Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: ‘Help! Daar is 'n luiperd agter my wasmasjien’

’n Veearts in Gauteng het Maandag ’n ongewone oproep ontvang waarin hy versoek is om ’n luiperd uit ’n huis in Benoni te gaan verwyder.

Dr. Cliff Bull van die Craig View Veterinary Clinic sê hy was besig om koedoes met pyle te verdoof toe die Dierebeskermingsvereniging (DBV) hom gekontak het oor ’n luiperd wat in iemand se tuin gesien is.

Die dier het glo ’n werker en ’n hond die skrik op die lyf gejaag. Maar toe Bull hoor dat die luiperd so groot soos ’n kruising tussen ’n labrador en pitbull is, het hy gedink iemand het die kat aan die stert beet.

“As jy realisties daaroor dink, sal jy tog dink dis ’n muskeljaat . . .” sê hy.

Bull het later gehoor dat die luiperd nou in iemand se waskamer vasgekeer is.

“Die werker het glo by die waskamer ingeloop, die luiperd gesien, uitgehardloop en die deur toegedruk.”

Die feit dat die jong luiperd in die waskamer vasgekeer was, het dinge vir Bull vergemaklik, maar net in ’n mate, want dit het beteken dat hy waarskynlik aangeval sou word sodra hy die deur oopmaak.

“Dit is nie jou gewone huiskat wat jy sommer net kan aankeer nie. Wat baie mense nie verstaan nie, is dat die meeste katte opvlieënd is en vinnig reageer. Die oomblik wanneer die verdowingspyl hulle tref, sal hulle voluit op jou afstorm,” het Bull aan News24 gesê.

’n Luiperd wat net halfpad verdoof is, kan steeds baie skade aanrig
Dr. Cliff Bull

’n Plan is solank beraam terwyl die luiperd in die waskamer is.

Bull het gesien hoe die kat opspring en vir mense grom wanneer hulle naby die venster kom. Hy het dus besluit om by ’n ander venster stelling in te neem om die luiperd met ’n verdowingspyl te skiet.

“Ek het gevra dat iemand die kat se aandag aftrek en toe my posisie ingeneem. Toe die luiperd opspring, het ek hom in die regterskouer geskiet.”

Dit was egter nie die einde van die probleme nie.

Die luiperd, wat toe al gekalmeer het, het aan een van die waterpype begin byt en water het in die klein kamertjie met sy elektriese toestelle begin uitloop.

Bull het egter geen ander keuse gehad as om te wag dat die luiperd heeltemal onder verdowing is nie.

“’n Luiperd wat net halfpad verdoof is, kan steeds baie skade aanrig,” sê hy.

Bull het ’n verestoffer en sy selfoon gebruik om te kyk of die luiperd in die waskamer al in droomland is. Daarna het hy hom aan die stert gegryp en by sy nek (vir die dier se veiligheid) opgetel.

Hy het die luiperd buitentoe geneem en oorhandig aan ’n span wat wilde diere rehabiliteer. Hy sal ondersoek en later weer vrygelaat word.

Die groot vraag ná die eskapades is egter waar die luiperd vandaan kom.

Bull sê dit is nie buitengewoon dat wilde diere in Benoni rondloop nie, hoewel dit ietwat ongewoon is dat ’n luiperd in daardie deel van die stad beland het.

Hy vermoed die luiperd het moontlik uit ’n kamp ontsnap.

“Die luiperd was beslis nie so aggressief soos ander waarmee ek al gewerk het nie. Ek dink hy is dalk in ’n hok aangehou.”

Bull sê die ander moontlikheid is dat die luiperd se ma iets oorgekom het.

Hy is net bly dat niemand seergekry het nie. “Toe ek my vrou bel om te sê dat ek laat gaan wees omdat ek ’n luiperd moes vang, het sy gevra of ek na die Sunninghill- of Sandton-hospitaal wil gaan.”



Meer oor:  Dierebeskermingsvereniging  |  Benoni  |  Luiperd
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.