Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Ma word stem vir vaderloses nadat seun sterf

Sy het nie net die bendelid vergewe wat haar seun vermoor het nie; sy noem hom nou haar “seun”.

En nou gee Avril Andrews (59) selfs vir bendelede kos by haar huis in Hanover Park, Kaapstad, nadat sy twee organisasies gestig het om hul slagoffers by te staan.

Haar seun Alcardo se weiering om by ’n bende aan te sluit het hom dalk sy lewe gekos, sê Andrews.

Sy het hom nog gesoebat om by vriende in Gauteng te gaan bly, maar hy wou eerder biltong verkoop en haar help terwyl sy siek was.

Sy sê hy was baie passievol oor kinders sonder pa’s en het hulle onder sy vlerk geneem. Hy sou altyd vir haar vra: “Kan Mammie nie sien hoe word vaders doodgeskiet nie?”

Alcardo het in 2015 ’n vaderskapprogram in Ottery begin.

Later dieselfde jaar is Alcardo (27) naby sy ouerhuis doodgeskiet.

Nadat dit met my gebeur het, moes ek ’n stem word vir dié mammas.

Alcardo het ’n maand tevore nog aan sy ouers genoem daar is “outjies” wat hom wil “seermaak”.

Hy het in daardie noodlottige week nog ’n mnr. Parker gehelp wat deur bendelede beroof is, sê Andrews.

Sy woorde eggo nou nog, sê sy: “Asseblief, Mammie, wees ’n stem vir die seuns.” Haar trane loop vryelik.

Fasieq Esau (37) is verlede maand in die landdroshof in Wynberg tot effektief 12 jaar tronkstraf gevonnis; 12 jaar vir moord, 12 jaar vir die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en twee vir die besit van ammunisie. Die vonnisse word samelopend uitgedien.

Tydens die verhoor het Andrews ander ma’s ontmoet wat ook hul seuns in bendegeweld verloor het. Sy het Moms Move for Justice gestig om ma’s wat hul kinders so verloor het, by te staan, asook die Alcardo Andrews-stigting om ma’s en hul kinders wat deur bendegeweld geraak word, te help.

In haar getuienis voor Esau se vonnisoplegging het sy gesê die tragedie het haar oor die lewe in haar gemeenskap en van die beskuldigde self geleer.

Avril Andrews het haar seun, Alcardo, ’n ‘stem vir seuns’ belowe. Foto’s: Marzahn Botha

Sy het ondersoek na Esau se omstandighede gedoen en noem hom haar “seun”. Hy het sy ma op ’n jong ouderdom verloor. Sy pa was afwesig en daar was min ondersteuning van sy familie, sê Andrews.

As kind het hy haar altyd met respek gegroet en sy het nou empatie met hom. Die tydperk agter tralies sal hom kans gee om oor sy dade na te dink.

Toe Esau in boeie verby haar stap, het sy haar hand uitgesteek, aan hom geraak en sag gesê: “My klong.” Esau het aan die bewe gegaan, sê Andrews.

Ja, sy moes ook as ma leer wat in haar gemeenskap aangaan en wat mense deurgaan. Donderdag het sy en die ander ma’s by haar huis kospakkies aan sowat 600 behoeftiges uitgedeel, asook in die aangrensende Die Vlei en Valley of Plenty, ’n gewese “lêplek” van die Mongrelbende.

Op haar heldergroen huis staan die woorde “Smile” en “Each one teach one”. Op die heining is kleurryk gesigte geverf. Die tuintjie in die doodloopstraat is netjies.

Die groen huis in Hanover Park-laan is ’n hawe vir die buurt se honger bendelede, enkelma’s, bejaardes en kinders.

Andrews het die gestalte van ’n regiment-sammajoor, die oë skerp en wakend. ’n Gebed word gedoen.

Dan skep Sophia Links, Lesley Wyngaard, Joy Swarts en Noleen Barnes, wat almal seuns in bendeskietery verloor het,  groot porsies van ’n stomende lensiegereg en rys in houers.

Die vroue en meisies se hande word eers ontsmet. Hulle kry eerste kos.

Die orde val op, maar nog meer die respek wat die ontvangers betoon. Die borge is ’n vennoot wat anoniem wil bly, asook die groep Violence Preven­tion through Urban Upgrading.

’n Bendegroep wou dié projek al vir eie gewin oorneem, maar die vroue het nie geswig nie. Andrews sê sy het haar rug styf gemaak en streng reëls neergelê. “Jy los jou bendedinge daar buite én jy staan in die ry en wag jou beurt af.”

Honger is die gelykmaker. Hier word almal oor dieselfde kam geskeer: bendelid, enkelma, kind, bejaarde. Baie van hulle is totaal afhanklik van die stigting se kospakkies.

Vroue wat in japonne opdaag, word vermaan. “Respek en dissipline kom eerste, anders verydel jy die doel,” benadruk Andrews.

Sy en haar man, Kader, het die straathoek by hul huis van die bendes teruggevat. Daar is sewe in die omgewing. “Ons het ferm vir hulle gesê: ‘Niemand hang hier op die hoek rond nie.’ ” Andrews sê bendelede staan nou ook in die ry, ook soms ’n jong man wat destyds opdrag gekry het om die aanslag op haar seun uit te voer. Hy het geweier.

Sy het langs hom gaan staan en gesê sy wil ’n foto saam met hom laat neem.

“Ons stemme is stilgemaak deur bendegeweld. Nadat dit met my gebeur het, moes ek ’n stem word vir dié mammas.”

Die trauma het baie aan haar openbaar. “Daar was ’n tyd toe ek en Kader net wou wegtrek. Maar toe kom die woord dat ek moet dien. Selfs die ou­tjies, bendelede, wat ook in die ry vir kos kom staan.”

Dit gaan swaar. Hier is baie pensioentrekkers wie se pensioen die hele familie voed.

“In die Covid-tyd het baie werkloses hier kom kos kry. Dit is ’n daaglikse struggle. Daar is seuns sonder pa’s, meisies wat verkrag word, mammies wat probeer oorleef. Dis ware verhale.

“Ek het ’n stem gekry en ek gebruik dit saam met ander ma’s wat, soos ek, ’n pad gestap het.

“Dit sal nie my seun terugbring nie, maar dit dien my gemeenskap.”

Meer oor:  Moord  |  Sopkombuis  |  Bendes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.