Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Kwarantyn-deelnemer gediskwalifiseer oor k-woord

’n Deelnemer aan die kykNET werklikheidsreeks Kwarantyn is Vrydagaand gediskwalifiseer nadat sy die k-woord op ’n regstreekse uitsending gesê het.

Jana Le Roux (49), het Donderdagaand die k-woord tydens ’n regstreekse uitsending van die program gebruik.

’n Skermgreep van Donderdagaand se regstreekse uitsending van Kwarantyn wys albei gesinne se reaksie nadat Jana le Roux die k-woord gesê het.

Die program word 24 uur per dag regstreeks op DStv-kanaal 149 uitgesaai en wys hoe die Le Roux- en Scheepers-gesinne teen mekaar meeding terwyl hulle in kwarantyn is.

Ferdinand Rabie, die aanbieder van die program, het Vrydagaand in ’n video gesê hy het geen ander keuse as om haar te diskwalifiseer nie.

“Die belangrikste reël van Kwarantyn is dat ons geen diskriminasie of rassistiese opmerkings duld nie. Hierdie reël is gisteraand gebreek. Dit laat my geen (ander) keuse as om Jana te diskwalifiseer nie,” sê Rabie in die video.

Die twee gesinne het Donderdagaand aan die vasvra speletjie 30 Seconds deelgeneem.

Die Scheepers-gesin het die speletjie gewen.

Albei gesinne het saamgestem dat die speletjie moeiliker was as verlede week waarna Le Roux, die ma van die Le Roux gesin, gesê het dis ’n “k*****pak”.

Die Scheepers-gesin was duidelik geskok en Le Roux het later die aand vir hulle om verskoning gevra.

KykNET het Vrydagoggend in ’n verklaring om verskoning gevra vir die “rassistiese opmerking wat indruis teen die Grondwet, die gees van die program en aard en wese van kykNET”.

Die Le Roux-gesin: Lisa Le Roux, Adriaan Briel, Jana en Braam Le Roux, Manie Le Roux en Heinrich Olwage (25) - die kinders se neef. Foto: kykNET

’n Emosionele Le Roux het Vrydagaand haar gesin gegroet. Die ander lede van haar gesin sal steeds om die kontantprys van R250 000 meeding.

Baie mense het op sosiale media kykNET gekap oor die program.

Kamhayise Ronald, het op Twitter gesê DStv moet die kanaal verwyder as hulle nie die reeks gaan stop nie.

“Hoe kan ons as Suid-Afrikaners in solidariteit met die Black Lives Matter-beweging staan, maar die k-woord kan vrylik op regstreekse televisie in ons eie land gesê word,” het nog iemand op Twitter gesê.

Ook die Menseregtekommissie (MRK) sê die gebruik van die woord kom neer op haatspraak.

“Die kommissie kan selfs besluit om dit na die Gelykheidshof te neem,” sê adv. André Gaum, kommissaris van die MRK.

“Mense wat hierdie soort afbrekende, kwetsende woorde gebruik, wat groot pyn vir landgenote tot gevolg het, laat nasionale eenheid en samehorigheid ernstige skade ly.

“In plaas daarvan om ons land te bou, breek hulle dit af,” sê Gaum.

“Die MRK doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om deur hulle woorde, doen en late nasionale eenheid te help bou en nie afbrekers daarvan te wees nie.”

Brig. Vish Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, sê hulle het nog nie enige amptelike klagtes hieroor ontvang nie.

• Navrae is aan MultiChoice gerig, dit sal bygewerk word sodra ’n antwoord ontvang word.

Meer oor:  Kyknet  |  Kwarantyn  |  Jana Le Roux
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.