Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Matriekafskeid toe . . . in ’n kis
Kaylee Rough (18) van Thabazimbi in haar matriekafskeidrok. Foto: Verskaf

Die meeste matrieks wil in ’n spoggerige motor by hul matriekafskeid opdaag, maar nie ’n tienermeisie van Thabazimbi in Limpopo nie. Sy het die koppe laat draai toe sy binne-in ’n doodskis in ’n lykswa by haar matriekafskeid opgedaag het.

Kaylee Rough (18), ’n gr. 12-leerling aan die Hoërskool Frikkie Meyer in Thabazimbi, het mense Saterdagaand op die dorp se landbouskouterrein, waar die matriekafskeid gehou is, letterlik na hul asem laat snak.

’n Video van haar aankoms is Woensdag reeds meer as 2 000 keer op Facebook gedeel en honderde mense lewer kommentaar. Die video is al meer as 180 000 keer gekyk.

Kaylee sê sy het besluit om op ’n “simboliese manier” matriekafskeid toe te gaan.

“Dit was ’n simbool van hoe ek klaar is met die lewe as ’n tiener en ’n skoolmeisie en hoe ek nou my lewe as ’n volwassene begin,” sê Kaylee.

Kaylee Rough (18) van Thabazimbi in haar matriekafskeidrok in die lykswa. Foto: Verskaf

Sy het in ’n wit lykswa van Martin’s Funerals by die matriekafskeid opgedaag. Inwoners van Thabazimbi wat na die matrieks se uitrustings gaan kyk het, het hande geklap en gefluit toe die lykswa stilgehou het.

Rook het agter uit die lykswa geborrel nadat ’n lykbesorger die luik van die lykswa oopgemaak het. Mense het gefluit en geskree: “Undertaker!”

Die kis is uitgedra en ’n ent verder op die grond neergesit. Die deksel is opgelig en Kaylee, in haar pers en swart rok, het orent gekom en is uit die kis gehelp.

Kaylee sê sy het sowat twee minute voordat sy by die skouterrein aangekom het, in die kis agter in die lykswa geklim.

“Dit het ’n bietjie vreemd in die kis gevoel, maar dit was ’n interessante ervaring.”

Sy sê haar kêrel, Chris de Witt, het eers gedink haar idee is “effe snaaks”.
“Hy sê nou hy het dit baie geniet en sal weer so iets doen.”

Die paartjie se fotosessie is in die dorp se begraafplaas gehou.

Kaylee sê hoewel mense nou sê sy het ’n bespotting van die dood gemaak, was dit beslis nie haar bedoeling nie.

Kaylee Rough se matriekafskeidfoto’s is in die dorp se begraafplaas geneem. Foto: Verskaf

Haar ouers, Jacoline en John Rough van die myndorpie Swartklip buite Thabazimbi, sê hulle is trots op hul dogter.

“My kind het niks verkeerd gedoen nie. Elkeen maak hul eie keuses en het hul eie persoonlikheid. Ek is baie trots op my dogter,” het John op Facebook geskryf.

Hulle het die kis teen R500 by Martin’s Funerals se tak in Northam gehuur.

’n Werknemer, wat nie sy naam genoem wil hê nie, sê dié tak “het moeilikheid by sy hoofkantoor gekry. Hulle sê ons het ’n bespotting van die dood gemaak en mag dit nie weer doen nie”.

Kaylee Rough en Chris de Witt in die Thabazimbi-begraafplaas.


Van die kommentaar op Facebook:

* Chantel Roosendal: “Dié is vieslik, glad nie oulik of snaaks nie. Weet nie hoekom enigiemand so iets simpel wil doen nie. En om te dink ons moet die wêreld se toekoms in dié jongklomp se hande los.”

* Ilzé Basson: “Ja, die ekonomie is maar sleg, almal vat ’n ou ekstra jobbie (sic) aan.”
* Marie van Graan Hunter: “As ek ’n sê sou hê, sal ek haar net daar geskors het. Dit is siek!”
* Annemarie de Lange Matthee: “Ek love die entrance! Hulle het baie guts vir so iets. En dis ’n entrance wat altyd onthou sal word. Niks met Satan of die dood te doen nie. Vat dit in die gees wat dit bedoel is. Mooi so, julle. Regtig ’n unieke entrance!”
* Alta Botha: “Die afskeid sal vir altyd onthou word . . . cool, julle.”


Meer oor:  Thabazimbi  |  Matriekafskeid  |  Doodskis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.