Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Naln se ‘nuwe kaptein’ verwelkom
Die Ketelkelder, Naln se nuwe boekekelder-en-winkel, is ook Saterdag bekend gestel. Hier bekyk prof. Jaap Steyn (80) die boeke van nader. Hy is die skrywer van die digbundel Grammatika van liefhê. Foto: Cheréne Pienaar

Die kaptein is op pad na die eiland van Groot en Groei.

Só is Wyno Simes (52) Saterdagoggend as die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln) se assistentdirekteur en kurator bekend gestel.

Leana Lategan, hoofvakkundige van Naln, het met sy bekendstelling uit Die groot klein kaptein, ’n gewilde Nederlandse kinderboek vertaal deur Daniel Hugo, voorgelees en die parallelle tussen die hoofkarakter en Simes getrek.

Paul Colditz, voorsitter van Naln, Wyno Simes, assistentdirekteur en kurator, en Corlietha Swart, ondervoorsitter, op die instansie se jaarvergadering wat Saterdag gehou is. Simes is as die nuwe assistentdirekteur en kurator ingehuldig. Foto: Cheréne Pienaar

Die boek is deur Paul Biegel, beroemde Nederlandse kinderboekskrywer, geskryf.

Dr. Johan Cromhout, begaafde Bloemfonteinse pianis, het drie stukke gespeel om die bekendstelling in te lui.

“Mense vra die kaptein waar die eiland is, dan sê hy hy is eers besig om sy boot reg te maak.

“Nou Wyno, dit is waarmee jy op die oomblik besig is,” het Lategan gesê.

Simes, wat reeds van 1 Oktober by hulle aangesluit het, sê hy is opgewonde oor sy rol by Naln.

Die “vreeslik vakkundige” werk moet volgens Lategan eers wag.

Die instansie, ’n bewaarplek vir materiaal en inligting oor die geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde en musiek, is al deur diep waters, sê Simes.

“Baie dankie vir die mense wat Naln staande gehou het terwyl Otto weg was.”

Otto Liebenberg, die vorige assistentdirekteur en kurator van 35 jaar, het twee jaar gelede bedank en is toe ’n jaar daarna oorlede.

Ook Simes het nostalgies oor ou kinderboeke in sy bedankingstoespraak geraak.

Wyno Simes en Corlietha Swart by Albert Troskie (84), een van die oudste Vriende van Naln. Foto: Cheréne Pienaar

Hy het onder meer na gunstelinge soos Die avonture van Kuifie, Cor Nortjé se Tekkies-reeks, en W.A. de Klerk se Skarlaken Eskader verwys.

Corlietha Swart, ondervoorsitter, het die Ketelkelder (ou kolekamer in die staatsgebou) se sleutel as verwelkoming aan hom oorhandig.

Dié kelder is ook Saterdag geopen. Die publiek kan nou kosbare ou boeke teen spotgoedkoop daar koop.

Een van Simes se doelwitte vir Naln is om die Leeskringseminaar, wat destyds in Welkom gehou is, by Naln te laat herleef.

“Die grys skipper gaan weer huis toe en die seuntjie gaan na die kajuit om sy waentjie te haal. Dis ’n ou houtkis met wiele, maar dit hang so ’n entjie skeef omdat een van die wiele aan ’n fiets behoort het en die ander aan ’n draaiorreltjie,” het Lategan gelees.

Simes, oorspronklik van Bloemfontein, se eerste werk was by Naln, toe hy in 1991 as die assistent-museumgeesteswetenskaplike begin het.

Hy het die afgelope 22 jaar in Kaapstad gewoon, waar hy onder meer senior subredakteur by Media24 was.

“Wyno, ek glo jou oë is, net soos die Klein Kaptein s’n, reeds op die horison.

“Ek glo die magdom goeters wat jy in daai karretjie gelaai het, waarvan die wiele kraak en krap, sal jou uitbring waar jy wil wees,” het Lategan gesê.

Paul Colditz, voorsitter, het ná Simes se bekendstelling ook die res van die bestuur met ’n informele stemproses deur die Vriende van Naln herverkies.

Simes by sy ma, Babs (89), wat ook die oggend by Naln meegemaak het. Foto: Cheréne Pienaar
Paul Colditz, voorsitter van Naln, Wyno Simes, assistentdirekteur en kurator, en Corlietha Swart, ondervoorsitter, op die instansie se jaarvergadering wat Saterdag gehou is. Simes is as die nuwe assistentdirekteur en kurator ingehuldig. Foto: Cheréne Pienaar
Die Ketelkelder, Naln se nuwe boekekelder-en-winkel, is ook Saterdag bekend gestel. Foto: Cheréne Pienaar

Meer oor:  Boek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.