Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Meer as 100 strukture op Pta-plaas afgebreek
Twee werkers van die Rooimiere-veiligheidsmaatskappy Dinsdag besig om ’n onwettige woonstruktuur af te breek. Foto: Deaan Vivier

Die balju is Dinsdag deur die Rooimiere, ’n private veiligheidsmaatskappy en die polisie bygestaan om meer as 100 onwettige woonstrukture op ’n plaas noord van Pretoria te verwyder.

Die eienaar van die plaas buite Soshanguve, dr. Motodi Maserumule, sukkel die laaste paar weke om van die groeiende getal grondbesetters ontslae te raak.

Dinsdag het die Rooimiere sonder veel weerstand die strukture platgeslaan en die boumateriaal van die plaas verwyder.

’n Klein groep oproeriges het vroeër die oggend ’n stuk veld aan die brand gesteek en klippe op die pad gepak. Hulle is egter vinnig deur die onluste-polisie weggejaag.

“Ons het vandag nie veel weerstand gekry van die grondgrypers nie omdat die meeste van die strukture nog nie bewoon word nie. Mense sou waarskynlik binnekort begin intrek het,” het Jacques van der Wart, die adjunk-balju in noorde van Pretoria, op die toneel gesê.

Van die boumateriaal van die afgebreekte strukture is verbrand. Foto: Deaan Vivier

Sommige van die grondbesetters was by die werk toe die Rooimiere toegeslaan het, sê gemeenskapslede.

Die hooggeregshof in Pretoria het die balju vroeër bemagtig om die strukture te laat afbreek.

Maserumule, die eienaar van die plaas, het AfriForum genader toe grondgrypers die plaas begin beset het.

“Erwe” op die plaas is onwettig verkoop en al meer strukture is deur die loop van die laaste weke daar opgerig.

Die polisie wou aanvanklik nie teen die grondgrypers optree nie.

AfriForum het ’n geslaagde aansoek by die hof ingedien sodat die woonstrukture van die plaas verwyder kan word.

Lede van die Rooimiere breek een van die blyplekke af.Foto: Deaan Vivier
Lede van die Rooimiere Dinsdag besig om een van die konstruksies om te dop. Foto: Deaan Vivier
Ons het nie ander plek om te bly nie.

Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, het gesê dat die afbreek van die strukture ’n sterk boodskap aan grondgrypers in Suid-Afrika stuur.

“Dit wys daar is nog remedies om toe te pas sodat ons mense se grond kan beskerm,” het Cameron gesê.

“Dit is ’n skreiende skande dat die polisie nie dadelik opgetree het toe daar nog net ’n paar strukture was nie. Dan sou ons nie so ver hoef te gegaan het om die Rooimiere te kry nie.”

Van die grondbesetters, wat anoniem wou bly, meen dit is hul reg om op die grond te bly.

“Ons het nie ander plek om te bly nie. Vanoggend was dit ’n nare verrassing om te sien hoe hierdie mense ons huise afbreek,” het een grondbesetter gesê.

“Die mense wat klaar ingetrek het, was by die werk toe die Rooimiere opdaag. Baie van die mense kom nou hier aan van die werk af en sien dat hul blyplekke en boumateriaal weggevat is.”

Talle grondgrypers het gesê hulle is van plan om weer blyplekke op die grond op te rig.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.