Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Hoe ry dié kees ’n bok dan sit-sit so!

’n Bobbejaan wat van ’n gewisse dood gered is, is nou só geheg aan sy mens-ma dat hy die gesin sommer as bokwagter uithelp!

Klein Bollie die bokwagter-bobbejaan van die Kamiesberg in die Noord-Kaap sorg egter dat hy hom nie ooreis met die werkery nie. Hy ry sommer op ’n boerbok se rug veld toe as die trop gaan wei.

Bollie, die bobbejaan, en sy geliefde bokooi. Hy ry altyd so op die ooi se rug terwyl hy die wêreld bespied terwyl hy die bokke oppas. Foto: Verskaf

Dié bobbejaan was so 14 dae oud toe ’n vensterraam van ’n plaashuis hom neergepen het en Mardia Agenbag, ’n boervrou van die Kamiesberg-distrik, en haar man, Maans, op hom afkom.

“Toe ek daardie gesiggie sien, was hy dadelik my baba,” sê Mardia.

Bollie en sy trop het kom voer steel in ’n ou plaashuis op Tweefontein wat die Agenbags vol voer gepak het. Dit was in 2015 – ’n redelike droë jaar in die Namakwaland.

“Die bobbejane het agtergekom daar is voer en het die ruite begin breek. Maar hulle was te groot om deur die plaashuis se ou houtraamvensters, daardie vensters met swaar, groot rame, te kom.”

Dis toe dat kees se kind plan maak en die knippe begin oplig en die houtrame oopskuif.

Bollie is op 14 dae gered en versorg. Foto: Verskaf

Mardia sê toe hulle weer op ’n slag kom voer laai, kom hulle op die bobbejaantjie af: “Toe sit die ornamentjie daar vas!” lag sy.

Die venster se swaar houtraam het op sy voorarm en poot geval nadat die trop reeds met hul buit gevlug het.

Mardia het hom met haar sonhoed en baadjie bedek en hom bevry.

Die Agenbags het veeartse geraadpleeg en gesorg dat hy die regte behandeling kry.

Hoewel Bollie nou al sowat 4 jaar oud is, wou hy nooit sy mense-ma verlaat nie en het hy op die plaas agtergebly en met die bokke en hoenders vriende gemaak. Foto: Verskaf
bollie
Dit skeel Bollie blykbaar min dat hy sy voorarmpie verloor het.

Hy het maar so op die werf rondbeweeg en die Agenbags het hom kos gegee.

“Ons het gedink hy sal uiteindelik maar na die berge se kant toe beweeg, maar hy het eerder by die hansbokke ingetrek.”

Hy het vinnig sy mense-ma vertrou toe sy hom as kleintjie gered het. Foto: Verskaf

As Mardia saans met die bottels melk die hansbokke kom voer, is bobbejaan se kind alte nuuskierig – hy wou terstond ook ’n bottel hê!

So het dié hanskesie se verhouding met die hansbokke begin. Saans het hy daarop aangedring dat Mardia vir hom sy eie bottel melk bring voordat hy langs die bokke vir die nag inkruip.

Bollie het ook in ’n stadium Jakob-die-bobbejaan geheet toe daar ’n predikant op die plaas kom kuier het, maar, vertel Mardia – wat al die Florence Nightingale van die Kamiesberg genoem is omdat sy diere red – sy noem hom Bollie en hy reageer op dié naam.

Bollie kom groet nog elke keer as die Agenbags verbykom. Dan is dit eers tyd vir ’n lekker sappige appel. Maar nie vir te lank nie – netnou dwaal daar ’n bok af. Foto: Verskaf

Deesdae bly hy so 11 km van die Agenbags se plaashuis af tussen die bokke en pas hulle op. Dit wil voorkom of hy verlief geraak het op ’n spesifieke ooi.

“As ons in die veld kom, ry hy altyd op haar. Hy gaan soek eerste na die grootste mieliehoop, gaan sit dan wydsbeen daaroor en dan mag net sy ooi by hom kom wei.”

Altyd interessante dinge agter op die boer se bakkie. Hulle moet veral keer, want die sleutels word vinnig aangesien vir ’n speelding. Foto: Verskaf
As daar gevaar is, sal Bollie dit eerste gewaar. Foto: Verskaf

Dis ook van hier af wat hy altyd die gebied bespied.

“Hy klim af van die ooi se rug af en kom groet ons by die bakkie. Dan kry hy eers sy appel, granaat of ’n afgeskilde turksvy vir die dag. Ons kan selfs sy ruggie krap voordat hy weer bokke toe gaan, want die bokke mag nie te ver dwaal nie.

Bollie aan die speel met alles wat interessant lyk. Foto: Verskaf

“En die ooi sal ook skree na hom as sy hom nie sien nie.”

Mardia sê Bollie is vreeslik liefdevol.

“As die ooie lam, sal hy selfs lammers help ronddra.”

Die kwessies van die dag word eers met Maans “bespreek”. Foto: Verskaf

Meer oor:  Dieremaniere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.