tyd in beslag neem nie, want hy weet daar is ’n braai wat op haar wag.

Schoenmaker het almal bedank.

“Dit maak die oomblik ekstra spesiaal. Dit het nog nie ingesink nie. Dankie vir al die ondersteuning. Ek moes net uitgaan en my beste lewer. Ek hoop deur my prestasie kon ek iemand anders hoop gegee het.”

Tatjana is van plan om haar later vandeesmaand vir ’n paar weke by haar ouers in Nederland aan te sluit om ná haar groot sukses in Japan tot verhaal te kom.

Meer oor:  Tatjana Schoenmaker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.