Makoko, die Johannesburg-dieretuin se gorilla, het Dinsdag sy 34ste verjaardag gevier.
Hy was salig onbewus van die groot verrassing in sy hok waar ’n verjaardagkoek, ’n beker springmielies, ’n bottel gevul met rooibostee en ’n bos rose op hom gewag het.
Hy het ’n draai om sy klimraam geloop en toe die bederf op ’n groot klip raakgesien.

Makoko die gorilla in die Johannesburg-dieretuin verlustig hom aan sy verjaardagkoek. Hy het ook ’n beker springmielies, rooibostee en ’n bos rose gekry ter viering van sy 34ste verjaardag.Foto: Felix Dlangamandla

Makoko die gorilla in die Johannesburg-dieretuin bekyk die mense wat hom op sy verjaardag dophou.Foto: Felix Dlangamandla
Makoko ruik eers aan die bak springmielies en sit dit neer.
Daarna haal hy ’n piesangstukkie van die koek af en druk dit in sy mond, loop ’n draai en kom terug vir nog. Dié keer breek hy ’n stuk koek af en eet dit.
Makoko se verjaardagkoek bestaan uit monkey chow, piesang, energiestafies en grondboontjiebotter. Monkey chow is ’n pap wat spesiaal vir primate geformuleer is.
Elke dan en wan kyk hy vir die mense wat hom nuuskierig en aandagtig dophou.
Wanneer die koek bykans op is, vat hy sy springmielies en rooibostee om dit elders agter ’n groot klip te geniet. Die mense skuif om hom uit ’n ander hoek dop te hou. Hy eet eers die springmielies en sluk dit dan met die rooibostee af.
Daar was ook ’n mandjie met vrugte en groente om aan te peusel in sy hok.
Makoko is op 9 Julie 1985 in die Wilhemina-dieretuin in Duitsland gebore. Hy is einde 2004, op die ouderdom van 19, na Suid-Afrika gebring.

Makoko die gorilla probeer sy bottel rooibostee oopmaak. Foto: Felix Dlangamandla

Makoko die gorilla in die Johannesburg-dieretuin het Dinsdag 34 jaar oud geword. Hier eet hy ’n stukkie piesang op sy verjaardagkoek. Foto: Felix Dlangamandla

Makoko eet ’n stukkie piesang van sy verjaardagkoek.Foto: Felix Dlangamandla
Hy het Dinsdag laat geslaap totdat sy lekkernye om 10:00 vir hom uitgepak is.
Volgens Katherine Visser, kurator van die Johannesburg-dieretuin se primate, wil hulle met die viering van Makoko se verjaardag bewusmaking oor gorillas as spesie skep.
“Makoko se verjaardag is ’n goeie verskoning om hom te bederf. Gorillas is baie spesiale diere en hulle is bedreig,” sê Visser.
Makoko weeg sowat 200 kg en is 1,8 m lank as hy regop staan. Hy deel ’n hok met poue en duikers en hou geen gevaar vir hulle in nie.