Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Jaer kritiek nadat hy N1-eiland in straatren tref

Die Kaapstadse metroraad het die verwoesting wat onwettige straatwedrenne op die provinsie se paaie aanrig ten sterkste veroordeel.

Dit volg nadat ’n video van ’n onwettige straatwedren op sosiale media versprei is. Die wedren het Maandagoggend op die N1 by die Sableweg-afrit naby Century City plaasgevind en in ’n ongeluk geëindig.

Op die video kan daar duidelik gesien word hoe die bestuurder van ’n blitsvinnige BMW en ’n motorfietsryer blykbaar in ’n jaagtog betrokke is.

Die wrak van die BMW wat in die straatwedren op die N1 naby Century City deelgeneem het.Foto: ER24

Die motorfiets en motor kom teen ’n ysingwekkende spoed op die snelweg aangejaag, voordat die bestuurder van die motor beheer oor die voertuig verloor en ’n ongeluk maak.

Die 26-jarige bestuurder is in ’n kritieke toestand in ’n Kaapse hospitaal.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê die slagoffer se motor het teen ’n hoë spoed teen die verkeerseiland op die N1 gebots waarna die voertuig oor die snelweg teruggeskiet en in die noodbaan tot stilstand gekom het.

Die 26-jarige man het beserings aan sy kop en knieë opgedoen en is na die Life Vincent Pallotti-hospitaal in Pinelands geneem.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid in die stad, sê hul verkeersafdeling is bewus van die video.

“Die bestuurder van die BMW M3 wat in die wedren betrokke was, is ernstig beseer in die voorval.”

Smith sê die groep mense wat op die brug saamdrom om die resies dop te hou en wat die voorval verfilm het, is ewe kommerwekkend.

Hy sê die voorval is deel van ’n voortslepende probleem wat Kaapstad se verkeersbeamptes, veral die stad se sogenaamde Spookeenheid – so genoem omdat hulle ongemerkte voertuie gebruik – week ná week moet hanteer.

“Gelukkig is niemand anders in dié voorval beseer nie,” sê Smith.

Hy sê daar was al volop gevalle waar onskuldige mense met hul lewe moes boet vir ander se roekeloosheid op die paaie.

Smith sê die voortgesette wetteloosheid op die Kaapse paaie is uiters teleurstellend. Die stad se verkeersafdeling het die afgelope week 123 verdagtes in hegtenis geneem en 1 793 boetes vir verskeie oortredings uitgereik.

Smith sê al kan die Kaapse verkeersafdeling mense nie vervolg op grond van videomateriaal wat inwoners geneem het nie, kan die polisiediens (SAPD) wel die saak ondersoek.

“Ons hoop hulle doen dit in dié geval,” sê Smith.

Die metroraad het reeds met die nasionale vervolgingsgesag (NVG) oor dié voorval kontak gemaak, maar die vervolgingseenheid het aangedui dat hulle nie ’n saak kan open of kennisgewings kan uitreik gegrond op lede van die publiek se verklarings nie en dat slegs die SAPD so ’n saak kan ondersoek.

Intussen was lede van die Spookeenheid Sondag op die N2 in die rigting van Somerset-Wes in ’n jaagtog betrokke nadat hulle ’n voertuig agternagesit het wat teen ’n spoed van bykans 200 km per uur gery het.

“Die bestuurder het geweier om stil te hou en tot die verbasing van die beamptes, het die bestuurder sitplekke met sy passasier omgeruil in die middel van die jaagtog. Toe eers het die voertuig afgetrek,” sê Smith.

Volgens Smith is die oorspronklike bestuurder in hegtenis geneem op aanklag van roekelose en nalatige bestuur, asook dronkbestuur. Hy en sy passasier word albei van regsverydeling aangekla.

Smith sê die voortgesette wetteloosheid op die Kaapse paaie is uiters teleurstellend. Die stad se verkeersafdeling het die afgelope week 123 verdagtes in hegtenis geneem en 1 793 boetes vir verskeie oortredings uitgereik.

Van hulle het 92 onder die invloed bestuur, 21 het uitstaande lasbriewe gehad en die res is gevang vir roekelose en nalatige bestuur, bedrog en regsverydeling.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.