Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Inwoners van Eersterust woedend oor uitsettings

Die gemeenskap van Eersterust in Pretoria is ontstoke nadat die Tshwane-metro en -metropolisie Woensdagoggend die sinkhuise van onwettige grondbesetters verwyder het.

Die gemeenskap is veral omgekrap omdat owerhede glo rubberkoeëls op die besetters en ander inwoners afgevuur het.

“Ons het hierdie ding baie peaceful hanteer. Kyk hoe lyk ek. Ek is geskiet. Toe ek geskiet is, toe staan ek en vra hoekom skiet julle op ons? Wat het ons mense gedoen wat verkeerd is?” sê Herbert Hartell, gemeenskapsleier in Eersterust.

‘n Lid van die Tshwane-metropolisie skiet met rubberkoeëls op betogers in Eersterust. Die inwoners het slaags geraak met die polisie en paaie versper nadat onwettige grondbesetters se sinkhuise afgebreek is. Foto: Deaan Vivier

Hy sê die owerhede het Woensdagoggend ingetree en inwoners se sinkhuisies afgebreek. “Ons mense het nie blyplek nie. Ons mense het nie werk of kos nie. Daar is leë grond wat staan. In Mamelodi, Soshanguve en Hammanskraal vat die mense grond en die regering doen niks. Wanneer ons grond vat, dan word onse mense geskiet wat vacant grond vat wat aan niemand behoort nie! Niemand in die gemeenskap was genader en ingelig dat die grond verkoop is nie,” sê Hartell.

Hy sê die hardhandige optrede het tot onluste gelei. Dik rook van brandende buitebande het oor die gebied gehang en paaie is versper.

Die dik swart rook van brandende buitebande het oor Eersterust gehang en paaie is versper uit protes teen die uitsetting van onwettige grondbesetters. Foto: Deaan Vivier

Justine Steenkamp (35), een van die inwoners wie se sinkhuisie afgebreek is, is ook omgekrap oor die

metropolisie se optrede. “Hulle het op ons begin skiet met rubberkoeëls, dit terwyl daar klein kinders in die omtrek was,” sê sy.

“My kinders het weggehardloop en skuiling gaan soek. Ek was bang dat hulle vermis sou raak. Gelukkig kon ek hulle later weer opspoor toe dinge rustiger geraak het,” sê Steenkamp.

Twee van haar eie kinders en haar suster se kind was by haar toe die huise afgebreek is.

Sy het drie dae lank in die sinkhuis saam met haar kinders en twee ander mense gewoon.

Ruvan Platt (30), Justine Steenkamp (35), Tyric Steenkamp (5) en Contessa Hartzi (38) by die oorblyfsels van hul houthuis nadat dit afgebreek is. Foto: Deaan Vivier
’n Rubberkoeël het Herbert Hartell onder die oor getref. By hom is Ebrahim Morris, ook ’n inwoner van Eersterust. Hulle is baie omgekrap oor die uitsetting van onwettige grondbesetters. Foto: Deaan Vivier

“Ons het alles verloor. Ek het my kinders se staatstoelaes gebruik om die sinkplate vir my huis te koop. Nou het ek niks meer geld oor nie en boonop is ek werkloos,” sê sy. Steenkamp is moeg vir die regering se beloftes. “Hulle beloof ons al jare huise en werk. Ons het nog niks daarvan gesien nie. Ons moes self plan maak en hier kom bly.”

Sy sê sy en haar kinders sal voorlopig by haar suster intrek.

“Ek beplan egter om weer my sinkhuise daar te gaan opsit. Ander inwoners het reeds hul huise herbou. Ons moet terugbaklei,” sê sy.

Isaac Mahamba, woordvoerder van die Tshwane-metropolisie, het bevestig dat die grond waarop die inwoners sinkhuise gebou het aan die Tshwane-metro behoort. “Die stadsraad het ’n hofbevel bekom om die sinkhuise te verwyder. Die metropolisie het die stadsraad met die verwydering van die strukture bygestaan. Ons hou die situasie steeds dop,” sê hy.

Mahamba het nie op navrae oor die gebruik van rubberkoeëls gereageer nie.

Meer oor:  Sinkhuise  |  Eersterust  |  Onwettige Strukture  |  Afgebreek  |  Uitsettings  |  Pretoria
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.