Ons lewe op aarde is ’n reis na die hemel, die nuwe Jerusalem.
Ds. Wollie Grobler, leraar van die NG Klipkerk in Bloemfontein, het in Sondag se erediens só die betekenis van die wêreldtreffer “Jerusalema” van die musikant Master KG opgesom.
Die lied het ’n groot roering op sosiale media veroorsaak en talle mense neem deel aan die aanlyn dansuitdaging wat daarmee gepaard gaan.
Grobler het dieper gedelf om die betekenis van die treffer aan sy gemeentelede te verduidelik, terwyl hy sommer die dansie ook demonstreer het.
“Hier op aarde sal ons altyd op soek wees na iets groter, na iets meer. Ons tuiste is nie hier nie,” sê hy.

Ds. Wollie GroblerFoto: Marita Herselman
Dít, sê Grobler, is wat die “Jerusalema”-liedjie ook vir luisteraars wil vertel.
“Die woorde vertaal na ‘Jerusalem is my home. Save me. He went with me. Do not leave me here’.
“Dis ’n gebed wat weereens daarop dui dat ons net besoekers op aarde is op ons pad huis toe, hemel toe.”
Grobler het verder gesê dat hoewel die aarde nie gelowiges se vir-altyd-tuiste is nie, die Here steeds hier teenwoordig is in ons lewens.
“In die Skrif het die stad Jerusalem beteken ‘ ’n plek van vrede’ en hoewel ons ewige vrede in die hemel sal ervaar, moet ons steeds vir ons vrede op aarde skep.
“Ons moet in vrede lewe. Vrede met onsself en met ander, maar moet ook elke dag in God se vrede rus.”