Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Oproer toe plakkers uit Glen Marikana moet trek

’n Inwoner van Kempton Park het Maandag sy vuurwapen uitgepluk toe ’n betoger glo sy voertuie onder klippe wou steek.

“Ek was in my lapa toe ek op die kamera sien een van hulle staan by my hek. Hy wou my karre met bakstene gooi. Ek het my geweer gegryp en uitgehardloop. Toe hardloop die betoger weg,” sê Mark Lodder.

Dié betoger was een van sowat 100 mense wat die oggend deelgeneem het aan protesoptogte omdat hulle uit hul plakkerskamp in die rykmansbuurt Glen Marais moet trek.

Die grondbesetters wat al die afgelope vier jaar onwettig op private eiendom plak in ’n gebied wat hulle Glen Marikana gedoop het, het uitsettingsbevele gekry en van hulle het Maandag na hul nuwe tuiste getrek.

Dit volg nadat die hooggeregshof in Johannesburg in 2018 opdrag gegee het dat die Ekurhuleni-metro alternatiewe verblyf vir die inwoners soek.

Lesiba Mpya, Ekurhuleni se burgemeesterslid vir menslike nedersettings, sê die metro voer bloot die opdrag van die hof uit. “Ons doen wat die hof ons beveel het om te doen.”

Die polisie en metropolisie was Maandag daar toe inwoners van die onwettige plakkerskamp genaamd Glen Marikana moes trek. Foto: Deaan Vivier

Kobeli Mokheseng, woordvoerder van die Ekurhuleni-metropolisie, het by navraag gesê die protesaksies van die oggend was teen die middag iets van die verlede. Lede van die polisie en metropolisie was die hele dag daar.

Mpya sê daar was slegs ’n handjievol mense by die protesaksie betrokke.

“Dit is ’n groepie inwoners wat nie wil trek nie, want daar is slumlord-aktiwiteite aan die gang. Die slumlords het geld gemaak uit ander inwoners,” sê Mpya.

Volgens Mpya het sowat 24 gesinne op die eerste dag getrek, maar sowat 5 000 inwoners moet trek. Die metro help die mense met vervoer.

Hoewel daar nie ’n datum is vir wanneer die inwoners finaal moet uit wees nie, is dit so dat almal moet trek, sê Mpya.

“Hulle verhuis na tydelike behuising, terwyl die metro aan ’n langtermynplan werk,” sê Mpya.

Winste tuimel oor informele nedersetting

Desire Venter, bestuurder by die Witwater-gastehuis oorkant die onwettige nedersetting, sê sy het Maandag omstreeks 09:00 bewus geraak van die protesaksie.

“Gelukkig het ons geen skade gely nie.”

Sy sê die mense het al in 2016 die grond beset en die gastehuis se winste het sedertdien getuimel.

“Ons het in 2009 geopen en taamlik goed gevaar. Nou is mense bang om hier te bly. Internasionale gaste bespreek by ons en as hulle hier aankom, kanselleer hulle byna onmiddellik hul verblyf.”

Tog was daar nog geen moeilikheid sedert die mense die grond begin beset het nie, sê sy.

Yolandi Groenewald, nog ’n inwoner van dié omgewing, sê Danweg was Maandag gesluit en Monumentstraat was vol rommel toe sy daar verby ry.

Sy sê sy kon ook sien dat ’n klein waghuis gebrand en onder betogers deurgeloop het.

’n Skermgreep uit ’n video wat die Ekurhuleni-metri op Twitter gedeel het. Inwoners se meubels word op ’n vragmotor gelaai.Foto:
plakker
Die metropolisie hou ’n ogie oor gebeure toe inwoners van die onwettige plakkerskamp Glen Marikana Maandag moes begin trek. Foto: Deaan Vivier

Meer oor:  Kempton Park  |  Plakkers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.