Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Laaste oomblikke voordat helikopter neerstort
Die helikopter het gedraai om by die Damhuis te kom land, sy lig weerkaatsend op die Vaaldam se water. Foto: Skermgreep

’n Rou-laaste-oomblikke-video wat wys hoe Essie (Jacobus) Esterhuysen se helikopter Vrydag skemeraand met ’n knal in die Vaaldam neerstort, het Sondag na vore gekom.

Essie Esterhuysen en sy suster, Dané Esterhuysen, wat saam in die helikopterongeluk gesterf het. Foto: Facebook

Dit begin net voor die angsoomblik met die Robinson R44-helikopter wat dawerend teen die sonsondergang oor bome aangevlieg kom.

Dit draai effens links in die rigting van Esterhuysen se huis op die oewer. Die helikopter se lig weerkaats op die stil damwater en dit begin effens daal.

Dané Esterhuysen het haar broer se gastehuis in Wildernis in die Wes-Kaap bestuur. Foto: Facebook

Dit lyk asof dit dan skielik vinniger afwaarts beweeg, die brrr-geluid van die skroewe duideliker.

Iemand op die oewer skree.

’n Ontploffing van oranje, rooi en geel, met water wat meters hoog opspat, volg wanneer die helikopter die water tref.

Mense op die damwal gil gelyktydig met ’n knalgeluid.

“Oh, my goodness,” klink hulpeloos op terwyl watervoëls vervaard kwetter en wegvlieg.

Dan stop die video. Dit duur altesaam net 21 sekondes.

Die ongeluk het die lewe van Esterhuysen (69), sy suster, Dané Esterhuysen (68), en sy twee beagle-honde geëis.

Dit het in ’n oogwink gebeur, sê Géla le Roux, Dané se dogter van George in die Wes-Kaap.

“Ek dink ons almal hoop maar hulle is op slag dood,” voeg sy sag by.

Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), het vroeër gesê die helikopter het skaars 200 m reg voor Esterhuysen se Vaaldam-huis geval.

Essie Esterhuysen het jare se vliegervaring agter die blad gehad. Foto: Verskaf

Le Roux vertel haar ma het vroeër die maand van Wildernis in die Wes-Kaap, waar sy Esterhuysen se gastehuis bestuur, in Gauteng by haar broer en sy vrou, Mariana, in Johannesburg gaan kuier.

Vrydagmiddag het hulle saam met Esterhuysen se “twee skaduwees en ‘co-pilots’ ”, sy beagle-honde, Pablo en Abigail (Abby), vanaf die Rand-lughawe naby Germiston na die sogenaamde Damhuis gevlieg.

Die honde het spesiale harnasse gehad vir sulke geleenthede.

Toe gebeur die tragedie voor die oë van vriende wat die broer en suster inwag, het ’n ander familielid vroeër vertel.

Hulp is ontbied en ’n omstander het intussen met ’n roeiboot nader gegaan.

Dané se liggaam is kort daarna gevind.

Esterhuysen se lyk is eers later Vrydagaand gevind.

Net een hond se karkas is nog gekry, het Lambinon Sondag bevestig.

Die helikopter word Saterdag uit die Vaaldam getrek. Foto: Verskaf
Essie Esterhuysen se Robinson R44-helikopter word die laaste ent uit sy watergraf gesleep. Foto: Verskaf

Le Roux sê ’n oom het haar Vrydag om 19:00 gebel met die tragiese nuus.

“Ek het die pynlike werk gehad om die ander, soos my drie broers, te laat weet. Van die mense het nie hul fone geantwoord nie, en ek moes na hulle ry.”

Haar ma het die lekkerste lag gehad, onthou Le Roux dan.

Dít, en haar innerlike sterkte, het altyd mense na haar getrek.

“My een broer, Jacques de Bruyn, bly in Amerika, maar Charl en Jean-Pierre is hier. Ons ma was baie geheg aan al haar kinders. Sy was ’n steunpilaar, baie familievas en sy en oom Essie het ’n baie spesiale band gehad.”

Die oorledenes se liggame is reeds amptelik uitgeken.

Le Roux sê hoewel planne vir die begrafnisse nie gefinaliseer is nie, sal dit waarskynlik later die week in Gauteng wees.

Intussen het boodskappe van meelewing vir die broers en suster en Esterhuysen se seun, Marius, begin instroom.

Esterhuysen word ’n “legende” en ’n “reus met ’n oop hart en hand” genoem.

Nie net was hy ’n formidabele sakeman nie, hy was ook ’n “ervare en veiligheidsbewuste” vlieënier.

Nadia Brits, ’n familielid, sê almal het hom as (oom) Essie geken.

“Hy was ’n merkwaardige man. Daar was niks wat hy nie kon doen nie. ’n Uitstekende sakeman, met soveel wysheid en vaardighede om vir ander te leer.”

Esterhuysen was ook die eienaar en besturende direkteur van die Esgro-groep, ’n kos-en-drank-onderneming wat eetplek-franchises soos onder meer die Wimpy, Steers en Woolworths Food by vulstasies begin het.

Essie Esterhuysen se seun, Marius, wag saam met ’n vriendin op die oewer van die Vaaldam terwyl polisieduikers en die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) ’n plan maak om die helikopter na die oppervlak te hys. Foto: Verskaf

Johan Bezuidenhout, voormalige skoolhoof en uitvoerende hoof van die Leeuwenhof Akademie, ’n private skool in Germiston, skryf in ’n huldeblyk Esterhuysen was een van die skool se vorige direksie-voorsitters.

“Leeuwenhof, die gemeenskap en almal wat hom geken het, sal hom onthou vir sy Christelike beginsels, sy uitreik na sy medemens, as ’n suksesvolle sakeman, liefdevolle eggenoot en ’n wonderlike pa vir Marius.”

Hy noem Esterhuysen ’n besonderse vriend met ’n ruim hart wat eenkeer self die gratis worsbroodjies bedien het wat hy tydens ’n wetenskap-ekspo aan besoekende leerlinge voorsien het.

* Polisieduikers en die NSRI het Saterdag, terwyl Esterhuysen se seun, Marius, op die pier gewag het, die helikopter met onder meer lugsakke na die oppervlak gebring.

Die skewe, geknakte rotor-stelsel het eerste deur die water gebreek. Daarna is die wrak tot op die oewer gesleep, waar dit ondersoek is.

Kabelo Ledwaba, woordvoerder van die Burgerlugvaartowerheid (BLO), het toe reeds gesê hulle het al met ’n inligtingsinsamelingsproses begin wat sal help om die oorsaak van die ongeluk te bepaal.

Die polisie het ook ’n geregtelike ondersoek geopen.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.