Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Kyk: Houtbaai brand
’n Karavaan van die metropolisie is in Houtbaai aan die brand gesteek. Foto: Jaco Marais

Minstens drie voertuie – insluitend dié van die metropolisie se karavaan – het uitgebrand nadat betogings Maandagoggend in Houtbaai uitgebreek het.

Een man het ook skietwonde opgedoen.

Die Houtbaaihoofweg was teen druktyd nog gesluit, sowel as Victoriaweg tussen die polisiestasie en outehuis.

Betogers het sedert douvoordag Maandagoggend rommel aan die brand gesteek en Victoriaweg en die Hoofweg versper. Daar word reeds vanaf Saterdagoggend hier betoog.

Inwoners is ontsteld omdat hulle voel daar nie na hul griewe geluister word nie.

Richard Bosman, Kaapstad se direkteur van veiligheid en sekuriteit, sê die oorsaak van die betoging is ’n tekort aan elektrisiteit by tydelike behuising op Houtbaai se sportveld waar mense bly wat deur die brande in Houtbaai geraak is.

Sowat 100 betogers is tans op die toneel, het lt.kol. Andrè Traut, ’n polisiewoordvoerder, gesê.

“Protesaksies het vandag vir ’n derde keer opgevlam ná ’n dispuut oor behuising. Dit raak die toegangsroetes na en van Houtbaai.

Protesaksies het vandag vir ’n derde keer opgevlam ná ’n dispuut oor behuising. Dit raak die toegangsroetes na en van Houtbaai
Andrè Traut, Polisiewoordvoerder

“Die polisie het ’n aantal polisiebeamptes van die polisie se wet-en-orde-, stabiliserings- en sigbare polisiëringseenheid na die toneel ontplooi om die situasie te monitor.

“Ons werk nou saam met ons wetstoepassende beamptes om die situasie te verlig en om die omgewing te herstel.

“Ons sal nie die gebied verlaat totdat ons tevrede is dat die bedreiging vir die gebied verlig is nie. Ons moedig die gemeenskap aan om versigtig te wees.”

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, het gesê die situasie is duidelik nie meer vreedsaam nie.

’n Karavaan van die metropolisie is in Houtbaai aan die brand gesteek. Foto: Jaco Marais
Die karavaan verswelg in vlamme. Foto: Jaco Marais

“Dit het nou oorgeskakel na misdadige aktiwiteite met betogers wat nou op sypaadjies inbeweeg het en voertuie aan die brand gesteek het.”

Ook ’n mobiele eenheid wat as ’n kombuis gedien het vir slagoffers nadat brande vroeër hier uitgebreek het, is vernietig.

’n Aanval op ’n ouetehuis is net-net gekeer.

’n Waterkanon is op die toneel.

“Elke beskikbare beampte van die metropolisie en die stadsraad is op die toneel. Die polisie het ook ’n sterk teenwoordigheid hier.”

Robert Daniels, woordvoerder van die Wes-Kaapse regering se mediese nooddienste, het bevestig dat hulle omstreeks 10:30 na die betoging ontbied is, nadat 'n volwasse man 'n skietwond op sy bors opgedoen het wat hom in 'n kritieke toestand gelaat het. "As gevolg van voortgesette geweld en padsluitings in en om Houtbaai, kon mediese nooddienste eers om 11:00 die pasiënt bereik en uiteindelik eers om 12:00 vanmiddag die man, steeds in ‘n kritieke maar stabiele toestand, na die Victoria-hospitaal oorhandig het." 


Volgens. brig. Novela Potelwa, 'n polisiewoordvoerder, is planne in plek vir verdere samesprekings om plaas te vind tussen die stadsraad en gemeenskapsleiers. "Talle voorvalle van brandstigting en opsetlike saakbeskading word deur die polisie ondersoek. Wetstoepassende beamptes kyk na die beskerming van eiendom, verkeersvloei en die sigbaarheid van beamptes," het Potelwa gesê.

Vier mans is in verband met klagtes van openbare geweld in hegtenis geneem en sal binnekort in die hof verskyn.

"Die polisie erken die reg van individue om te betoog, hoewel ons mense in dieselfde asem aanmoedig om binne die perke van die wet te bly en nie op ander se regte inbraak te maak nie."

Patricia de Lille, Kaapse burgemeester, het in 'n verklaring gesê dit is hoog op haar prioriteitslys om met die gemeenskapsleiers te ontmoet. Sy sê wou Maandagoggend met gemeenskapsleiers gaan vergader het, maar is verbied om toegang tot die gemeenskap te kry.

"Die ontwrigting in die gemeenskap bereik nou 'n gevaar, maar ek bly vasberade om persoonlik met die inwoners te gaan praat en na hul kwessies te luister."

Hou Netwerk24 dop vir die jongste verwikkelinge.

’n Voertuig brand in Houtbaai. Foto: Jaco Marais
’n Metropolisiebeampte blus hier ’n voertuig wat vroeër in Houtbaai aan die brand gesteek is. Foto: Jaco Marais
Inwoners versper Victoriaweg nadat hulle rommel aan die brand gesteek het. Foto: Jaco Marais

Meer oor:  Kyk  |  Betoging  |  Houtbaai  |  Brand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.