Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Krugersdorp gemeente geniet deurry-Nagmaal

“Welkom by ons vreemde en ongewone Nagmaal.”

Dis hoe Adelle Swanepoel, jeugwerker by Rant-en-Dal-Prisma-kerk in Krugersdorp, gemeentelede by die kerk se deurry-Nagmaal verwelkom het.

Dis die eerste keer dat lede van die kerk weer mekaar by die kerk gesien uit, uiteraard vanuit hul voertuie.

Dit volg na pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging dat eredienste by kerke hervat mag word mits hulle die nodige veiligheidsmaatreëls toepas.

Ds. Wimpie Wasserman bid saam met Charlie en Joyce Lee tydens die deurry-Nagmaal. Foto: Brümilda Swartbooi

Eredienste het egter nog nie vir die gemeente van Rant-en-Dal-Prisma hervat nie. Dienste word steeds Sondae op sosiale media uitgesaai.

Swanepoel sê die deurry-Nagmaal is ’n kreatiewe manier om Nagmaal te bedien in die tyd wat ons die Covid-19 pandemie veg.

“Die deurry-Nagmaal is nie iets waaraan ons gewoond is nie. Dis ongewoon en vreemd, maar dit verander niks aan die betekenis nie,” sê Swanepoel.

Die Nagmaal is deur Swanepoel, ds. Wimpie Wasserman en ds. Jannie Pelser bedien.

Wanneer lidmate by die punte stilhou word die brood en sap, wat in ’n klein houer geseël is, aan hulle oorhandig en daar word dan saam met hulle gebid.

Wanneer hulle klaar bedien is groet hulle met ’n groot glimlag.

Adelle Swanepoel, jeugwerker by Rant-en-Dal-Prisma, oorhandig die Nagmaal aan lidmate. Foto: Brümilda Swartbooi
Gesinne het Sondagmiddag saam uitgery om die Nagmaal te geniet. Foto: Brümilda Swartbooi
Wena Naudé sê die deurry-Nagmaal is “fantasties, want dis die brood en bloed van die Here”. Foto: Brümilda Swartboi
Wena Naudé geniet die Nagmaal.Foto: Brümilda Swartbooi
’n Lid van die kerk word met Nagmaal bedien.Foto: Brümilda Swartbooi
Charlie en Joyce Lee is vir meer as 30 jaar lidmate van die kerk. Die twee sê deurry-Nagmaal was spesiaal.Foto: Brümilda Swartbooi
Ds. Jannie Pelser bid vir Wena Naudé nadat sy met Nagmaal bedien is. Foto: Brümilda Swartbooi

Wasserman sê gemeentelede het mekaar gemis en daar is ’n behoefte om naby aan mekaar te wees.

“Ons wou iets doen om net weer naby aan lidmate te kom. Daar is opgewondenheid en groot waardering, selfs trane. Dit gee vir ons hoop en in die tyd het ons simbole nodig om ons hoop te gee. Die virus kom en hy steel, maar nog steeds is die liggaam van Christus daar,” sê Wasserman.

Wasserman sê die rede hoekom die kerk besluit het om nog nie dienste te hervat nie is, is omdat hulle nie gemeentelede enigsins aan die virus wil blootstel nie.

“Ons is ’n groot gemeente, so watter 50 kies jy? Die aanlyn dienste werk. Ons is dankbaar vir tegnologie.”

Hansie Roodt het liedjies tydens die deurry-Nagmaal gesing. Foto: Brümilda Swartbooi
Die Nagmaal wat aan lede bedien is, is in klein houers verpak.Foto: Brümilda Swartbooi

Charlie en Joyce Lee, wat vir meer as 30 jaar lede van die kerk is, sê hulle het die afgelope Sondae vir ds. Wasserman op hul klein selfoonskerm gesien maar dis goed om weer gemeentelede in persoon te sien. Joyce sê die Nagmaal was ook geestelik vervullend.

“Dit is vir ons, wat die Here baie lief het, so spesiaal,” sê sy.

Wena Naudé sê die deurry-Nagmaal is “fantasties, want dis die brood en bloed van die Here. Dis net fantasties, jy kan dit amper nie beskryf nie. Dis daar vir ons gestel om die Here te gedenk en dit vervul mens se lewe,” sê Naudé.

Naudé sê sy mis die gemeentelede en sy kan nie wag tot wanneer die kerk weer heropen om weer saam met medegelowiges te aanbid nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.