Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: My uitmuntende vloer van vyfsente

Toe Karmen Swanepoel van Ermelo verlede Augustus ’n foto sien van ’n vloeroppervlak wat met munte uitgelê is, het sy geweet dís wat sy in die braaikamer by haar huis gaan doen.

Sewentig uur en 50 000 vyfsent-muntstukke later skitter die 24 m²-vloeroppervlak bronsblink. Vrou-alleen het dié 36-jarige rekenmeester die munte op die vloer geplak in wat sy beskryf as die “malste projek ooit”.

Sy het die braaikamer in 2018 by haar huis aangebou. Om die vloer te teël­, sou destyds R8 000 kos, toe los sy dit met ’n sementoppervlak.

Verlede jaar het sy in Johannesburg ’n kursus oor die gebruik van epoksiehars geloop omdat sy ’n riviertafel – blou epoksiehars wat in hout gevoeg word – wou maak. “Ná die kursus het ek gedink: ‘Karmen, jy kan dit nie maak nie, jy het nie houtwerkmasjiene nie en kan nie houtwerk doen nie.’ ”

Sy het idees gesoek om haar nuwe vaardigheid aan te wend toe sy op Pinterest ’n foto van ’n vloeroppervlak van Amerikaanse pennies sien.

Teen Junie het ek meer as 48 000 gehad en toe kan ek nie langer wag nie.

“Ons het vyfsente wat nie meer in gebruik is nie en ek het gedink mense sal daarvan ontslae wil raak.”

Sy het die braaikamervloer en die grootte van ’n vyfsent-stuk gemeet, haar somme gemaak en uitgewerk sy gaan sowat 50 000 munte nodig hê.

Sy het in WhatsApps en op Facebook vir muntstukke gevra. “Ek was bereid om geld te ruil daarvoor. Stuk-stuk het mense vir my bietjies-bietjies gebring.”

Sy het ook banke gebel en net by Absa was dié munte nog in omloop. “Hulle neem dit in en stuur dit vir die Reserwebank om te vernietig,” sê Swanepoel. Die vervaardiging van die munte is reeds in 2012 gestaak.

Toe sy verlede jaar vir ’n werksvakansie Kaap toe ry, het sy in al die dorpe by takke van dié bank gestop.

“Teen Junie het ek meer as 48 000 gehad en toe kan ek nie langer wag nie. Ek het ’n bietjie epoksiehars in ’n bakkie gemeng en dit met ’n verfkwas aan die munte geverf en op die vloer gepak.”

Die vyfsentstukke is in perfekte rye op Karmen Swanepoel se braaikamervloer geplak. Sy het die idee op die platform Pinterest gekry nadat sy ‘n epoksiekursus gedoen het. Foto: Deon Raath

Voordat sy begin plak het, het sy seker gemaak die munte lê met hul bokante boontoe. Met ’n bondel in haar hand het sy die munte een vir een in rye en blokke op die vloer geplak.

“Ek het op die vloer gesít: dan op my knieë, dan op my hurke, dan op my boude met my bene gekruis, dan op een been, dan op die ander. Ek het naderhand nie geweet hoe om te sit nie, want jou rug hou dit nie. Ek het nie geweet of ek moet buk of lê of wat nie.”

Sy het haar kat, Fred, se kussinkie onder haar knieë gesit. Later het sy die munte in hopies gepak en die stukke net afgeskuif, wat vinniger gegaan het.

Bo-oor die munte is ’n lagie epoksieverf geverf om die vloer te seël.

Op haar splinternuwe vloer lê nou R2 500 se vyfsentstukke.

Sy het ’n vyftig-vyftig-brein, verduidelik sy haar kreatiewe kant. “Albei kante moet gestimuleer word. Party dae wil ek niks kreatiefs doen nie en ander dae frustreer ’n papier en ’n sakrekenaar my.”

Swanepoel het vroeër vir 13 jaar verjaardag- en troukoeke gebak. Sy is ’n alleenloper. “Dis hoekom ek allerhande sulke nonsens kan aanvang. Niemand verg my aandag nie,” lag sy.

Sy en ’n vriendin besit die onderneming Kiette Rekenmeesters.

Sy beplan nog ’n projek met van die oorblywende munte en wys ’n foto van munte wat met helder emaljeverf geverf en dan gebak word. Dié munte wil sy in rame in die braaikamer ophang. “Ek moet eers sien of ek dit regkry.”

Meer oor:  Karmen Swanepoel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.