Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Moedeloosheid laat hom musiek vir siek vrou speel

Moedeloosheid.

Dís wat Lukas du Preez (66), die nou bekende trekklavierspeler, gedryf het om buite die Life Bayview-hospitaal in Mosselbaai musiek te maak vir sy vrou, wat daar vir Covid-19 behandel word.

Die video van hom wat voor die hospitaal staan en speel, is wyd op sosiale media gedeel.

Lukas du Preez (66) met sy trekklavier. Foto: Verskaf

Du Preez, ’n advokaat, sê hy het buite die Covid-19-saal se venster musiek gemaak omdat hy sy vrou, Marinda (64), mis. Dit is die eerste keer in hul getroude lewe van sowat 40 jaar dat dié egpaar van George so lank nie kontak het nie.

Marinda is al sowat twee weke in die hospitaal.

Du Preez sê hy en sy vrou het albei op 30 Junie hul eerste dosis van die Pfizer-entstof gekry, maar sy het rondom 3 Julie siek geword.

“Ons doen alles saam. Nou is sy skielik in die hospitaal op suurstof en ek kan skaars met haar oor die foon praat, want dit maak haar te moeg.”

Du Preez het Vrydagoggend weer voor die hospitaal op sy trekklavier gaan speel. Ander mense van die omgewing en leraars van die gebied het hulle by hom aangesluit om ook vir hul familielede in die hospitaal te bid.

Lukas du Preez (66) en sy vrou, Marinda (64). Foto: Verskaf

Du Preez sê hy het nie regtig gedink dié gebaar sou so baie vir ander beteken nie.

“Ek het dit net gedoen om met my vrou te kan kommunikeer,” sê hy. “Mense vra my om gereeld te gaan, maar ek wil dit nie oordoen nie.”

Du Preez sê hy bespeel al van kleins af die trekklavier.

Sy dogter, Lurinda du Preez Fourie (34), sê baie mense vind aanklank by wat haar pa gedoen het omdat hulle ook “moedeloos” voel.

“Jy kan nie jou geliefdes regtig ondersteun wanneer hulle met Covid-19 in die hospitaal lê nie. Jy kan nie hul hand vashou nie. Jy voel hulpeloos.”

Du Preez Fourie sê haar ma het beslis haar pa se speellys herken, want hy speel gereeld daardie liedjies.

Charlotte Barnard (37), ’n administratiewe klerk van die hospitaal, sê sy is dankbaar vir Du Preez wat hulle so seën met die musiek.

“Al wat ek kan sê, is dankie,” sê Barnard.

“Ek het die boodskappe gesien op sosiale media oor hoe mense deur sy gebaar geraak is. Alhoewel hy net vir sy vrou gespeel het, het hy ook lig in ander se lewens gebring.”

Meer oor:  Lukas Du Preez  |  Mosselbaai  |  Hospitaal  |  Trekklavier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.