Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kyk: Hoe nou met dié bierbottel op die preekstoel, dominee?

Die NG gemeente in Prieska in die Noord-Kaap is effe onkant gevang toe hul dominee verlede Sondag op die kansel klim terwyl ’n leë Black Label-bierbottel reg langs hom staan.

En asof dit nie genoeg was nie, was die kerk besaai met leë tjips­pakkies, verfrommelde sigaretboksies, drankbottels en ander gemors – so al asof daar die vorige aand wild partytjie gehou is.

Sommer voor die diens al was talle gemeentelede warm onder die kraag toe foto’s van die gemors op die kerk se Facebook-blad versprei is. “Dis hoekom dinge so verswak in ons mooi land. Geen respek nie! Swak opvoeding!” lui een van die ontsteldes se kommentaar onder die foto’s.

Dit was eers nadat ds. DJ Muller met sy preek begin het dat hulle besef het: dit sluit alles aan by die tema van sy preek. Hy het ná die diens ook die boodskap saamgevat met ’n video op die kerk se Facebook-blad.

“Dis duidelik dat (die gemors) ’n paar mense ontstel het. Hoekom? Want dit hoort nie in ’n kerkgebou nie. Iets is onheilig of onrein omdat dit nie daar hoort nie. Vanoggend was ’n illustrasie om te sê hoe kan ons tevrede wees daarmee dat dinge wat nie by Christene hoort nie, wel by Christene te vinde is. Die Here gee vir ons ’n opdrag: Wees heilig, want ek is heilig.”

Hy sê hy wou illustreer hoe maklik mense die “gemors” in hul eie lewens by hulle laat verbygaan, en nie haastig is om daarvan ontslae te raak nie.

Daar was selfs ’n leë Black Label-bierbottel op die preekstoel.

Hy sê ’n vullisdrom op sigself is nie onrein nie, maar as ons ’n buite-asblik binnetoe bring, dink ons dit is onrein.

Met die gemeente se Pinksterreeks vroeër vanjaar was die fokus daarop om op ’n eenvoudige wyse ’n verskil in mense se lewens te maak. Een daarvan is om mense aan te raak. “ ’n Mens moet mense, veral mense wat anders is as jy, fisiek aanraak. Deur aanraking steek ’n mens grense oor,” sê hy.

’n Gemeentelid, Adri Havenga, sê talle kerkgangers het onmiddellik die dorp se dronklappe verdink. “Mense het aanvaar van dié mense het by die kerk ingekom.” Sy sê “van die ooms en tannies” het dadelik begin om die gemors op te tel, maar “dominee het gesê hulle moet dit los vir forensiese bewyse”.

Die preek het ’n impak gemaak. “My jongste dogter is 13 en ons het Dinsdag nog oor die preek gepraat,” sê Havenga.

Die nuus het soos ’n veldbrand versprei. Havenga sê haar skoonma, wat in Molteno bly, byna 500 km van Prieska af, het gebel om te hoor wat op aarde in Prieska aangaan nadat sy ook die foto’s op Facebook gesien het.

Meer oor:  Prieska  |  Predikant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.