Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Nkululeko (25) vlieg nou hoog, mik nog hoër

As ’n jong spruit het hy altyd na die vliegtuie by die destydse Jan Smuts-lughawe gekyk en geweet hy wil eendag ’n vlieënier word.

Jare later leef Nkululeko Sokweba (25) sy drome uit en sweef tussen die wolke.

“My pa was ’n skoonmaker vir Fidelity by die lughawe en ek het dikwels oor naweke saam met hom werk toe gegaan. Ek het gereeld by die uitkykpunt gestaan en my vergaap aan die vliegtuie. Daar het ek besluit, al is dit amper onmoontlik, sal ek eendag een van hulle vlieg,” sê Sokweba.

Nkululeko Sokweba (25) by een van die vliegtuie in Thompson Aviation se vliegtuigloods. Foto: Simon Sonnekus

Hy is nou een van drie vlieginstrukteurs by Thompson Aviation by die Wonderboom-lughawe in Pretoria, maar moes ’n moeilike pad stap om daar uit te kom.

“Ek het my ná skool ingeskryf vir ’n onderwysgraad aan die Universiteit van die Witwatersrand omdat dit te duur was om onmiddellik by ’n vliegskool te begin. Ek het toe twee jaar geswot voordat ek uiteindelik opgeskop het toe ek in 2013 ’n plek in die SAL se kadet-akademie gekry het.”

By die akademie kon hy die eerste keer in 2014 vlieg.

“Ek sal nooit daardie dag vergeet nie. 17 Mei 2014. Ek kan selfs die vlugnommer van Johannesburg na Oos-Londen onthou. Ek was aanvanklik bang dat wanneer ek vir die eerste keer vlieg, ek dalk bang sal wees vir hoogtes of so iets, maar toe ons eers in die lug is, het ek vry gevoel. Dit het gevoel asof ek sweef oor al die hindernisse wat die lewe uitgedeel het.”

Nkululeko Sokweba (25) wou al vlieg vandat hy as jongeling saam met sy pa werk toe gegaan het by die destydse Jan Smuts-lughawe in Johannesburg. Foto: Simon Sonnekus

Sokweba het nou sy kommersiële vlieglisensie en bou ure op by die skool waar hy jonger vlieëniers oplei en mentor, maar hy sê die gevoel wat hy kry wanneer ’n vliegtuig opstyg, het nog nooit verander nie.

“Elke liewe keer kry ek vlinders in my maag as ek voel hoe die vliegtuig van die grond af opstyg,” sê hy.

Sokweba hoop om in die toekoms nie net ’n aangewese vlugbeampte by die Burgerlugvaartowerheid te word nie, maar ook om ’n doktorsgraad in fisika te kry.

“Ek wil ’n insae hê in lugvaartontwikkeling in Suid-Afrika. My droom is ook om vir mense te verduidelik hoe fisika lugvaart beïnvloed,” sê hy.

Nkululeko Sokweba (25) hoop om eendag ’n aangewese vlugbeampte vir die Burgerlugvaartowerheid te word, maar om ook sy doktorsgraad in fisika te kry. Foto: Simon Sonnekus

Buiten dat hy sy eie droom uitleef, het hy ook vir sy pa die kans gegee om saam met hom te vlieg.

“Ek het my pa eendag saam laat vlieg na Carletonville. Dit was die eerste keer dat hy in ’n vliegtuig was en ek kon toe vir hom die Johannesburgse middestad, Sandton en Soccer City uit die lug wys. Hy het dit ongelooflik baie geniet. Ek het nie eens daarvan geweet nie, maar hy het ten tyde van die vlug foto’s van my op sy selfoon geneem en dit vir almal in die buurt gewys. Hy is besonder trots op my,” sê Sokweba.

Die enigste nadeel van die vlug saam met sy pa, is dat hy nou geleenthede eis.

“Hy het nou die dag daarop aangedring dat ek hom met die vliegtuig Nelspruit (Mbombela) toe moet neem om vir sy familie te kuier. Ek moes maar aan ’n verskoning dink.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.