Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Kyk my gun’ . . . toe sterf jong pa

’n Familiebraai het in ’n tragedie geëindig toe ’n jong pa glo per ongeluk doodgeskiet is met ’n vuurwapen waarmee die gaste gespeel het.

Maar wat Bianca Coetzer (23) nog meer ontstel van haar man, Gerhard (29), se dood, is dat haar familie nou maak asof hy doodgeskiet is deur twee rowers wat oor die muur gespring het.

Bianca Coetzer vertel hoe ’n familielid glo haar man voor haar seuntjie geskiet het. Foto: Elizabeth Sejake

“Hy (die familielid) wou hê ek moes vir die polisie lieg dat Gerhard deur rowers vermoor is. Hy het my beloof om vir my twee kinders te sorg solank ek by die storie hou dat twee rowers oor die muur gespring het en vir Gerhard geskiet het,” het Coetzer die afgelope week in trane vertel.

Die verdagte se naam is aan Rapport bekend, maar word op regsadvies weerhou.

Coetzer vertel sy en haar man het op Vrydag 27 April by die familielid en sy vrou in Middelburg, Mpumalanga, gaan braai om ’n verjaardag te vier. Die Coetzer-egpaar het saam met drie ander volwassenes by die lapa van die familielid se huis gekuier.

‘My driejarige seuntjie het alles gesien.’

“Die oom het vreeslik oor sy vuurwapen gespog en sy hemp ’n paar keer gelig om dit te wys. Hy het ’n paar keer gesê ‘kyk my gun, kyk my gun’ ”.

Dit was in daardie stadium in sy rewolwersak, sê sy.

Coetzer het meestal aandag aan haar kinders gegee omdat hulle in die swembad wou klim. Skielik het ’n skoot afgegaan.

“Ek het omgedraai en na my man gekyk. Hy het net sy kop geskud omdat hy glad nie gelukkig was met die situasie nie.”

Die volwassenes het verder gekuier en sy was weer by die kinders in die swembad. Sowat tien minute later het ’n tweede skoot weergalm. Toe Coetzer weer omkyk, het sy gesien hoe bloed by haar man se neus en mond uitkom. Hy het drie treë gegee en inmekaargesak, sê sy.

“Daar was plasse en plasse bloed en ek kon nie sien waar hy geskiet is nie. Ek het agterna uitgevind hy is in die keel geskiet.

“My driejarige seuntjie het alles gesien en hy het vir my gesê die oom het vir pappa geskiet.
Ek was histeries en het geskreeu hulle moet die ambulans bel. Die oom het net die foon oor die tafel gegooi, maar hy het nie die ambulans onmiddellik gebel nie.”

Bianca en Gerhard op hul troudag.

Sy sê die familielid het haar gekeer om na haar man toe te gaan. “Hy het toe vir my gesê hy is jammer oor wat gebeur het en dat hy na my en die kinders sal kyk. Hy het gesê ek moet vir die polisie sê twee rowers het oor die muur gespring en vir Gerhard geskiet.”

Die polisie het later opgedaag en die familielid het vir hulle gesê daar was rowers, sê sy. “ ’n Polisiebeampte het my eenkant toe geroep en ek het vir hom vertel wat werklik gebeur het.”

Die nooddienste het ná die polisie op die toneel opgedaag en Gerhard op die toneel dood verklaar, sê Coetzer.

Sy het die Saterdag en Sondag by haar huis in Elandspoort, Pretoria, oorgeslaap en die Maandag ’n verklaring by die polisie in Middelburg gaan aflê.

“Ek kry sedertdien geen antwoorde uit die polisie nie.

“Die ondersoekbeampte sê net ek kan nie ’n getuie wees in die saak nie, aangesien ek nie gesien het hoe my man geskiet is toe die skoot afgaan nie.

“Hy sê ook niemand is nog in hegtenis geneem nie omdat die polisie nie die vuurwapen kan opspoor waarmee my man geskiet is nie.

“Ek is bitter oor wat gebeur het. My arme seun is steeds in skok. Elke keer wanneer hy ’n
foto van sy pa sien, sê hy daai oom het sy pappa geskiet.

“Hy dink nog die polisie gaan sy pappa terugbring.”

Sy beskryf haar man as ’n vriendelike mens vol lewe.

“Ons was onafskeidbaar. Ons het begin uitgaan toe ek 15 jaar oud was en ons was vier jaar lank getroud.”

Sy het alle kontak met die betrokke familielid verbreek.

“Hy was voorheen soos ’n pa vir my. Ek wil nou niks met hom te doen hê nie.”

Brig. Leonard Hlathi, ’n polisiewoordvoerder in Mpumalanga, het ontken dat die polisie nie vordering maak met die saak nie. Hy sê die polisie is steeds besig om getuienis in te samel.

Meer oor:  Skietvoorval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.