Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: ‘Oranjerivier laat hom nie keer’

’n Noodkeerwal wat in Keimoes langs die Oranjerivier gebreek het, het Vrydagoggend wingerde en ’n pad laat oorstroom.

“Die Oranjerivier ken geen grense nie en laat hom nie keer nie,” het Dorien Botha, ’n boervrou van Keimoes, Vrydag gesê.

Talle wingerde en landerye langs die rivier van Upington tot in Keimoes het oorstroom nadat die rivier die afgelope drie dae aansienlik gestyg het.

By Keimoes het 'n noodkeerwal gebreek en die rivier het wingerde en ’n pad oorstroom. Foto:Anena Burger

Die rivier het Vrydag ’n hoogtepunt in Upington bereik.

Volgens die Oranje-landbou-unie, wat boere in die omgewing daagliks op hoogte hou oor die toestande langs die rivier, het die rivier Vrydagoggend ’n hoogte van 5,975 m in Upington bereik en teen 2 735 kubieke meter per sekonde gevloei.

Die Oranjerivier Vrydagoggend by Upington. Foto: Anena Burger

By Prieska het die rivier met 20 cm tot 5,429 m gedaal.

Die Augrabies-waterval het teen 1 222 kubieke meter per sekonde gedreun. Genevieve Maasdorp, Sanparke-woordvoerder, sê na verwagting behoort die waterval teen Maandag teen net minder as 3 000 kubieke meter per sekonde te vloei.

Die Oranjerivier het Vrydag by Upington sy piek bereik voordat die water begin sak het.Foto: Anena Burger

Sy sê die park word oorval deur oproepe van mense van oor die land heen wat die Augrabies-waterval -Nasionale Park wil besoek.

“Ons is so opgewonde dat ons hierdie natuurwonder met hulle kan deel.”

Sy vra dat mense wat bel geduldig moet wees en bel tot hulle deurkom.

“Die telefoon hou nie op lui nie en is soms beset terwyl ons almal probeer akkommodeer.”

Die Oranjerivier by Upington. Foto: Anena Burger

Die Vaaldam is nou 87,8% vol en behoort binne die volgende vier dae die 100%-merk te bereik.

Die Bloemhofdam is 103,1%, die Gariepdam 112,2% en die Vanderkloofdam 111,1% vol.

Volgens die Oranje-landbou-unie vloei die Oranjerivier by Aliwal-Noord teen 1 061 kubieke meter per sekonde en water verlaat die Welbedachtdam teen 1 450 kubieke meter per sekonde. Dit het beteken die invloei na die Gariepdam was Vrydag hoër as wat dit Donderdag was en dit sou nog ’n bietjie toeneem.

Landerye langs die Oranjerivier het oorstroom.Foto: Anena Burger

By Kanoneiland, tussen Keimoes en Upington, het die boere en die besproeiingsraad Donderdagaand ’n plan beraam om te keer dat die Eendragbrug oor die Oranjerivier oorstroom.

Baie rosyntjies en druiwe moet nog oor die rivier vervoer word en die water het gevaarlik naby die ryvlak opgestoot.

Die Oranjerivier het tot by die stalle van die Blue Eye Appaloosa-plaas opgestoot. Foto: Anena Burger

Die brug is Donderdagaand omstreeks 18:00 vir verkeer gesluit en ondernemings soos Ludik Grondverskuiwing en Van Zyl’s Blasting het met groot werktuie growwe gruis ingery en die ryvlak op sy laagste punt in die rivier opgevul sodat dit steeds begaanbaar is vir voertuie.

Die plan het goed gewerk en die brug het nie oorstroom nie. Boere het Vrydag steeds met hul sleepwaens en vragmotors hul oeste oor die brug vervoer.

Die Eendragbrug by Kanoneiland is Donderdagaand met growwe gruis op sy laagste vlak opgevul om te verseker dat dit begaanbaar sal bly. Foto: Anena Burger
Meer oor:  Oranjerivier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.