Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse LUR van landbou, het ’n interdepartementele komitee vir landelike veiligheid op die been gebring om te fokus op die veiligheid van die boeregemeenskappe in die provinsie.
Meyer het boere in die Suid-Kaap toegespreek oor die provinsie se landbouprioriteite, voedselsekerheid, landbou-uitvoer en die pad vorentoe.
Die komitee is reeds aan die gang en Meyer dien as voorsitter van die komitee waarby sy departement asook die departement van landbou betrokke is.
Hy sê boere het die ondersteuning nodig van die regering om hul veiligheid te verseker.
“Veiligheid in die landbou is ’n kritieke prioriteit vir die regering. Ons boeregemeenskap word links en regs aangeval. Dit kan nie so aangaan nie, want as ons weer sien, sal daar nie meer boere oor wees nie en sal ons voedselsekerheid in die gedrang kom.”

Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse LUR van landbou.
Hy sê die komitee sal toesien dat ondersoeke na plaasmoorde en -aanvalle die regte prosesse volg sodat die vervolging van verdagtes vlot sal verloop.
Meyer sê hulle het verseker dat elke distrik nou ’n landelike veiligheidsplan het en het ook geld aan die Tuinroete-distriksmunisipaliteit toegeken om landelike veiligheid te verbeter.
“Ek is nie ’n boer nie, daarom praat ek met en luister na die boere in ons provinsie. As regering doen ons navorsing om die lewensvatbaarheid van produkte vas te stel en gebruik ons die navorsing om die pad vorentoe te bepaal,” het Meyer gesê.
Hy het daarop gewys dat irrasionele Covid-19-regulasies deur die regering tot groot verliese in die landbousektor, veral die wynbedryf, gelei het.
Rolspelers in die landboubedryf sal nou moet saamwerk om te verseker dat die sektor weer op die been kan kom.
Julle is net 10% van die bevolking van Suid-Afrika, maar julle lewer 45% van alle landbou-uitvoerproduksie in die land.
Die LUR het bygevoeg sy droom is om meer landbouskole in die provinsie te hê en ook landbou as ’n vak in skole te hê.
“Ek wil landbouvakke in ons skole hê. ’n Kind wat landbou studeer, sal altyd bemagtig wees. Hulle sal grootword om die grond te bewaar, te koester en op te pas.”
Meyer het die boere geprys vir die rol wat hulle speel om mense in die land en ook in ander Afrika-lande te voed.
“Julle is net 10% van die bevolking van Suid-Afrika, maar julle lewer 45% van alle landbou-uitvoerproduksie in die land.”