Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Miljoene se skade met ontploffings op Worcester

Sake-eienaars op Worcester in die Wes-Kaap het miljoene rande se skade in Woensdagoggend se ontploffings in die nywerheidsgebied gely en sal waarskynlik eers Donderdag die volle omvang van die skade kan vasstel.

Ses geboue in Hoogstraat is verwoes en ses tot agt geboue is beskadig weens die ontploffings om 06:00 en die brande wat daarop gevolg het.

Ses mense is ook beseer, waaronder twee brandbestryders en een man met ernstige brandwonde wat in sy bakkie verby die tenkwa gery het.

’n Skermgreep van ’n video van een van die ontploffings wat Worcester in die Wes-Kaap Woensdagoggend geruk het en groot skade aan ondernemings aangerig het.

Intussen is ’n gedeelte van die pad beskadig en sal dit gesluit bly, terwyl ’n waterpyp gebars het en die kragnetwerk in die omgewing ook beskadig is.

Die brande in die geboue was teen 12:00 geblus.

Inwoners het die oggend gesê dat ’n toneel uit ’n rolprent voor hulle afgespeel het, met massiewe vlamme en harde ontploffings wat in die omgewing weergalm en glo soos ’n aardbewing gevoel het.

Bennie Koch, wat vir erge brandwonde behandel word toe hy Woensdagoggend verby ’n tenkwa op Worcester gery het wat die oggend ontplof het. Foto: Facebook (SA Long-Distance Truckers)

Die Breedevallei-brandweer het bevestig dat propaan in die tenkwa vervoer is. Die bestuurder van die vragmotor is ongedeerd en die polisie het bevestig dat hy op die toneel was, maar nie besonderhede van sy ondersoek kan bekend maak nie.

Anton Bredell, LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het in ’n verklaring gesê dit is gelukkig dat die ontploffing so vroeg in die dag plaasgevind het, toe nog daar min verkeer en mense was.

Hy sê voorlopige ondersoeke dui daarop dat die vragmotorbestuur met die tenkwa agteruit in ’n lamppaal vasgery het en ’n gaswolk toe vrygelaat is.

“ ’n Motoris in ’n bakkie het toe deur die wolk gery en ’n brand en ontploffings veroorsaak.”

Die uitgebrande wrak van ’n vragmotor staan in Hoogstraat, Worcester, ná ’n ontploffing in ’n tenkwa wat die vragmotor gesleep het en wat groot skade in dié Wes-Kaapse dorp aangerig het. Foto: Jaco Marais

Gert Pretorius, eienaar van Brandwacht Besproeiing, sê daar bly niks oor van sy onderneming naby aan die hoek van Hoog- en Kerkstraat nie. Hy bedryf dié winkel al van 2004 af en sê die skade sal miljoene beloop.

“Ons gaan egter nie nou gaan lê nie en gaan onmiddellik vir ’n nuwe plek soek.”

Die winkels Bike Boutique en ACDC Express langsaan is ook afgebrand. Die groothandelaar Raimondi’s het ook skade gely en het ’n gat in sy muur weens ’n gedeelte van die tenkwa wat dit getref het.

Brandbestryders Woensdagoggend in Hoogstraat, Worcester, nadat ’n tenkwa in die nywerheidsgebied van dié Wes-Kaapse dorp ontplof het.Foto: Jaco Marais
Kenny Africa, provinsiale verkeershoof, staan by Klaas de Vos (47) van Worcester. De Vos het Woensdagoggend vir Bennie Koch uit sy brandende bakkie gehelp nadat ’n tenkwa ontplof het. Foto: Jaco Marais

In die oggend het wrakstukke van ’n motor en die vragmotor oor die pad gestrooi gelê. Die agterkant van die tenkwa het voor Transcape Steels gestaan en die voorkant naby die hoek met Kerkstraat, sowat 100 m uitmekaar.

Johan Brink, eienaar van die spysenieringsbesigheid Manna, het vroegmiddag gesê hy weet nie presies wat die omvang van die skade is nie, omdat hy en ander eienaars nog nie toegelaat is om te gaan kyk nie.

Hy woon naby die nywerheidsgebied en het ten tyde van die ontploffing die slag gehoor en ’n oproep ontvang dat die alarmstelsel in die winkel afgegaan het.

“Al die deure en vensters is daarmee heen, daar is nie ’n stuk glas wat nie gebreek het nie. Darem is ons die enigste winkel wat nie brandskade gely het nie en dit is waarom ek dit vernoem het na manna uit die hemel.”

Sake-eienaars is deur nooddienspersoneel in kennis gestel dat assessors die skade sal kan kom vasstel nadat die brande geblus is en die ondersoekspan die toneel verlaat het.

Die agterkant van die tenkwa wat Woensdagoggend op Worcester ontplof het, lê sowat 100 m van die voorkant af nadat dit in twee geskiet het.Foto: Jaco Marais

John Davies, bestuurder van EMS-nooddienste by die voorval, sê drie mense is aanvanklik na die hospitaal geneem, waarna daar sowat twee uur later ontdek is dat drie ander mense hulself ook na die hospitaal geneem het.

Dit sluit in een man wat borsbeserings en brandwonde opgedoen het.

Theo Botha, brandweerhoof van Breedevallei, het bevestig dat twee brandbestryders kneus- en snyplekke opgedoen het en die oggend reeds ontslaan is.

Bennie Koch, ’n logistiekbestuurder vir Môreson Grondverskuiwers op Robertson, is ernstig beseer toe hy met sy bakkie verby die tenkwa gery het.

Teen vroegmiddag is hy onder verdowing na die Tygerberg-hospitaal oorgeplaas en is daar bevestig dat hy 30%-brandwonde aan sy gesig en arms en rookinaseming opgedoen het.

Die uitgebrande wrak van die bakkie waarin Bennie Koch Woensdagoggend gery het toe ’n tenkwa op Worcester ontplof het. Foto: Jaco Marais
Die voorkant van die tenkwa wat Woensdag op Worcester ontplof het, het die muur van een van die ondernemings in Hoogstraat getref.Foto: Jaco Marais

Klaas de Vos (47), ’n werknemer van Raimondi’s, het die oggend gehelp om vragmotors onderweg na Ceres te laai toe hy en sy kollegas gas geruik het. Ná die eerste ontploffing het hy Koch in sy brandende bakkie gesien en gehelp om hom daaruit te kry.

“Toe ons uitstap, het ons die eerste ontploffing gehoor en ons het die man in die voertuig gesien wat om hulp geroep het. Ek het aan my kollega gesê dit maak nie saak wie se bakkie dit is nie, dié ou kort hulp en ek het hom na die hospitaal geneem.”

Met De Vos se terugkoms was daar ’n tweede ontploffing in Hoogstraat wat glo die agterkant van die tenkwa oor ’n brandweerwa en teen Raimondi’s se muur vasgegooi het.

“Een van die kragbokse het toe in die straat beland en die stukke het geskiet. Dit het die vensters en deure beskadig en ek het gesê iemand kan doodgaan.

“Ons is gelukkig om te leef en het nie gedink die klein wolk in die straat sou tot ’n groot ontploffing met vlamme van 20 m hoog lei nie.”

Rassie Erasmus, ’n inwoner van Panorama op Worcester, het Woensdagoggend gesê hy was besig om sy vullisdrom uit te sit toe hy ’n harde slag hoor.

“Dit het gelyk asof die son aan daardie kant van die dorp opgekom het.”

Worcester

Gustav Kriel, nog ’n inwoner, sê hy en ’n vriend met ’n winkel in die straat het uit die gimnasium gestap toe hulle die eerste ontploffing gehoor het.

“Ons het geskrik en was bekommerd, toe het ons afgery om te gaan kyk. Toe ons by die kruising met die straat stop, toe kom die tweede ontploffing en skiet die tenkwa in die lug. Ons het gedink ons gaan uitbrand, so warm was dit.”

Kriel sê hulle het om 06:10 opgedaag en die eerste ontploffing om 06:00 gehoor.

“Die slag was so hard, ek het gedink dit is die einde van die wêreld en die vlamme was so erg soos in ’n rolprent. Ons het agter ’n gebou gaan staan en die vlamme was ver bo die tenkwa.”

Die polisie het bevestig dat ’n saak van roekelose en nalatige bestuur en kwaadwillige saakbeskadiging ondersoek word. Niemand is in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Brandbestryders Woensdagoggend in die gebou van een van die ondernemings op Worcester wat ná ’n ontploffing uitgebrand het.Foto: Jaco Marais
Werkers van die Breedevallei-munisipaliteit werk in ’n gat in Hoogstraat op Worcester nadat ’n waterpyp in die ontploffings Woensdagoggend gebars het.Foto: Jaco Marais
Meer oor:  Acdc Express  |  Bike Boutique  |  Bennie Koch  |  Klaas De Vos  |  Worcester  |  Wes-Kaap  |  Skade  |  Ontploffing  |  Tenkwa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.