Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Meisie dood 'nadat sy by spogskool geboelie is'

’n Gr. 10-leerling van een van Limpopo se spogskole het glo Maandagmiddag haar eie lewe geneem nadat sy na bewering vroeër die dag by die skool erg geboelie en aangerand is.

’n Video van die boelievoorval is wyd op sosiale media versprei.

Die dood van die tengerige 15-jarige leerder aan die Mbilwi Secondary School in Sibasa buite Thohoyandou het die skool en gemeenskap geskok.

Leerlinge aan die Mbilwi Secondary School in Thohoyandou in Limpopo is ontsteld nadat ’n leerling hier ná ’n boelievoorval glo haar lewe geneem het. Foto: Twitter

Haar dood maak onder die hutswoord #JusticeForLufuno opslae op Twitter.

Mmusi Maimane, voormalige DA-leier, het getwiet: “Dit is enige ouer se ergste nagmerrie. Dit breek ’n mens se hart.”

In die video kan gesien word hoe ’n meisie in dieselfde skooldrag die 15-jarige leerling hard heen en weer deur die gesig klap.

’n Groep leerlinge neem die voorval met hul selfone op. Daar kan ook gehoor word hoe van hulle jil en die bakleiery aanpor.

Die masker van die meisie wat geslaan word, sit op haar ken en sy hou ’n pienk-en-wit waterbotteltjie in haar linkerhand. Sy probeer die ander meisie van haar weghou, maar slaan nooit terug nie.

Polly Boshielo, LUR vir onderwys in Limpopo, en Nkakareng Rakgoale, LUR vir maatskaplike ontwikkeling, het die voorval ten sterkste veroordeel.

Boshielo het gesê die toenemende voorvalle van boeliegedrag in skole in Limpopo bekommer haar.

“Die getraumatiseerde leerling is intussen dood. Ons kan nog nie die oorsaak van haar dood bevestig nie,” lui ’n verklaring van die departement van onderwys in Limpopo.

Kinders moet mekaar ondersteun, want hulle is op skool om te leer.

Leerlinge van die skool en lede van die gemeenskap het gesê dit is geen geheim dat sy ná skool haar eie lewe in haar ouerhuis geneem het nie.

“Dit is ontstellend om dié tipe geweld by ons jong kinders te sien. Ons veroordeel die voorval. Boeliegedrag is verkeerd en dit sal nie geduld word nie.”

Volgens Boshielo word gewag op ’n verslag oor die voorval van die Mbilwi Secondary School. Dié skool lewer die afgelope jare van die topmatrikulante in Limpopo op.

Leerlinge aan die skool blink veral uit in wiskunde en wetenskap.

Die departement van onderwys ondersoek ook ’n gewelddadige voorval tussen gr. 12-leerlinge wat glo Vrydag by die Nthuba High School in Ga-Mothapo voorgekom het. Tugstappe sal gedoen word sodra die skoolhoof ’n verslag aan die onderwysdepartement oorhandig het.

Intussen het die departemente van onderwys en maatskaplike ontwikkeling sielkundiges en maatskaplike werkers na die twee skole gestuur om berading aan leerlinge en onderwysers te gee.

Rakgoale het gesê sy is teleurgesteld en geskok dat boelie-gedrag in ’n tragedie geeïndig het.

“Kinders moet mekaar ondersteun, want hulle is op skool om te leer.”

Sy het ook ’n beroep gedoen op die publiek om nie video’s en foto’s van boeliegedrag op sosiale media te versprei nie.

  • Die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (Sadag) kan by die tolvrynoodnommer, 0800 456 789, geskakel word.
Meer oor:  Mmusi Maimane  |  Limpopo  |  Lufuno  |  Boelie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.