Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: ’n Ander leefstyl, ’n nuwe lewe

Van nege borde buffalo wings op ’n slag tot hoogstens een “kroek-ete” per week, van “walvis” op die kantlyn tot gym bunny en van 320 kg tot 138 kg.

Rudi Workel (42), ’n tronkbewaarder in Potchefstroom, sê hy het sy lewe teruggekry.

Vier jaar gelede het hy ’n skrootwerf se skaal op 320 kg laat kreun.

Rudi Workel en sy ma, Bettie, in sy 10XL-hemp van destyds. Foto: Deon Raath

Hy en sy Jessica het in Augustus 2017 besluit om gewig vir hul troue te verloor. Hulle het ’n eetplan gevolg waarvan die etes en porsies oor ’n 28 dae-siklus uitgewerk is. Hy het dit só getrou gevolg dat sy troupak ’n bietjie los gesit het toe hy dit op 92 kg op sy troudag, 23 Februarie 2019, aantrek.

Op die troue kon die familie nie hul oë glo oor die paartjie se gedaanteverwisseling nie, sê Rudi se ma, Bettie (67).

Rudi het 228 kg vir sy troue verloor.

Sy pynlike jig en hoë bloeddruk het opgeklaar. Hy dra ’n gewone uniform van die departement van korrektiewe dienste. Voorheen het Bettie vir hom uit drie uniforms een aanmekaar gestik.

Hy oefen van September laas jaar vyf tot ses dae per week in die gimnasium dat die sweet hom aftap en het spiermassa begin bou. Hy weeg nou 138 kg, maar wil graag van nóg 12 kg ontslae raak – die uitgerekte vel wat hy weet hy sal nie kan weg­oefen nie.

Nou sit hy nie meer op ‘kantlyn’.

Bettie en Rudi pas lag-lag saam in ’n 10XL-hemp wat hy destyds gedra het. Dit vou soos ’n tafeldoek om hulle.

Rudi het aan Rapport gesê op sy gewigtigste moes hy selfs die 10XL-hemde wat hy by ’n winkel in Vanderbijlpark gekoop het, se knope verstel omdat dit begin styf span het.

Rudi het gewig begin optel nadat hy weens beserings opgehou rugby speel het. “Ek is ’n foodie. Ek hou van kos. As ek vir werk gery het, het ek take­aways gekoop.

“Ek sou vir aandete ’n Streetwise 5 by KFC, ’n hamburger, twee groot pizzas en ’n twee liter-Coke koop. En ’n groot pak tjips eet voordat ek gaan slaap.

Rudi Workel en sy ma, Bettie, vou sy 10XL-hemp van destyds soos ’n tafeldoek om hulle. Foto: Deon Raath

“In Vanderbijlpark se Spur het ek een keer nege borde buffalo wings (hoendervlerkies) geëet.”

Maar weens sy groot lyf het hy altyd op die “kantlyn” gesit. “Ek kon byvoorbeeld nie paintball saam met my vriende speel nie.”

Toe hy een keer by ’n KFC uitstap, het ’n student vir hom geskree: “Save the whale!”

Dit het seergemaak. “Ek weet daardie mens se persoonlikheid sal nie verander nie, maar ek weet ek kan iets aan my gewig doen.

“Die Audi waarin ek gery het, se sitplek was heel agtertoe geskuif. Dan het ek steeds gesukkel om in te klim. Die sitplek het gebreek. Toe het ek ’n krat of iets agterin gesit om die sitplek te stut.”

Hy het selfs sellulitis (inflammasie van bindweefsel) in sy onderbene opgedoen. “Dit het veroorsaak dat die vog by my vel uitgekom het. Ek moes antibiotika daarvoor drink.”

Rudi Workel op sy grootste (320 kg) en op sy kleinste toe hy 92 kg geweeg het.

Hy moes ook medikasie vir sy hemelhoë bloeddruk drink. “Ek was op die sterkste dosis vir my bloeddruk.”

Ná die gewigsverlies was die ystervlak in sy bloed te laag, het die dokter gesê. Volgens die dokter het hy te vinnig gewig verloor en daarom galstene ontwikkel. Sy galblaas moes verwyder word.

Rudi eet sedertdien groter porsies. Hy werk uit hoeveel kilojoules hy per dag moet inneem terwyl hy in die gimnasium meestal met gewigte oefen. “Ek stap ook 45 minute tot ’n uur teen ’n helling op die treadmill.”

Hy weeg tans 138 kg en “is vol energie”, sê hy. “Ek sal net een keer per week ’n kroek-ete hê.

“Ek het nog nooit suiker- of cholesterolprobleme gehad nie. Ek drink nie meer bloeddrukpille nie.

“Gelukkig het ek nie ’n soettand nie. Jy sal my nie vang met ’n stuk koek nie.”

Die los vel aan sy lyf hou hy onder sy T-hemp bymekaar met ’n styfpassende kledingstuk.

“Die velle maak rashes en skaaf my. Ek voel goed omdat ek vet verloor het, maar as jy die vel in die spieël sien, is jy nog teleurgesteld.”

Hy wil “eendag” bitter graag ’n operasie ondergaan om die vel te laat verwyder, maar dis baie duur.

Dis nie ’n dieet waarop hy is nie. “Dis ’n lewenstyl.”

Meer oor:  Rudi Workel  |  Potchefstroom  |  Oorgewig  |  Verslanking  |  Dieet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.