SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Mamelodi-inwoners betoog ná Katlego (10) se dood

Honderde mense het Woensdagoggend in Mamelodi, Pretoria, opgeruk uit protes teen die polisie se hantering van die verdwyning en dood van Katlego (Katli) Joja (10), ’n outistiese meisie van die woonbuurt.

Betogers het na die Mamelodi-Wes-polisiekantoor opgeruk om ’n memorandum te oorhandig. Die optog is deur die #NotInMyName-organisasie gelei.

Thabiso Storom, Katlego se oom, tydens die optog Woensdag. Foto: Deaan Vivier

Thabiso Storom, Katlego se oom, het vroeër aan Netwerk24 gesê die familie was drie keer by die polisiekantoor voordat hulle haar amptelik as vermis kon aanmeld.

Katlego se ma het op 3 Mei omstreeks 09:30 na die polisiekantoor gegaan om haar as vermis aan te meld. Die polisie het haar glo weggewys en gesê die familie moet na haar soek en as hulle nie haar kry nie kan hulle terugkom na die polisie.

Ná ’n uur en ’n half het Katlego se ouma na die polisiekantoor gegaan. Die polisie het toe glo gesê sy moet 24 uur wag voordat ’n saak geopen kan word. Omstreeks 16:30 daardie middag kon die familie uiteindelik daarin slaag om Katlego as vermis by die polisie aan te meld.

“Die familie het aan die polisie verduidelik wat Katlego se omstandighede is, maar dit het op dowe ore geval,” sê Storom.

Die gemeenskap van Mamelodi het Woensdagoggend na die plaaslike polisiekantoor opgeruk nadat die liggaam van Katlego Joja (10) Sondag gevind is. Foto: Deaan Vivier

Sommige van die #NotInMyName-organisasie se eise aan die polisie is dat Katlego se lykskouing geprioritiseer word en dat haar dood deeglik ondersoek moet word.

“Die polisiebeamptes wat die familie weggewys het sonder om hulle te help moet onmiddellik afgedank word,” lui die memorandum wat aan die polisie oorhandig is.

Hulle dring ook daarop aan dat ’n plan opgestel word om soortgelyke gevalle in die toekoms te voorkom en dat die Moretelerivier, waar Katlego se liggaam gevind is, daagliks deur die polisie gepatrolleer moet word.

Die #NotInMyName-organisasie het ’n memorandum aan die plaaslike polisiekantoor oorhandig. Foto: Deaan Vivier

Storom vertel dat Katlego ’n borrelende persoonlikheid gehad het.

Tebogo Kunutu, Katlego se tannie, het Woensdag gesê sy weet Katlego is in die hemel. Foto: Deaan Vivier

“Katlego was snaaks op haar eie manier. Sy was lief daarvoor om te sing. Hoewel sy weens haar outisme nie regtig kon kommunikeer nie, kon sy liedjies volledig met lirieke sing, wat nogal merkwaardig was.”

Hy sê sy het dit geniet om te lag en sy het deernis vir ander mense gehad.

Storom sê die familie is verpletter ná die voorval.

“Dit was ’n moeilike vier dae terwyl ons na Katli gesoek het. Jy kan net dink hoe moeilik dit was om elke aand huis toe te keer na my suster toe sonder enige nuus. Ons het die proses begin om te genees, maar op die oomblik fokus ons op die begrafnisreëlings vir ons klein engel, wat Vrydag ter ruste gelê sal word.”

Hy sê die polisie se ondersoeke duur voort om die oorsaak van haar dood te bepaal.

Meer oor:  Mamelodi  |  Pretoria  |  Betoging  |  Dood  |  Verdwyning
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.