Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Ooreenkoms bereik met taxi-groepe

Ná weke se onderhandeling met taxiverenigings in Kaapstad waarin gemoedere soms hoog geloop het, is daar uiteindelik Maandag ’n ooreenkoms bereik oor die pad vorentoe.

Fikile Mbalula, minister van vervoer. Foto: Twitter

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het met Daylin Mitchell, Wes-Kaapse LUR vir vervoer, asook lede van die Cape Amalgamated Taxi Association (Cata) en die Cape Organisation for the Democratic Taxi Assocation (Codeta) vergader en die partye het ’n ooreenkoms onderteken.

Ná die ondertekening van die ooreenkoms het Mbalula aangekondig alle wettige lisensiehouers vir roetes van en na Mbekweni, behalwe vir roete B97 tussen Mbekweni in die Paarl na Bellville, moet hul dienste hervat soos gemagtig deur hul lisensies.

“Die roetes sal gemonitor word en optrede sal volg teen verenigings en individuele lisensiehouers wat die instruksie oortree,” het Mbalula op ’n nuuskonferensie gesê.

Hy het bygevoeg wanneer roete B97 heropen, sal net wettige lisensiehouers toegelaat word om dit te gebruik.

“Geaffekteerde munisipaliteite sal versoek word om ’n moratorium te plaas op die uitreik van nuwe bedryfslisensies en aansoeke vir alle geaffekteerde roetes,” sê Mbalula.

“Indien die munisipaliteite die behoefte aan bykomende dienste op roete B97 aandui, sal bedryfslisensies volgens die arbitrasie-toekenning toegedeel word.”

Mbalula sê hulle gaan voort met die ondersoek na oortredings wat in die laaste weke plaasgevind het, asook die probleem met roete-kruisings.

As daar verdere gewelddadige voorvalle plaasvind, sal alle geaffekteerde roetes wat deur die twee verenigings bestuur word, gesluit word vir ’n tydperk waarop die LUR sal besluit. Alle bedryfslisensies sal ook opgeskort word.

Daylin Mitchell, Wes-Kaapse LUR vir vervoer. Foto: Twitter

“Dit word gedoen in die belang van gemeenskapsveiligheid,” sê Mbalula. “Die dienste van alle ander verenigings wat geweldsdade aanmoedig, sal ook opgeskort word, of die vereniging sal gederegistreer word.”

Mbalula sê ook die dienste van alle verenigings wat verbonde is aan ’n streek buite sy geografiese gebied, sal opgeskort word.

“Die regering gaan die polisie ook vra die aanhoudende geweld te ondersoek en aangemelde sake te prioritiseer.

“Wetstoepassingsvermoë en -ontplooiing sal in die betrokke gebiede hersien en versterk word om te verseker dat alle wette sonder aansien des persoons toegepas word,” sê Mbalula.

Hy voeg by wetstoepassers sal alle aantygings oor korrupsie of begunstiging ondersoek.

“As regering is ons verplig om te verseker dat die oppergesag van die reg te alle tye seëvier. Ons neem die verantwoordelikheid ernstig op en sal nie toelaat dat die landswette ondermyn word nie,” sê Mbalula.


Meer oor:  Fikile Mbalula  |  Kaapstad  |  Taxi-Verenigings  |  Ooreenkoms
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.