Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Jesus se vlugtelinge droom van nuwe hemel

Paulus sou sy hande vol gehad het as hy hom vandag in Turkye bevind het. Want die Iranse vlugtelinge, wat verban is oor hul Christenskap en tydelik hier nesskop, is honger. Vir gemeenskap, vir bemoediging, vir laataand-kuiers met ’n suikerklont in die kies. Cheréne Pienaar het twee weke lank met ’n groep sendelinge by hulle aan huis gegaan en die lewe as ’n banneling ervaar. 

Irannees en Afrikaans, en ’n bietjie hondetaal, word gehoor in dié klein woonkamer van Waheid Hassan en sy seun Ramin.

’n Strepie skemerlig kondig die einde van nog ’n dag in Nevsehir in die streek Kappadosië, Sentraal-Turkye, aan. Op vlak sewe in ’n naamlose woonstelblok is ’n groep Iraniërs en Suid-Afrikaners besig om ’n oop tenk wat op sy sy lê met water te vul. Môre-aand word vier vlugtelinge, wat uit Iran verban is oor hul Christenskap, hier gedoop.

Pastoor Armeen Madani (50) het gaan stap met Belle, die gesin se basterbrak. Elke gesin het ’n hond.

In die Madani’s se huis, die woonstel drie vlakke onder die kerk, vertel David (24), Armeen se oudste, ons van ’n nuwe app wat jou in staat stel om die ganse sterrestelsel te sien.

Hy mik met sy foon na die dak, angstig vir ’n nuwe blik.

“Dit sou beter in ’n woestyn wees,” sê hy en laat lomp sy arms sak.

Hy en Laleh (42), sy ma, bepraat iets in Farsi.

“Kyk hoe vol liefde is sy oë vir haar,” merk iemand in Afrikaans.

Tee sonder melk word in fyn glase bedien. Met ’n hoop suikerblokkies, wat volgens hul tradisie tot die laaste druppel en gesprek in die kies gehou word sonder om te verkrummel.

Vyf sendelinge het al die pad van die Kairos-gemeente in Bloemfontein kom kuier. Suretha Odendaal vertel hoekom hulle jaar ná jaar al die pad na dié en ander gesinne uitreik.

Ramin Hassan met sy doop in ’n klein Iranse woonstelkerk in Nevsehir, Turkye, waar ’n Suid-Afrikaanse pastoor en Iranse Christene hom ondersteun het. Hy en Waheid, sy pa, het onlangs hierheen gekom nadat hulle uit Iran verban is weens hul Christenskap.
Mohamad Ramezani en pastoor Armeen Madani met die aanbiddingsessie in sy kerk in ’n woonstelblok in Nevsehir. Die kunswerk teen die muur is ’n uitdruk van Rembrandt se Verlore Seun. Daar is vyf Iranse Christenkerke in dié dorp, wat ondergronds beoefen word.
Jakobus Booysen, ’n jeugpastoor van die Kairos Gemeente in Bloemfontein lei die doop van Waheid Hassan, ’n Iranese Christen, in die ondergrondse kerkwoonstel in Nevsehir, Turkye. Dit was ’n heilige oomblik toe Suid-Afrikaners en Iranese vir Waheid se geloofsreis gebid het. Foto: Cheréne Pienaar
Ramin Hassan met sy doop in ’n klein Iranese woonstelkerk in Nevsehir, Turkye, waar ’n Suid-Afrikaanse pastoor en Iranese Christene hom ondersteun het. Christenskap. Foto: Cheréne Pienaar

“Dit gaan oor verhouding. Ons staan in ’n liggaam waarvan ons deel is. Ons is ’n kleiner deel van die liggaam wat kom besoek aflê in die groter liggaam hier. En ons het ’n verhouding met die mense, en ’n verhouding vra kontak.

“Wanneer ons kontak het met mekaar, kan ons die vloei van die Heilige Gees toelaat, so dis nie ons wat gaan om te bedien nie, ons is net die kanaal van die Heilige Gees om te bedien.”

Dit is haar vyfde besoek en sy en die Iranse Christene in Turkye ken mekaar goed.

“As ons hier kom, gebeur iets heeltemal anders as wat ons beplan. Ons gaan om vir die mense te sê Jesus het hulle nie vergeet nie en dat Hy moeite met hulle wil doen. En dat hulle nie hoop moet verloor nie. Hoop is in iets konkreet en die gemene faktor is Jesus.”

Samuel (16), David se jonger boetie, staan tussen ons, besig om die WiFi-kode in ons fone te pons.

Die meeste Iranse kinders het hul Engels aan YouTube te danke. Ons bring pakke bevrore spek om dankie te sê vir David se tolkwerk.

Dit is die Madani’s se vierde jaar in Turkye. Daar wag weer ’n onderhoud om die draai om by “Land 3” uitgeplaas te word, sê Laleh. Dit is lande soos Australië, Kanada, Nieu-Seeland en Amerika.

Met die aanbiddingsuur sing sy ’n lied wat selfs Belle grootogig na haar laat staar. Dis ’n smeekgebed vir ’n nuwe hemel, weet jy sonder om ’n woord te verstaan.

David, wat nie studeer of ’n salaris kan verdien weens hul situasie, beskou homself as ’n Instagram-evangelis. Hy voer daagliks gesprekke met Moslems in Iran met die doel om hulle uit te nooi na die Christenskap.

Jeugpastoor Jakobus Booysen van Bloemfontein en pastoor Armeen Madani doop Ramin Hassan, een van die Iranse Christene wat tydelik in Turkye is omdat hulle weens hul Christenskap uit hul tuisland verban is. Foto’s: Cheréne Pienaar
Helene Cloete van die Kairos-gemeente in Bloemfontein en ’n fisioterapeut, neem ’n glasie Iranse swart tee by Khacereh. Volgens hul tradisie word ’n suikerklont in die kies gehou.

“Glo jy wat jy glo omdat jou ouers vir jou gesê het om so te glo?” is sy openingslyn.

Ons kuier op ’n dik, Persiese tapyt in Waheid Hassan (50) en sy seun Ramin (18) se piepklein huis. Waheid gee karateklasse en Ramin is ’n kelner.

Sy vrou wou nie saamkom Turkye toe nie, vertel Waheid. Dié seer is op sy gesig geteken as hy oor haar praat.

Maar hulle het geen keuse gehad nie; Ramin moes in Iran weermag toe gaan en hy kon dit nie toelaat nie.

“Ons moet bid vir sy huwelik,” sê David.

“Hierdie is nie ons huis nie. Jy is eenvoudig nie in beheer van jou situasie nie.”

Ons stap woonstel toe om die kerk voor te berei vir die doop.

“Oe, hy laat my hart pyn,” sê Helene Cloete en gryp na haar bors.

As ’n fisioterapeut het sy toegerus met naalde in haar tas gekom om die vlugtelinge se skete te verlig.

’n Paar warm emmers water later is die dooptenk reg. In ’n oorvol kerkwoonstel word daar ’n grap of twee gemaak om die spanning te verlig.

Laleh Madani kyk toe hoe Khacereh Joakar haar seuntjie Turan Joakar omhels. Sy is ook agt maande swanger met ’n dogtertjie, Wiehan, wat groot en dapper beteken.
Die Turke én Iranese bedien hul swart teen in ’n glas met suikerklonte wat in die kies gehou word.Foto: Suretha Odendaal
Fatemeh Fatolahnejad (38), ’n kunstenaar, praat oor hoe geseënd sy is om vir ’n Nederlander te werk wat haar nie onderdruk omdat sy ’n vlugteling is nie.

Klein Turan Joakar (4) druk sy vingertjie in sy mond en staar na die golwe en hul weerkaatsings. Waheid se oomblik het aangebreek.

Halflyf in die bad, sien hy ons Afrikaners, sy Iranse vriende, en Ramin, die enigste stukkie Iran wat hy oor kon hou.

Dan sit Jakobus Booysen (27), jeugpastoor, en Armeen hul hande op sy skouers en bid.

Hy haal diep asem, druk sy neus toe en verdwyn onder die water. ’n Stilte heers met net ’n sagte neurie van ’n lofgesang.

Hy hoor nie die moskee se alewige gebedsroeping buite nie.

In die indompeling is sy lewe in sy land van vaders wat voor hom opkom, sy lewe in ’n tydelike land, sy geloof, sy droom van ’n nuwe land. Dan kom hy op met oop handpalms, omring deur ’n luide applous.

“Waheid het sy lewe omgeruil,” sê Jakobus. Hy het gesterf en opgestaan saam met Jesus.

Sy hartseer bly nie agter in die water nie, maar hy kan huil met hoop in die wete dat hy deel van ’n liggaam is en altyd sal wees, kom dit uit in die gesprekke hierna in die bykans heilige oomblik in ’n klein woonstelletjie in Turkye tussen Suid-Afrikaanse en Iranse Christene. Hier is hulle broers en susters in Jesus.

Fatemeh Fatolahnejad (38), een van die Iranese vlugtelinge, is ’n kunstenaar wat vir ’n Nederlander werk. Haar keramiekkuns is gewild onder die Turke. Foto: Verskaf
Fatemeh Fatolahnejad (38), een van die Iranese vlugtelinge, is ’n kunstenaar wat vir ’n Nederlander werk. Haar keramiekkuns is gewild onder die Turke. Foto: Verskaf

Daarna wag ’n feesmaal van hoender en safraan, rys, Coke en bottels vol Ayran, suurmelk wat deur Turke én Iraniërs met elke maaltyd geniet word.

“Nét vanaand is Jupiter reg in lyn met die maan,” sê Ervin waar ons op die balkon staan. Nes die Turkse vlag met sy skelrooi agtergrond, dink ek.

Daar is vyf Iranse Christenkerke in Nevsehir.

Hoewel Turkye ’n sekulêre stad is, word Christenskap nie in die openbaar beoefen nie. ’n Iraniër is glo net die ander dag in hegtenis geneem toe hy die Evangelie met ’n Turk wou deel.

“Goeiemôre,” sê Laleh ondeund waar sy die volgende oggend langs ’n gedekte ontbyttafel staan. Potjies olywe, neute, komkommer, tamatie, ’n bak skyfies en eier. Brood en nog brood.

“Salam, sobh bekheir!” groet die sendelinge terug.

Daar is altyd ’n musiekinstrument byderhand in die Iraniërs se huise. Soms is dit liedere van aanbidding, gesange uit Iran, hartseer en ragfyn sketse van beter dae in hul tuisland.

Baie Iraniërs wat in hul land woon, is nie Moslems nie, maar beoefen dit in die openbaar om konfrontasie te vermy.

Waheid se vrou wou gehad het haar man en seun moet hul nuwe geloof stil hou.

Fatemeh Fatolahnejad (38), een van die Iranese vlugtelinge, is ’n kunstenaar wat vir ’n Nederlander werk. Haar keramiekkuns is gewild onder die Turke. Foto: Verskaf

Maar jy kan nie stilbly as jy ’n Christen is nie, sê Bizhan Ghorbani, ’n pastoor by wie ons die volgende paar dae in die kusdorp Zonguldak woon. Hy is al meer as 60 keer in hegtenis geneem, en het ook daar bewaarders rooi laat sien toe hy Moslem-gevangenes hul geloof laat heroorweeg het.

Sy ouers, suster en haar twee dogters, wat steeds in Shiraz woon, het ook kom kuier. Koue slaaie, ge-Gladwrap in tasse, word uitgepak ná die drie uur lange vlug.

“Iran,” sê Javid (68), Bizhan se pa, trots en wys na die druiwekonfyt op die tafel.

Javid glo in niks nie, maar soos ’n liefdevolle oupa ontferm hy hom oor my en met elke aanbiddingsessie en diens is hy tussen ons.

As finale waarskuwing het die polisie Bizhan se gewrigte aan sy enkels vasgemaak voordat hulle hom dae lank in ’n meter by meter ruimte opgesluit het. Hy was aan dwelms verslaaf en het ’n geestelike ervaring gehad toe hy toevallig die kruis op ’n Bybel sien wat in ’n taxibestuurder se paneelkissie gelê het. “Die beste ding wat met Christene kan gebeur, is vervolging. Dit is wat Suid-Afrika se kerke nodig het, want waar daar vervolging is, is daar lewe.”

Fatemeh Fatolahnejad (38), een van die Iranese vlugtelinge, is ’n kunstenaar wat vir ’n Nederlander werk. Haar keramiekkuns is gewild onder die Turke. Foto: Verskaf
Fatemeh Fatolahnejad (38), een van die Iranese vlugtelinge, is ’n kunstenaar wat vir ’n Nederlander werk. Haar keramiekkuns is gewild onder die Turke. Foto: Verskaf
Sosaties, reisgeregte met safraan en Zereshk, ’n Iranse bessie, maak van die geregte uit. Foto: Suretha Odendaal
Zonguldak, ’n kusdorp in Turkye. Foto: Suretha Odendaal
Turan Joakar (4) verwonder om aan die dooptenk.Foto: Cheréne Pienaar
Mohamad Ramezani en pastoor Armeen Madani met die aanbiddingsessie in sy kerk in ’n woonstelblok in Nevesehir. Die kunswerk teen die muur is ’n uitdruk van Rembrandt se ‘Verlore Seun’. Daar is vyf Iranese Christenkerke in dié dorp, wat ondergronds beoefen word. Foto: Cheréne Pienaar
Iranese vroue geniet die feesmaal ná die doop in die ondergrondse kerk in Nevsehir, sentraal Turkye.Foto: Cheréne Pienaar
Ramin Hassan, Kamran Esfandiari en Jakobus Booysen lei die aanbiddingsdiens in die kerkie in Nevsehir, sentraal Turkye. Foto: Cheréne Pienaar
Turan Joakar (4) en Helene Cloete, ’n sendeling en fisioterapeut van Bloemfontein, geniet ’n gemoedelike oomblik, sonder om mekaar se tale te praat.Foto: Cheréne Pienaar
In Nevsehir bly die meeste van die inwoners in woonstelle. Huise hier is baie skaars.Foto: Cheréne Pienaar
Ook Iranese kinders is word nie selfoonspeletjies gespaar nie. Foto: Suretha Odendaal

Hy bid nie vir nog kerklede nie. “Elke nuwe gesig beteken iemand het Iran verloor.”

’n Taxi lê buite op sy toeter. Die einde van ons besoek in Zonguldak het aangebreek. Javid kyk fronsend na ons. “Wat van my?” vra sy oë.

Met Bizhan as tolk kniel die sendelinge om hom en bid. Trane vloei oor sy wang.

Ek vra vir Suretha op pad lughawe toe oor wat gebeur het.

“Jakobus het Bizhan gelei om self sy pa te lei om deur die goeie saad van die Evangelie Jesus aan te neem as sy Saligmaker en Verlosser. En hy het.

“Dit is vir my die hoogtepunt van die uitreik.”

  • Van die name van die vlugtelinge is verander ter wille van hul veiligheid.
Hoe werk Iranse vlugtelingskap?

Die Iranse vlugtelinge word onthef van alle titels die oomblik as hulle verban word. Ook hul akademiese rekords word gekanselleer. Die regering besluit waar in Turkye om die vlugtelinge uit te plaas, waarna hulle moet aansoek doen by “Land 3” om daarheen verskuif word. Dit sluit ’n reeks strawwe onderhoude in.

Ná die goedkeuring, kry die vlugtelinge hul paspoorte en regte terug.

Hulle moet dan binne ’n week oppak en kan net een tas per persoon saamneem. Die meubels wat hulle in Turkye aangeskaf het, word so gelos vir die volgende vlugtelinge.

Dit is hul wens om te gaan, maar in elke vlugteling se hart skuil ’n droom om terug Iran toe te gaan.


Meer oor:  Jesus  |  Bloemfontein  |  Iran  |  Turkye  |  Vlugtelinge
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.