Hy is dalk nou verby die fleur van sy lewe, maar Mokoko die gorilla het steeds sy 33ste verjaardag feestelik gevier.
Die Johannesburg-dieretuin het Maandag ’n verjaardagpartytjie vir sy enigste gorilla gehou – kompleet met ’n verjaardagkoek, ’n bak springmielies en rooibostee.

Mokoko stap ingenome met sy verjaardagkoek weg.Foto: Simon Sonnekus
Mokoko is op 9 Julie 1985 in ’n dieretuin in Stuttgart, Duitsland, gebore. Hy is einde 2004 na Suid-Afrika gebring.
Die groot silwerrug het Maandagoggend laat geslaap totdat sy lekkernye om 10:00 vir hom uitgepak is.
Hy is met ’n koek van Monkey Chow, piesangs, makadamianeute en sjokolade-energiestafies bederf. Monkey Chow is ’n tipe pap wat spesiaal vir primate geformuleer is. Los piesangs, groente, ’n groot roomysbak vol springmielies en rooibostee was deel van die feesmaal.

Mokoko se verjaardagkoek het uit Monkey Chow-primaatformule, piesangs, makadamianeute en sjokolade-energiestafies bestaan. Foto: Simon Sonnekus
Mokoko het eers aan die groente en piesangs gepeusel voordat hy die koek en die pienk rose wat hy as geskenk gekry het, ook verorber het.
Hy weeg sowat 200 kg en is 1,8 meter lank as hy regop staan. Gorillas in aanhouding kan tot tussen 40 en 50 jaar oud word.
Volgens Katherine Visser, kurator van die Johannesburg-dieretuin se primate, wil hulle met die viering van Mokoko se verjaardag bewusmaking oor gorillas as spesie skep.
“Hulle is uiters bedreig en het nie meer baie tyd oor as die mensdom so aangaan nie. Gorillas word kritiek bedreig, veral omdat hulle vir hul vleis gejag word, gorilla-kleintjies as troeteldiere in sekere lande verkoop word en weens ontbossing en mynboubedrywighede (wat hul habitat laat krimp).
“Mokoko is in aanhouding, maar hy is ’n ambassadeur vir ander gorillas in die natuur,” sê Visser.
Die dieretuin moedig mense aan om organisasies te steun wat hulle vir die gorillas se beskerming beywer.

Mokoko die gorilla het Maandag sy 33ste verjaardag in die Johannesburg-dieretuin gevier. Foto: Simon Sonnekus

Mokoko teug al te lekker aan die rooibostee wat hy vir sy verjaardag gekry het. Foto: Simon Sonnekus

Mokoko sit op ’n klip en geniet sy verjaardagkoek op sy 33ste verjaardag. Foto: Simon Sonnekus

Katherine Visser, kurator van die primate in die Johannesburg-dieretuin, sit Mokoko se lekkernye vir sy verjaardag uit. Foto: Simon Sonnekus