Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: O, maggies, daar sink my gehuurde motor!

Ja, dié motor is beslis bestuur soos wat ’n mens ’n gehuurde motor bestuur.

Dit was van die kommentaar onder omstanders toe ’n Amerikaanse toeris Vrydag sy duiktoerusting by Neptune’s Divers and Cruises se kantoor in die nuwe hawe in Hermanus gaan haal en die Hyundai wat hy bestuur het in die water beland het.

Duikers van Neptune’s Divers and Cruises en hul bure BS Divers het Vrydag die motor wat in die nuwe hawe in Hermanus se water beland het, help vasmaak. Daarna is dit met ’n hawehyskraan uitgelig. Foto: Martin Etsebeth

Marx Mohr, eienaar van Neptune’s, sê die toeris is gelukkig nie beseer nie. Die Amerikaner was Donderdag uit op die see met een van Neptune’s se duik-uitstappies en hy het sy duikklere by Neptune’s gelos om droog te word.

Vrydagoggend het hy daar aangekom en wou gou by Neptune’s ingaan om sy duiktoerusting te kry, toe iets gebeur het wat hy seker moeilik aan die huurmotormaatskappy sal kan verduidelik.

Enige versekeraar se nagmerrie – ’n gehuurde motor wat in ’n hawe se water beland. Foto: Martin Etsebeth

Dit blyk dat hy vergeet het om die motor se handrem op te trek en minute later was die motor onder die water.

Makayla Mohr, Marx se vrou, was in die kantoor toe die motor in die water verdwyn het.

Sy sê die stuurwiel van die Hyundai was in ’n gedraaide posisie en dit het beteken dat die motor net mooi skuins om twee sementkeerblokke kon draai en die water in is, in ’n deel van die hawe wat sowat 4,5 m tot 5 m diep is.

Die gehuurde motor wat deur ’n Amerikaanse toeris by die nuwe hawe in Hermanus geparkeer is sonder dat die handrem opgetrek is, is weer op droë grond nadat dit uit die water gelig is. Foto: Martin Etsebeth

“Dit was een van daardie o-maggies-oomblikke,” sê Makayla.

Daar moes eers gewag word vir die versekeraars om die toneel te besoek, waarna duikers van Neptune’s en hul bure, BS Divers, die motor met ’n hawehyskraan na bo kon lig.

Die spelling van die kennisgewing daar gelaat – dit het in elk geval nie verhoed dat ’n gehuurde motor Vrydag in die water van die nuwe hawe in Hermanus beland nie. Foto: Martin Etsebeth
Die hawe is sowat 5 m diep waar die gehuurde motor Vrydag ingeloop en toe onder die water verdwyn het alvorens dit met ’n hyskraan uitgelig is. Foto: Martin Etsebeth
Die huurmotor van ’n Amerikaanse toeris word uit die water in die hawe gehys. Foto: Martin Etsebeth

Makayla sê dit was ’n drama, maar darem nie ’n gevaarlike drama nie. Omstanders wat die hele petalje gade geslaan het, het allerlei kommentaar gelewer.

Alles het baie vinnig gebeur. “Dit is een toeris wat beslis ’n ander tipe Afrika-avontuur het om by die huis te gaan vertel,” sê Makayla.

Marx sê hierdie soort ding is nie iets nuuts by die hawe nie. Die hawe eis sowat een voertuig per jaar, maar gewoonlik is dit mense wie se voertuig in die water beland terwyl hulle besig is om bote in die water te laat.

Meer oor:  Hyundai  |  Hermanus  |  Toeris  |  Hawe  |  Motor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.