Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Hier is vrou wat sê ‘hier’s ’n vet f*k*p’

“Eers was dit Margaret, toe Marelize en nou Marietjie,” sê die 60-jarige ouma van Bloubergstrand naby Kaapstad wat vandeesweek opslae op sosiale media gemaak het met die woorde “hier’s ’n vet f*k*p”.

Marietjie staan saam met haar kleindogter Liniq in die oorblyfsels van die glaspaneel wat van die balkon afgewaai het en langs die huis te lande gekom het. Foto: Jaco Marais

Marietjie Stander (60), oorspronklik van Welkom in die Vrystaat, het ’n string vloekwoorde losgelaat terwyl sy ’n video geneem het van ’n woeste storm wat Dinsdag haar stoep in Bloubergstrand te pletter gewaai het. 

Marietjie Stander (60) wat oornag ’n sensasie geword het nadat sy ’n rits vloekwoorde losgelaat het toe haar stoep Dinsdag in ’n storm bykans verwoes is. Langs haar is haar kleindogter Liniq (5), wat in die video huil van ontsteltenis. Foto: Jaco Marais

Stander sê sy het die video, wat kort daarna soos ’n veldbrand op sosiale media versprei het, Dinsdagoggend omstreeks 11:00 geneem toe ’n sterk wind hul stoep se afdak afgewaai het, en die vensters en meubels daarmee saam.

“Ek praat nie gewoonlik so nie,” sê Stander laggend oor haar woorde in die video die oomblik toe die vensters en meubels wegwaai.

Stander en haar dogter Lindi Geldenhuys (38), haar kleindogter Liniq (5) en hul huiswerker, Wanny Mokganbane (41), was by die huis toe die video geneem is. Daarin kan ook gehoor word hoe Liniq van ontsteltenis huil.

Ook die Afrikaanse sanger Manie Jackson en sy meisie was by die huis, maar in ’n kamer in die onderste verdieping. Jackson is ’n vriend van Geldenhuys se man, Louis, ook ’n Afrikaanse sanger.

“Die dakplate het nie eens in die erf langs ons geland nie, maar in die volgende erf,” sê Stander. Ook die glaspanele wat teen die kant van die stoep was, het losgekom en op die grond langs haar tweeverdiepinghuis in Stadlerstraat te lande gekom.

“Toe ons weer sien, waai die een bank af, en toe die ander een, en toe die koffietafel!” sê sy.

Volgens Stander is die huis rofweg 20 jaar oud, en die afdak ook al geruime tyd daar. Sy sê die struktuur was ook al redelik geroes voordat dit op die plaveisel onder stukkend geval het.

Behalwe vir die stoep se meubels, dakplate en glaspanele het Stander se slaapkamer, wat ook op die stoep uitkyk, se skuifdeur ook losgekom en van die stoep af gewaai.

“Toe ek dit sien, toe weet ek daar is moeilikheid,” sê sy.

“Ek weet toe daar is ’n groot opening by my kamer, en toe hardloop ek uit die sitkamer na my kamer toe.”

Sy sê Geldenhuys was bekommerd oor haar potplant wat op die stoep gestaan het, maar dit is toe die enigste ding wat oorgebly het op die stoep.

“Ons het vir haar gesê sy kan nie buitentoe gaan nie, die wind sal haar wegwaai. Maar sy wou haar pot red. Die plant is van plastiek.”

’n Foto wat kort na die storm geneem is. Manie Jackson se bakkie staan voor die voordeur geparkeer, en regs daarvan lê die stukkende meubels en panele op die grond. Foto: Jaco Marais

Stander sê ’n groot bestiering is dat Jackson se bakkie nie in die pad van die vallende glaspanele was nie.

“Sy Ford Ranger was vroeër reg onder die panele geparkeer, maar hy het gery. Toe hy terugkom, stop hy om een of ander rede voor die voordeur. As hy dit nie gedoen het nie sou die skade nóg erger gewees het!”

Stander sê hul versekeraar het reeds inspeksies kom doen, en die plaaslike raadslid het besoek kom aflê.

’n Struktuur waarop ’n elektriese lig gemonteer was, en wat staande gebly het in die storm, is vir veiligheid verwyder.

“Dis so snaaks – mense ry heeltyd verby die huis en neem foto’s daarvan. Mense het ons ook al laat weet die video het tot in Amerika en Dubai gevorder. Ons kan dit nie glo nie,” sê Stander.

“As ons nou na die video kyk, lag ons lekker, maar dit was nie op daardie oomblik snaaks nie,” sê Stander.

Mokganbane, ook van die Vrystaat, sê sy was baie bang toe die wind so woes waai. “Die vensters het geruk en dit het baie woes gereën. Ek het nog nooit so iets gesien nie,” sê sy.

Meer oor:  Kaapstad  |  Storm  |  Vloek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.