Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Mans ‘steel’ Kruger-luiperd se rooibok-prooi

’n Video van vyf mans wat uit ’n minibus in die Krugerwildtuin klim, ’n dooie rooibok optel, inlaai en “doodluiters” wegry, het die afgelope twee dae opslae op sosiale media gemaak.

’n Skermgreep uit die video wat wys hoe die mans die rooibok se karkas optel en in die minibussie laai. Videogrepe: Martin Breytenbach

Yvonne Breytenbach van Lydenburg het Woensdag gesê sy en haar man, Martin, het Saterdag omstreeks 12:00 op die pad na Satara ’n karkas van ’n rooibok langs die pad sien lê.

“Daar het ’n hele klomp voertuie gestaan. Ons het vir die mense in die een voertuig gevra wat hulle sien. ’n Man het gesê hulle het pas ’n luiperd gesien wat ’n rooibok gevang het.

“Volgens die man (sy het nie sy naam gevra nie) het die luiperd vermoedelik vir die klomp motors geskrik wat skielik almal daar stilgehou het. Die luiperd het die rooibok gelos en in die bos ingehardloop,” het sy vertel.

“Al die motoriste het hul enjins afgeskakel en gewag dat die luiperd sy prooi kom haal. Ons het by die karkas verbygery en ek kon sien iets het hom aan die nek beetgekry. Dit was duidelik sy nek was gebreek en daar was ook merke aan sy nek.

“Ons het toe ook by die ander klomp motors stilgehou en vir die luiperd gewag.”

Die volgende oomblik het ’n ongemerkte minibus voor al die motors verbygery en stilgehou.

Vyf mans in gewone drag het uitgeklim, die rooibok opgetel, in die bussie gelaai en weggery.

“Hulle het doodluiters weggery terwyl ons vir hulle gekyk het. Die mans het nie een keer vir ons gekyk nie.”

Martin Breytenbach het ’n video van die hele gedoente gemaak.

Isaac Phaahla, die wildtuin se woordvoerder, het gesê die optrede van die mans was “heeltemal geregverdig”.

Hulle het gemeen die rooibok is doodgery en hulle het die dier toe na die hoofveldwagter van die gebied gebring.

Nee, Sanparke, ons glo julle nie. Ons dink iemand het Saterdagaand ’n heerlike vleisbraai gehad.

“In normale omstandighede sou die mans, wat almal in diens is van die wildtuin, die karkas net daar gelaat het.

’n Skermgreep uit die video wat wys hoe diemans die rooibok se karkas optel en in die minibussie laai. Videogrepe: Martin Breytenbach

“Hulle het egter gemeen die bok is doodgery, daarom moes hulle dit optel en na die hoofveldwagter bring sodat die veeartse by veeartsenydienste toetse kon doen.”

Volgens Phaahla is die mans betig en gewaarsku toe dit onder die aandag van die wildtuin se bestuur gekom het dat hulle uit die minibus geklim het, want dit is verbode om jou voertuig te verlaat, het Phaahla gesê.

Volgens hom het die veeartseny-afdeling by die wildtuin reeds ’n verslag uitgereik oor die oorsaak van die dood van die rooibok.

Phaahla het gesê die verslag is ’n interne dokument en sal nie bekend gemaak word nie.

Verskeie nie-regeringsorganisasies het die gebeure veroordeel.

Roar Wildlife News het getwiet: “Waarom sal Sanparke ’n karkas in ’n taxi laai? Waarom is almal, buiten dalk een van die mans, in gewone klere?

“Nee, Sanparke, ons glo julle nie. Ons dink iemand het Saterdagaand ’n heerlike vleisbraai gehad.”

Meer oor:  Krugerwildtuin  |  Isaac Phaahla  |  Lydenburg  |  Luiperd  |  Minibus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.