Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Optog teen plaasaanvalle verloop vreedsaam

Bolle rookwolke, plakkate en betogers wat weier om uitmekaar te staan, was Saterdagoggend aan die orde van die dag toe honderde mense in Pretoria en Kaapstad teen plaasmoorde betoog het.

Gemaskerde polisielede het gevra dat die betogers uitmekaar staan om gesonde afstande te kan handhaaf, maar die betogers het geweier. Daar was ’n hewige woordewisseling, maar geen voorvalle is aangemeld nie.

Sowat 300 Gautengers het negeuur die oggend voor die geslote hekke van die Voortrekkermonument byeengekom om tot by die Uniegebou in Pretoria te stap en ry, en in Kaapstad het honderde mense by die McDonald’s in Keizergracht byeengekom om tot by die parlement te stap.

Hendrik, Betsie en Thinus (11) Jooste betoog by die Uniegebou teen plaasmoorde. Foto: Deaan Vivier

Vragmotorbestuurders, motoriste, motorfietsryers asook mense te voet het met plakkate protes aangeteken teen die vlaag plaasaanvalle en -moorde in Suid-Afrika.

Clinton Barrett, een van die betogers in Pretoria, sê dit was ’n rustige optog.

Toe die paar honderd mense stuk-stuk opdaag by die geslote hekke van die Voortrekkermonument, was daar reeds polisievoertuie, sê hy.

“Die polisie het ons in ’n stadium gevra om te versprei om gesonde afstande te handhaaf, het die mense geweier, want hulle meen dit is hul grondwetlike reg om daar te wees.”

Hy het egter bygevoeg dat die polisie “baie gaaf en akkommoderend” was.

Jan Janse van Rensburg (20), ’n landbou-student by Tukkies, bid vir die land en dank die Here dat daar mense opgedaag het om ’n standpunt teen plaasaanvalle en -moorde in te neem. Foto: Deaan Vivier

Barrett verteenwoordig ook die End Lockdown-veldtog wat tans 7 000 lede het.

Jan Janse van Rensburg (20), ’n boer van Vaalwater in Limpopo en landboustudent aan die Universiteit van Pretoria, sê die polisie was glad nie aggressief nie.

“Daar het genoeg mense opgedaag, maar as dit nie was vir die feit dat die polisie Donderdag gesê het dis teen die wet om optogte te hou nie, sou daar veel meer wees.

“Ek wou maar net ’n gesig bygooi om te wys ek steun die saak.”

Toe daar geleentheid vir gebed was, het hy op sy knieë gegaan en die Here bedank vir die mense wat wel opgedaag het. “Ek het ook gevra dat Hy Suid-Afrikaners help om deur die moeilike tyd te kom.”

’n Bakkie waarop ’n Vierkleur-vlag wapper, ry saam met ’n konvooi in protes teen plaasmoorde. Foto: Deaan Vivier

Hendrik Jooste was daar saam met sy vrou, Betsie, en seun, Thinus.

“Hy sê hy is teleurgesteld dat daar so min mense was. Ten minste kon ons ’n punt bewys.”

In die Kaap het Debbie Els die optog gelei.

Die betoging in albei stede rondom 13:30 geëindig.

Isaac Mahamba, woordvoerder van die Tshwane-metropolisie, het Saterdagmiddag gesê hy gaan later die dag ’n verklaring uitreik oor die optog.

Meer oor:  Kaapstad  |  Pretoria  |  Plaasaanvalle  |  Optogte  |  Vreedsaam
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.