Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Mense spat uiteen toe gevegsvoertuig buite beheer raak

Die weermag is ontstoke nadat ’n video Dinsdag op sosiale media versprei is van ’n Rooikat-gevegsvoertuig wat by die Roodewal-bombaan buite Polokwane in Limpopo deur ’n hek ploeg.

Die bestuurder van die Rooikat het Maandag tydens ’n oefening vir vandeesweek se vieringe, in aanloop tot die Gewapendemagtedag wat Vrydag in Polokwane gevier word, byna beheer oor die voertuig verloor nadat dit by ’n hoë grondwal afgejaag het.

Op die video kan gesien word hoe ’n groep weermaglede wat toekyk vanaf ’n paviljoen uitmekaar spat om nie deur die Rooikat getref te word wat met die afkomslag ’n draai te skerp gevat het.

“Kalmeer asseblief en neem jul sitplekke in,” word die stem van ’n weermaglid oor ’n luidspreker gehoor.

Nadat die Rooikat in ’n stofwolk tot bykans teenaan ’n ander militêre voertuig tot stilstand gekom het, kan gehoor word hoe weermaglede lag en fluit.

Die bestuurder van die Rooikat ry vinnig agteruit en ry dan teen ’n spoed verby die paviljoen onder luide toejuiging.

Siphiwe Dlamini, die weermag se hoof van kommunikasie, het die voorval bevestig en gesê niemand is beseer nie.

“Dit is jammer dat daar mense is wat agter skuilname op sosiale media wegkruip en die weermag in ’n negatiewe lig probeer stel en twyfel saai oor die vermoëns van die weermag se personeel en toerusting,” het Dlamini in ’n verklaring gesê.

Dit is jammer dat daar mense is wat agter skuilname op sosiale media wegkruip en die weermag in ’n negatiewe lig probeer stel en twyfel saai oor die vermoëns van die weermag se personeel en toerusting.
Siphiwe Dlamini

Volgens hom is die Roodewal-bombaan ’n weermagbasis en word daar aan ’n verskeidenheid aktiwiteite geoefen vir Dinsdag se vaardigheidsvertoning.

Die vliegtuig waarmee die media Dinsdag vanaf die Waterkloof-lugmagbasis in Pretoria gevlieg het, het meer as ’n uur laat opgestyg. Daar is glo gewag vir klaring om by die Polokwane Internasionale Lughawe te land.

Duisende weermaglede het sedert verlede week op Polokwane toegesak en woon in ’n tentedorp digby die Peter Mokaba-stadion.

Intussen was daar Vrydag en Sondag motorongelukke in Marshallstraat in Polokwane waarby weermagvoertuie betrokke was. In Vrydagmiddag se ongeluk was ’n minibus van die militêre polisie betrokke.

Drie mense is lig beseer en is na ’n hospitaal in die stad vir behandeling geneem.

Inwoners van die stad kon hulle die naweek verlustig aan ’n uitstalling van die weermag, lugmag, vloot en die mediese dienste, wat by die krieketveld gehou word. Die vloot se orkes het Maandagaand ’n uitvoering gehad in die Ngoako Ramatlhodi-sportsaal in Seshego.

Dlamini sê voertuie van verskillende weermageenhede vanaf so ver as Kaapstad, Kimberley, Bloemfontein en Potchefstroom is in Polokwane.

Hy kon nie sê hoeveel die koste beloop van die omvangryke vieringe wat vir vanjaar se Gewapendemagtedag beplan is nie.

Pres. Cyril Ramaphosa sal Vrydag die jaarlikse herdenking van die Gewapendemagtedag in Polokwane bywoon.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.