Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Hier kan 'n begrafnis jou doodmaak

Begrafnisse kan jou dood veroorsaak.

So sê inwoners van Westdene in Johannesburg nadat ’n koeël uit die vuurwapen van ’n rouklaer by die naburige Wespark-begraafplaas ’n bejaarde inwoner in haar been getref het.

Hoewel Margaret Holloway (75) dalk die eerste inwoner van Westdene is wat raakgeskiet is tydens een van hierdie makabere ANC-rituele, vertel inwoners dit is met begrafnistyd te gevaarlik om dit buite jou huis te waag, en dat koeëls dikwels deur vensters of dakke trek.

Holloway het verlede Sondag in die Helen Joseph-hospitaal bevestiging gekry dat die “verskriklike pyn” in haar linkerkuit nie was weens ’n bloedvat wat gebars het nie, maar ’n koeël wat haar getref het, wat nou vir die res van haar lewe in haar been sal bly sit.

Toe sê ek: ‘Dink jy nie ek is geskiet nie?

Sy was omstreeks 16:45 met haar loopraam in die tuin voor haar eenheid by die Eeufees-aftreeoord om voëltjies kos te gee toe sy ’n erge pyn deur haar been voel skiet.

Dit was tydens die begrafnis van Kebby Maphatsoe, ANC-LP en voormalige voorsitter van die ontbinde Umkhonto we Sizwe-militêre-veterane-vereniging (MKMVA), waar rouklaers in ANC-kleure met skerp ammunisie in die lug geskiet het.

“Ek het op my loopraam se stoeltjie gaan sit, maar het afgeval tot op die sypaadjie,” vertel Holloway, wie se kop ’n harde stamp weg het. Toe sy bykom, was haar roesbruin langbroek vol bloed. Sy het haar buurvrou, Zoe Coufadis, gebel. “Sy het my gehelp om my broek uit te kry en daar was bloed oral. Toe sê ek: ‘Dink jy nie ek is geskiet nie?’ ”.

Zoe Coufadis het Margaret Holloway gaan help.

By die Helen Joseph-staatshospitaal is bevestig sy is raakgeskiet. Die punt van die dwaal­koeël sit steeds in haar been omdat dokters glo dit sou te gevaar­lik wees om te verwyder.

Volgens Holloway het inwoners van die rusoord vroeër die dag al skote gehoor. “Dit was gevaarlik en vreesaanjaend.”

Lydia Adriaanse (73) het Sondag buite met ’n mede-inwoner, Aubrey Crowder (68), staan en gesels toe hulle die skote hoor.

Jennifer Heuvel: “Behalwe toe ’n man in 2016 ’n inbreker geskiet het, het so iets nog nooit hier gebeur nie.”

Crowder sê dit het soos ’n skyngeveg in die oorlog geklink.

“Een het ge-tatatatatata en ’n ander een het so ’n doef-doef-doef-geluid gemaak. Ons het na die muur toe gehardloop om te gaan kyk en nie gedink dat ons raakgeskiet kon word nie.”

James Lorimer, DA-LP, sê ’n koeël het op dié dag ’n venster van die huis van ’n 87-jarige man in Montgomery Park aan flarde geruk en hom rakelings gemis.

“Skote word jare al by bendebegrafnisse afgevuur. Die polisie sê hulle kan niks doen nie.”

Ander inwoners is ook verontwaardig oor die alewige geskiet – en vreesbevange.

Nicholas de Villiers, wat sowat 800 m van die begraafplaas woon, sê ’n koeël is laas naweek deur sy buurman se venster. De Villiers sê nadat hy vroeër sy huis se dak laat oordoen het, is ’n gaatjie weer in sy nuwe dak geskiet tydens ’n ANC-begrafnis.

Vincent Harris, Holloway se buurman, sê hulle is “so onnosel dat hulle nie gedink het die patroon ‘travel’ nie”.

“Naweek ná naweek word hierdie koeëls na ons huise gevuur. As ons ’n geskietery hoor, gaan ek, my vrou, ons seun en ons katte almal binnetoe omdat ons nie weet of dit loskruitpatrone of vol rondtes is nie,” sê hy.

’n Koeël is ook vroeër deur Demitrius Syriopoulos, wat sowat 500 m vanaf die begraafplaas woon, se motorafdak.

Katie Castelyn (82) sê hulle hoor gereeld skote uit die begraafplaas, “maar nooit so erg nie. Ons het nie gedink lewende ammunisie word geskiet nie. Dit kon al enigeen van ons getref het en ons kon dood gewees het.”

Leonie Engelbrecht, ook van Westdene, sê daar word elke tweede week uit die begraafplaas geskiet. “My sesjarige dogtertjie het ná die skote begin huil van skok. Ek het vir haar gesê om in te gaan en in die gang te gaan sit. Toe ons die semi-automatic hoor, het ek haar in my kamer verder af laat sit. Jy moenie dink jy gaan op ’n Saterdag of ’n Sondag buite wees nie. Dan begin hulle skiet. Ek kan nie begraafplaas toe gaan om blomme op my familie se grafte te gaan sit nie.”

Carl Niehaus, voormalige woordvoerder van die MKMVA, wat die begrafnis bygewoon het, sê hy het skote gehoor, maar wou nie bespiegel of dit een van dié koeëls was wat Holloway getref het nie. “Ek en Maphatsoe het vroeër verklarings uitgereik oor die gebruik van wapens by MKMVA-begrafnisse en dat die skote nie lewende ammunisie moet wees nie. Die afvuur van vuurwapens op begrafnisse word toegelaat, net as dit loskruitpatrone is.”

Xolani Fihla, woordvoerder van die Johannesburgse metropolisie, sê dit is ’n misdryf om ’n vuurwapen sonder goeie rede in ’n beboude gebied of openbare plek af te vuur. Loskruitpatrone mag net in selfverdediging of by sportgeleenthede gebruik word.

Jessie Duarte, adjunk-sekretaris-generaal van die ANC, sê sy hoop owerhede doen ferm stappe. “Dit is nie ’n teken van eerbied om ’n vuurwapen in die lug af te vuur as jy nie weet waar die koeël gaan beland nie. Hoewel die optrede sinoniem is met baie township-begrafnisse, maak dit dit nie reg nie.”

Brig. Vishnu Naidoo, polisiewoordvoerder, sê klagte ingevolge die rambestuurwetregulasies en een van poging tot moord word ondersoek. Niemand is sover in hegtenis geneem nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.