Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: ‘Liefdevolle gesin’ van Boksburg saam begrawe

“As ’n gesin is hulle nou saam, soos wat hulle in die lewe altyd saam was.”

Só het Johannes Janse van Rensburg Vrydag op die roudiens vir sy seun Clive (32), skoondogter Claudia (25), en kleinkinders Aiden (4) en Leané (5) gesê.

Die gesin is Vrydag saam begrawe in Kriel, Mpumalanga, waar Claudia grootgeword het.

Belinda en Pedro Tenreiro, wyle Claudia Janse van Rensburg se ouers, op die gesin se begrafnis. Foto: Deaan Vivier

Die gesin het verlede Donderdag op pad na Richardsbaai, sowat 160 km van hul bestemming af, verongeluk.

Na verneem word, het ’n voertuig reg van voor met die Janse van Rensburgs se Renault gebots. Die gesin is op slag dood.

LEES OOK: Ongeluk eis Boksburg-gesin van 4

Hulle is as liefdevolle mense, goeie vriende en Clive en Claudia as “die beste ouers” beskryf.

Johannes het gesê Clive het Claudia onvoorwaardelik liefgehad. Die paartjie het mekaar 11 jaar gelede ontmoet.

Natasha Wright, wyle Claudia Janse van Rensburg se suster, word deur haar vriend, Hyne van der Walt, ondersteun. Foto: Deaan Vivier

“Ons praat oor die perfekte gesin, hulle was die perfekte gesin.”

Natasha Wright, Claudia se suster, het familielede en vriende geprys vir die rol wat hulle in Aiden en Leané se lewe gespeel het.

“Mamma, Pappa, tannie Carol en oom Johan, dankie dat julle twee wonderlike kinders gemaak het om vir daai kindertjies die beste mamma en pappa te wees. Dankie vir elke ouma, oupa, oom en tannie, familielede en vriende wat iets in die kinders se lewe beteken het. Ek waardeer julle baie. Dankie,” het sy gesê.

Past. Dawie de Lange, wat die diens in die Volle Evangelie Kerk in Kriel waargeneem het, het die familie bemoedig.

“Ons berus ons daarin dat hulle soveel mooi gedagtes nagelaat het. Koester hul nagedagtenis,” het hy gesê.

De Lange het gesê iets van Claudia en Clive wat vir hom uitgestaan het, was hul liefde vir mekaar.

Vriende en familie kon boodskappe in die begrafnisbrief deel. Een daarvan lui: “Ons liefste hartsmense. Ons harte is bitter seer oor hierdie groot verlies. Claudz, my no matter what vriendin, dankie vir wat jy vir my beteken het . . . Clive, dankie vir jou vriendskap, dat jy ons altyd net liefde gegee het en so lief was vir ons kinders. Leané en Aiden, dié tannie Rissa het so lief geword vir julle. Jul geselsies en drukkies word so gemis. Ons is lief vir julle almal.”

Die families van Clive (32), Claudia (25), Aiden(4) en Leané (5) Janse van Rensburg van Boksburg wat op pad na Richardsbaai verongeluk het, vertroos mekaar in die kerk. Foto: Deaan Vivier
Van links is Belinda en Pedro Tenreiro, Claudia Janse van Rensburg se ouers, en Johannes en Carol Janse van Rensburg, Clive Janse van Rensburg se ouers. Foto: Deaan Vivier
Johannes en Carol Janse van Rensburg, Clive Janse van Rensburg se ouers, kyk toe terwyl Natasha Wright, Claudia Janse van Rensburg se suster, ’n blom in die graf gooi. Foto: Deaan Vivier
Pedro Tenreiro, Claudia Janse van Rensburg se pa, laat val ’n blom in die graf. Foto: Deaan Vivier
Lisa Tenreiro (’n familielid) ondersteun Belinda en Pedro Tenreiro, Claudia Janse van Rensburg se ouers, op die begrafnis. Foto: Deaan Vivier
Die Janse van Rensburg-gesin se kiste word uit die kerk in Kriel gedra. Foto: Deaan Vivier
Meer oor:  Boksburg  |  Mpumalanga  |  Kriel  |  Ongeluk  |  Verongeluk  |  Roudiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.