Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Indrukwekkende wolke hang oor land

Die indrukwekkende wolkformasies wat mense die laaste tyd oor die somerreënvalgebied gesien het, is normaal vir Suid-Afrika, maar beslis nie alledaags nie, sê twee weerkenners van die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD).

Quinton Jacobs, ’n senior voorspeller, en Kevin Ingram, ’n voorspeller, sê van die wolke lyk onheilspellend, maar bring nie noodwendig hael nie.

Dit is moeilik om te sien of ’n wolk hael sal bring, omdat ’n mens nie weet wat binne die wolk aan die gang is nie.

As daar ’n aanduiding is van sterk opwaartse strominge is die kanse goed dat daar hael kan val, sê hulle.

Muurwolke (murus) of ’n donderstorm met Arcus-wolke dui gewoonlik aan of ’n wolk moontlik hael kan bring.

Mamatus-wolke wat soos wolkballe lyk wat uit die aambeeld van die wolk val, dui ook aan hoe erg ’n storm kan wees.

Die Mamatus-wolke lyk letterlik soos borste, vandaar die naam, sê Jacobs en Ingram.

Om meer oor die verskillende wolkformasies te leer kan mense die skakel van die Wêreld- Meteorologiese Organisasie (WMO) volg.

Indrukwekkende wolkmassas het die laaste tyd oor die land heen voorgekom. Hierdie foto is by Bloemfontein geneem.Foto: Facebook
Nog indrukwekkende wolke by Bloemfontein.Foto: Facebook
Die wolke is in Parys afgeneem.Foto: Facebook
’n Stratocumulus-wolk het onder ’n donderstorm gevorm. Dié foto is by Drieriviere geneem.Foto: Facebook
Stratocumulus-wolke vorm wanneer dit aanhou reën wanneer meersellige donderstorms gevorm het en die lug onder die wolk baie vogtig is. Die vogtige lug word onstabiel wat daartoe lei dat Stratocumulus-wolke vorm. Dié wolke is by Ladybrand afgeneem.Foto: Facebook
Dié wolkmassa by Odendaalsrus is ’n voorbeeld van ’n Cumulonimbus Capillatus-wolk. Die wolke vorm wanneer ’n donderstorm reeds baie ver ontwikkel is en sal met hael, sterk winde en weerlig gepaardgaan. Die bokant van die wolk lyk gewoonlik soos ’n aambeeld, ’n kop vol deurmekaar hare of ’n pluim.Foto: Facebook
Wanneer meersellige of “super”-donderstorms vorm, sak die wolkbasis baie laag af en vorm ’n muurwolk of Murus-wolk, soos op dié foto wat by Oranjeville geneem is. Dié soort wolkformasies vorm gewoonlik in die deel van die donderstorm waar dit nie reën nie en is ’n aanduiding van ’n sterk opwaartse vloei van lug. Foto: Facebook
Die wolk bokant die wit wolk is ’n Cumulonimbus Calvus-wolk, wat aandui dat ’n donderstorm besig is om te ontwikkel. Dié wolke is by Potchefstroom afgeneem. Op die voorgrond is Cumulus Congestus-wolke te sien. Dié wolke word ook toringagtige Cumulus-wolke genoem en word in die middelste fase van die ontwikkeling van ’n donderstorm gesien. Die toringwolke is gewoonlik hoër as wat hulle breed is en wanneer ’n mens dié wolkformasies sien, is dit ’n aanduiding dat toestande gunstig is vir die vorming van donderstorms en ook dat daar reeds aktiewe donderstorms in die omgewing is. Foto: Facebook
Dié wolk by Odendaalsrus is ’n Cumulonimbus-wolk wat danksy die son wat daarop skyn ’n reënboog gevorm het. Die weerdiens sê reënboë vorm ná ligte of swaar reën. Foto: Facebook
Hierdie Stratus Fractus-wolke is by Ladybrand afgeneem. Die wolke kom dikwels aan die onderkant van ’n wolkformasie voor waar hulle as gevolg van winde losgebreek het van die wolkbasis. Die wolke het ’n gehawende voorkoms en lyk byna soos spookasem wat geskeur is.Foto: Facebook
Dié Arcus-wolke is by Standerton in Mpumalanga afgeneem en is soortgelyk aan die wolke by Reddersburg.Foto: Facebook
Dié wolke is by Reddersburg in die Suid-Vrystaat afgeneem en is volgens die weervoorspellers voorbeelde van Arcus-wolke. Dit is digte horisontale wolke waarvan die rante in die laer gedeeltes van die wolke “gehawend” lyk. Die wolke lyk onheilspellend en kom gewoonlik tydens donderstorms voor en kan binne in Cumulonimbus-wolke vorm. Die wolke is nie ’n aanduiding van die graad van die donderstorms nie en vorm terwyl dit reën. Die lug onder die donderstorm koel af en word vogtiger wat daartoe lei dat die wolkbasis laer afsak en dan lyk asof dit geskeur is. As daar baie donderstorms in ’n gebied is, kan mense verwag om meer van dié soort wolke te sien.Foto: Facebook

Meer oor:  Sa Weerdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.